Thursday, April 18, 2024

GoedgeKeur – Is jou skool?

Bookmark
Bookmarked

Laerskool Goedehoop is GoedgeKeur!

Is u skool GoedgeKeur? Wanneer ‘n ouer op soek is na ‘n skool, is daar verskeie aspekte waarna gekyk moet word. Daar is soveel vrae waarop antwoorde gesoek word en ouers is altyd bekommerd of die regte besluite rondom hul kinders se opvoeding geneem word. Kom ons identifiseer van hierdie aspekte en voorsien die antwoorde op hierdie belangrike besluite. Wat is by jou skool GoedgeKeur?

Wat wil jy met skoolvoorbereiding bereik?

Jy wil seker maak jou kind voel positief oor skool en daarna uitsien om skool toe te gaan, dat kleinding inpas by die ander maats en goed met die juffrou oor die weg kom. Om genoegsame selfvertroue te hê om roetinebedrywighede te hanteer en emosioneel en prakties onafhanklik en sonder hulp self reg te kom en hul volle potensiaal te bereik.

Is my kind veilig by die skool?

Kinders is ouers se kosbaarste besitting. By Laerskool Goedehoop is die skoolgronde omhein en toegangsbeheer gedurende skooltyd word toegepas deur slegs by een hek toegang tot die gronde te verkry, alle ander hekke is gedurende skoolure gesluit. Sekuriteitskamera’s is op strategiese plekke aangebring om kleinding se veiligheid te verseker.

Hoe help die skool om my kind se selfbeeld te bou?

Elke kind het twee basiese emosionele behoeftes: “iemand het my lief” en “ek is waardevol”. Wanneer hierdie aspekte aangespreek word, dryf dit u kind om sy volle potensiaal te bereik. Ons poog om deur positiewe optrede, ‘n kompliment per dag en ‘n positiewe dissiplinêre stelsel vir u kind die geleenthede te bied om geliefd en waardevol te voel.

goedgekeur
Laerskool Goedehoop…..die skool wat REGTIG omgee!

Sal die onderwyser help om my kind se volle potensiaal te ontgin?

Die hoogste prioriteit in u kind se skoolloopbaan is akademie. Navorsing het getoon dat ‘n kind wat kan lees ‘n kind is wat kan leer. Daarom word lees baie belangrik beskou en word daar weekliks ‘n periode vir lees ingeruim in die rekenaarsentrum. Goedehoop beskik oor twee Leeslaboratoriums (Afrikaans en Engels) waar u kind se vaardighede ten opsigte van lees gemeet, getoets en ontwikkel word.

Goedehoop se onderwysers is ten volle gekwalifiseerd om u kind in die betrokke vak of graad te onderrig. Indien u kind akademies nie na verwagting presteer nie word daar hulp aangebied in die vorm van remediërende onderrig wat weekliks plaasvind vir ‘n tydperk van ses maande. U as ouer word op hoogte gehou rondom die vordering van u kind deur oueraande of persoonlike gesprekke met die onderwyser(s). Indien daar ernstiger uitvalle is, word u as ouer geken en saam word ‘n plan van aksie bepaal en die regte verwysing na terapeute gemaak.

Hoe vergelyk die skool se akademiese standaarde?

Die media berig gereeld oor die swak akademiese standaarde in ons skole. In die verlede was standaarde deur inspekteurs bepaal, dit bestaan egter nie meer nie. Skole moet nou soekend wees na eksterne maatstawe om akademiese standaarde te meet. Goedehoop het so ‘n instansie geïdentifiseer en is alreeds vir 19 jaar ‘n top akademiese skool in Suid-Afrika! Conquesta is ‘n nasionale instansie wat deur objektiewe, eksterne eksamens die akademiese standaarde van Graad 1 tot Graad 7 in sekere vakke bepaal. Daar is tans 1 200 deelnemende laerskole in Suid-Afrika (Privaat en Ou Model C-skole) wat hulle akademiese standaarde meet teenoor ander skole.

Vir meer inligting besoek gerus ons webblad by www.laerskoolgoedehoop.co.za.

