Tans is een gonswoord besig om paniek in ons land en
oor planeet aarde te laat woed soos ‘n veldbrand in droë gras: Corona. Wat
aanvanklik onbeduidend was, het oornag paniek gesaai in baie lande, in so mate
dat drastiese reëlings in Suid Afrika aangekondig is om die verspreiding
daarvan te bekamp, net soos in vele ander lande. Die voorkoms en simptome van die virus word
wyd gepubliseer. 162000 mense wêreldwyd is huidig geinfekteer.
Wat baie insiggewend is, is die emosies rondom Corona.
Sosiale media is ‘n kragtige medium om mense óf
valslik gerus te stel dat die virus sommer maar ‘n nietigheid is, niks erger as
‘n ligte griep nie, óf die hele saak word totaal uit verband geruk. So het een Watsapp-boodskap die uitbreek van
die virus geproklameer as die Derde Wêreldoorlog wat aangebreek het, en wat in
‘n fabriek in China gefabriseer is. Die ontvangers van die boodskap word ten
sterkste aangeraai om hulle watervoorrade aan te vul, gasapparate gereed te
kry, medisyne, ammunisie en kosvoorrade vir twaalf maande op te gaar.
Interessante gedagte, diè van kosvoorrade, as in ag
geneem word dat die meeste gemiddelde huishoudings fyn moet begroot om die
basiese kosvoorrade vir een maand aan te koop.
Ook radioprogramme spandeer baie tyd aan inbelprogramme waar mense soms
opinies lug wat grens aan die absurde oor die Coronavirus. ‘n Oom verklaar hard en duidelik op RSG dat
God die virus in China laat begin het omdat hulle nie in die Bybel glo nie, en
ons moet sien wie gaan sterf. Hyself
gaan nie geinfekteer word nie, omdat hy ‘n Christen is, meen hy.
Die staatspresident se keuse was openlike inligting en
kommunikasie. Kerke en mense vanoor die hele bevolkingspektrum in Suid Afrika
moet duidelik hiervan kennis neem. Die mees weerloses in die samelewing moet
geidentifiseer word, en deur ‘n kalm benadering moet die uitdagings, waarvan
daar vele is, aangepak word. Dink maar
aan die totale onmoontlikheid om geinfekteerde mense te isoleer wat in ‘n
plakkergemeenskap woon waarin tot tien mense in ‘n sinkhuisie bly wat een meter
van die omringende sinkhuisies af staan.
Of die reeds oorlaaide klinieke en staatshospitale wat oorstroom word
deur nuwe aanmeldings. Maar, om
voortdurend klem te lê op die moontlike skrikwekkende scenarios, en allerande
strooipoppe op te stel, gaan ‘n verwoestende uitwerking hê op die psige van
Suid Afrikaners.
Negatiewe emosie is ‘n verwoestende fenomeen. Om vooraf gebeure te voorspel op grond van
wat moontlik kan gebeur, kan alle rasionele denke, selfs geloof, by die venster
laat ontsnap. Uiteindelik moet selfs die mees nugtere denke, selfs ook goeie
teologie, swig voor die onblusbare vlam van emosie.
Ek het dit baie duidelik gesien by die sitting van die
Algemene Sinode van die NG Kerk in 2004 in Hartenbos. Daardie hele week was spanning aan die opbou
oor die een saak wat fel emosies wakker maak: die kerk se amptelike beleid
teenoor persone met ‘n homoseksuele oriëntering. Die
verwagtinge van die debat wat die Woensdagaand gevoer sou word, was buite
perke. Tydens etes en teebreuke was dit
die een onderwerp wat dikwels met kalmte, maar ook met driftigheid bespreek
is.
Toe die
debat uiteindelik vir deelnemers van die vloer af oopgestel is, was daar reeds
‘n lang ry van afgevaardigdes by die mikrofoon wat hulle standpunt wou stel.
Die eerste spreker, toevallig ‘n ouderling van my gemeente in die Noord-Kaap,
was sigbaar ontsteld en opgewerk toe hy aan die woord kom. Bybel in die een hand omhoog, met geswolle
nekare en blitsende oë, het hy oor die klankstelsel in die Dolfynsaal gebulder:
“Die Bybel sê!!!!” En daarmee elke vers wat oor die onderwerp handel, met vuur
en drif aangehaal. Totaal buite konteks.
Na sy vurige
tirade, en nadat die moderator hom ‘n paar keer tot orde moes roep, was daar ‘n
geskokte stilte. Selfs die anti-gay
groepering in die vergadering het gevoel dat dit totaal ongehoorde gedrag en
woorde was. Veral vir die hoogste
kerklike vergadering. Iewers het emosie geperforeerde grense oorgesteek. Die
hele debat het ‘n ander wending begin neem daarna. Daar het ‘n onmiskenbare soeke na deernis en
begrip in die vergadering gekom.
Die algemene sinode se afgevaardigdes, wat die kerk se
beleid bepaal, het ‘n baie sagter besluit geneem oor die saak nadat die eerste
spreker alle rasionaliteit verwoes het met sy emosies. Veral ook nadat die skriba van die
vergadering aan die einde van die debat gevra het vir ‘n spreekbeurt, en met
groot deernis en seer vertel het van sy vier seuns, en hoe hy na sy vrou se
afsterwe moes worstel met die realiteit dat sy jongste seun gay is. “Ek het
gehoor dat die een broer hom met klippe wil doodgooi, soos die teks uit die ou
Testament wat hy aangehaal het, dit stel.
Ek sal my seun laat kom vanaand uit Pretoria, dan kan
jy die eerste klippe gaan optel om te gooi.
Maar eers sal jy my moet doodgooi, want ek gaan voor hom staan, en ek
sal hom met my lewe beskerm, want hy is my kind en ek is lief vir hom.” Daar
was nie een droë oog onder die 400 afgevaardigdes nie. Toe het die skriba afgesluit. “In hierdie saal
is baie mense vanaand wat met dieselfde ding worstel. Ek nooi jou uit om netnou na my toe te kom,
en styf teen my te kom staan, sodat ek en jy bietjie van ons seer op mekaar kan
laai.” Hy was omring deur ’n klomp mense na die vergadering. Negatiewe emosie
verwoes rede. Dit verwoes getuienis van
jou geloof. Dit verwoes mense.
Laat jou hart nie ontsteld word nie, glo in God, sê
die Skrif.