Nog ‘n “So is die lewe” rubriek vanuit die pen van Ds Marius Britz. Titel is Weersiensgesprek.
Dana Snyman skryf in sy boek Anderkant die scrap dat hy wonder waarom mense terugkeer na die plekke waar hulle eens gewoon en gewerk het. Is dit dalk ‘n bevestiging van jou eie geskiedenis, van “jou kiekies is bewyse van die feit dat jy ook daar was, ‘n ensiklopedie van jou bestaan?” Mens wonder self daaroor as jy soms terugloop op gister se spore.
Kom ek toe mos by een van my stofpadlewe se spore by oom Piet en tannie Marie aan om te groet. “My magtie, dis goed om jou te sien!” roep hy uit. Kom vertel my alles wat in jou lewe gebeur. Kom sit, kom sit!” nooi hy my gul uit. “Marie! Mariaaaa!” roep hy agtertoe. “Bring vir my en dominies koffie.” In dieselfde asem gaan hy aan: “Jong, dis jammer die ou winkeltjie het nie meer Raadsaalkoffie nie. Man, daai was nou vir jou lekker koffie.
Ou Saar het mos al die jare die winkel gehad. Voordat hulle Warmbad toe getrek het na die ouetehuis toe. Daar waar die runderpes so gemors het onder die boere se vee. Baie van hulle het toe maar opgegee en in die stede gaan werk. My een ou vrind het sy plaas gelos en in die myn gaan werk.
Hy het vertel die rotte ondergronds is so groot soos katte. Omdat al die myners hulle so gevoer het met die jêmtoebroodjies wat hulle vrouens vir hulle ingesit het elke dag, en waarvoor hulle naderhand so opversadig was. Maar daar is darem niks soos druiwekonfyt nie. Sulke lekker hanepootdruiwe. Hulle pluk dit daar in die Kaap in. Die wind waai mos so verskriklik daar.
LEES OOK: So is die Lewe: Knettervuur
Ek het gehoor dat die die wind een dag so erg was dat dit ‘n ou se valstande tot in die see gewaai het. Drie maande later het ‘n skuit op die weskus hierdie snoek gevang met net sulke tande soos ‘n mens. Dit was toe al die tyd daai ou s’n wat deur die wind weggewaai is. Die een skipper het toe juis ‘n stel botande gekort, en het dit toe sommer met sy vismes gemaak pas in sy mond. Daai skipper het daar in Velddrif gebly.
Hy kon maar lekker vat as hy die slag dors geraak het. Een aand toe hy weer so rumoerig raak, bel sy vrou die poelieste. Toe hulle aan die deur klop, skreeu hy: Wiesa? Die Suid Afrikaanse Polisie, sê hulle toe. Nou ma’ wa’ is Velleghif se poelieste dan vanaand? Vra hy toe. Hy was ‘n sterke derduiwel, daai skipper.
Een Saterdagmiddag, toe sy vrou vêr was met die vyfde kind, sê sy mos vir hom dis nou sulke tyd. Hospitaal toe. Baba is op pad. Hy jaag op daai St. Helenabaaigrondpad met ‘n stink spoed met sy Valiant. Toe kom daar ‘n donkiekar van voor af, in die middel van die pad, met twee vrolike passasiers. Hy stop toe die Valiant, breek die teuels van die donkies af, en jaag hulle die veld in. Toe gooi hy die twee passasiers af, en lig die donkiekar op en gooi hom wragtig oor die draad.
Die boer van die plaas sien toe die vreemde donkies wat water soek op die werf. Ordentlike donkies. Toe hy bietjie navraag doen, kom hy agter die donkies stam af van die donkie waarmee Jesus Jerusalem binnegery het. Hy verkoop hulle toe, en maak genoeg om vir hom ‘n nuwe windpomp op te sit.
Daar waar hy en sy buurman een dag stry gekry het oor ‘n bobbejaanspênner. Hy verêrre hom toe so, dat hy nooit weer sy voete in die nagmaal gesit het nie. Maar die buurman hou aan nagmaal toe gaan. Nogals ouderling en als. Tot hy een dag tydens nagmaal op sy perd die kerk binne ry, voor die ouderlingsbank stop, en sy buurman uit die bank pluk en voor hom op die perd gooi.
Nou wou hy nie lelik praat voor die gemeente nie, toe sê hy: Jou raaia se riepa se roera. Wat soek jy hier!
Ook maar goed die buurman was bietjies doof, en kon nie mooi hoor hoe hy uitgeskel word nie. Oudominees het mos eendag vir hom gesê: ons twee word ook maar oud. Hy antwoord toe: ja, veral die tyd van die jaar as die wind so waai.” Oom Piet klap sy broek se sakke, en soek sy pyp en twak. Ek besluit ek sal vinnig die paar oomblikke stilte gebruik om te vra hoe dit gaan, maar hy spring my voor.
Tussen die dampe deur, sê hy: “Ja, en daar lees ek toe Min Shaw en Gerard Viviers was broer en suster. Maar hulle het dit al die jare geheim gehou. Spiekeries was baie bekend. Behalwe daai keer toe die een ou wat so effens onder die dop was, vir hom gesê het: ou Fanus, ek is so bly jy is ook hier. Fanus Rautenbach het mos so lekker program op die radio gehad. Flink uit die vere. Ons op die hoogte gehou van alles. Selfs die verkeer.
Ek onthou, ons het nog in Pretoria gebly. Dan bel die mense in die oggende in en vertel van al die verkeersprobleme. Die een tannie het uitasem ingebel en gesê al die fans in die Daspoortonnel is buite werking. Toe sê Fanus: ja, al die fêns is na ‘n Bles Bridgeskonsert toe.” Gie-gie-gie,” lag oom Piet. “Jong, hierdie twak is bietjie sterk vir my. Ek hoor daar is duwweltjies in, amper soos in ‘n pynappel. Dis wat mens so laat hoes. Daardie duwweltjies steek in jou longpype vas. Dis omdat hulle die goed nie mooi sif as dit op die lande gesny word nie. En dis – hoes – hoekom – hoes- dit sulke kragtige goed is.” Sê oom Piet.
Toe sê hy: “Dominies, jy is nou al ‘n halfuur hier, en ek het nog nie eers vir jou gevra of jy wil koffie hê nie. Ek het nog so baie te vertel. Maar jy praat aanmekaar!”
“Yesterday, all my troubles seemed so far away,” sing ek saam met die Beatles op pad huis toe.