Watter geleenthede is daar vir my kind?

Goedehoop moedig massa-deelname aan by alle Mini-Sporte soos bv. Mini-Netbal, Pumaki’s en Mini-Hokkie. Deur massa deelname skep ons vir elke kind die geleentheid om optimaal te ontwikkel in die betrokke aktiwiteit. Die spanne word eweredig verdeel waar die maatjie wat nog ontwikkeling nodig het, saam met balvaardige maatjies in ‘n span speel sodat elke maatjie sy of haar volle potensiaal kan bereik. Voorsiening word gemaak vir maksimum aantal spanne sodat alle maatjies in ‘n span opgeneem kan word.

Geen maatjie wat aan ‘n aktiwiteit wil deelneem word weggewys nie. Vanaf o/9 tot o/13 kan ons vir u kind ook meer geleenthede op die sportveld bied, omdat ons dubbeld die aantal spanne het. Dit gee vir leerlinge wat nie in die A-spanne kan speel nie ook die geleentheid om in die B- of C-spanne te kan meeding. Ons rugby spog selfs met ‘n 3de span.

Lees ook: GOEDEHOOP MPUMALANGA-KAMPIOENE

Op kultuurvlak is daar net soveel geleenthede! Twee-jaarliks word ‘n revue op die planke gebring en massa-deelname word verseker. In die jaar wat daar nie revue is nie, word Eisteddfod aangebied en kinders word aangemoedig om deel te neem. Graad 0-maatjies kan elke tweede Woensdag Landsdiens gaan doen. Addisionele Rekenaarklasse is ook na skool beskikbaar vir Graad 0. Van Graad 1 kan ons maats ook deelneem aan Algemene Kennis en Redenaarskompetisies. Ons trots is ons junior en senior skoolkore.

Ons neem reeds vir meer as 10 jaar op sport- en kultuurvlak aan Super 12 deel. Wat is Super 12? Dit is ‘n organisasie wat bestaan uit 24 skole wat in twee bene (Been A & B) verdeel is. Die A-been bestaan uit skole wat 1200 leerders en meer het. Die B-been bestaan uit die kleiner skole. Die provinsies wat deelneem is Gauteng, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga. Super 12 is interprovinsiaal en slegs vier top laerskole uit die vier noordelike provinsies kan deel vorm van Super 12. Hoe word ek deel van Super 12? Jy word nie genooi of gekies nie. Jy moet ‘n bestaande Super 12 skool uitdaag en deur te wen, kan jy vir jou skool ‘n plek verseker.

In ‘n omgewing waar tegnologie ons brood en botter is, is ‘n program soos Young Engineers van onskatbare waarde! Hierdie program gee die kinders van so jonk as Graad 00 die geleentheid om die vaardigheid van wetenskap, tegnologie, ingeneurswese en wiskunde te bemeester. Die program begin met die basiese boublokke in Graad 00 en vat dit deur na Graad 7 waar die kinders leer hoe om programering te doen.

Raak deel van die Goedehoop-familie op Facebook: Goegieland en Laerskool Goedehoop!

Gaan my kind wegraak in die massas?

Die mite bestaan dat Goedehoop ‘n “groot” skool is. Ons kan spog met ons pragtige prestasies op alle vlakke omdat Laerskool Goedehoop beskik van gekwalifiseerde onderwysers asook voltydse onderwysstudente wat ons in die posisie plaas om opvoedkundig verantwoordbare klein klassies daar stel. Kleiner klasse gee vir u kind die geleentheid om een tot een aandag van die onderwyser te ontvang. Kleiner klasse stel die onderwyser in staat om u kind persoonlik te leer ken en die beste onderrig te bied sodat hy optimaal kan ontwikkel.

Het u Goedehoop Goedgekeur? Volg gerus die skakel vir u betrokke Graad om in te skryf en deel te word van die beste goedgekeurde skool!

Graad 000
Graad 00
Graad 0
Graad 1

Dokumente wat benodig word is kleinding se geboortesertifikaat en immuniseringskaart. ID van beide ouers asook bewys van verblyf.