fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Thursday, October 29, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: Knettervuur

    Nog ‘n “So is die lewe” rubriek vanuit die pen van Ds Marius Britz. Titel is Knettervuur.

    Dikwels het ek al op ‘n Woensdagoggend gekyk hoe die vullislorrie van Langebaan se munisipaliteit die vuilgoedsakke voor elke huis oplaai. In ‘n oogknip word die afval ingesluk deur die lorrie, en huis na huis verdwyn die afgelope week se plastieksakke met skille en ou kos, eierdoppe en leë bottels, die gebruikte sneesdoekies en wat ook al.

    Amper soos Doris Brasch gesing het in haar bekende lied Lappop: “Iemand het ‘n lappop op die ashoop neergegooi. Sy was gedaan en stukkend, verbleek en glad nie meer mooi nie.” Daar is sy omring deur “net ‘n vrot pampoen en ‘n stukkende skoen, ‘n grammofoonplaat en ‘n kous sonder maat, net ‘n leë bottel bier en ‘n verlepte angelier, ‘n gelapte binneband en ‘n ou koerant.”

    Doris Brasch: Die Lap-pop

    As mens se lewe maar so maklik opgeruim kon word, het ek dikwels al gedink as ek sien hoe glad geoefen die munisipale werkers is om die vullis te verwyder. As jy maar jou frustrasies, jou seer, jou eie kleingeloof en jou nagtelange kommer oor jou mense, en jou mislukte en verloopte drome en jou waaromvrae alles saam kon indruk in ‘n plastieksak, en dit opgelaai en weggery kan word sodat jy dit nooit weer hoef te sien of te beleef nie. (Al het Iemand reeds op ‘n ashoop genaamd Plek van die Hoofskedel, ook bekend as Golgota, presies dit wel gedoen, maar ons gaan krap maar altyd weer op ashope om ons opgebruikte bagasiedinge terug te kry.)

    Gister het ek in my gedagtes vuilgoedsakke van leef stuk-stuk afgelaai. So vat ons die N1 verby Worcester, noord. In Kaapse definisie was ons nou summier in Johannesburg. Maar anderkant Matjiesfontein raak die omgewing bykans ongemerk anders, kaler, meer weerloos.

    By Laingsburg verby, daar oor die brug waar die groot vloed van 1981 oorgespoel het, sak die Grote op jou toe, die karoo. Die bordjie “Moordenaarskaroo” vertel al klaar iets van hierdie uitgestrekte landskap, die verlatenheid van ‘n onherbergsame aarde waarin die misdadigers uit die Kaap vroeër jare kon wegraak, veilig uit die visier van die geregsdienaars.

    En dan, eensklaps, is jy in ‘n ander wêreld, met ‘n vermoedenis dat jy iets van die ewigheid begin beleef, die plat aarde wat beklemtoon word deur ‘n koppie of ‘n rant hier en daar, waar die waterringe uit oertye verklap dat hier miljoene jare gelede ‘n groot see of meer was. Die onnodige bagasie van jou gemoed waai een vir een. Sintuiglik ruk die uitgestrektheid van die karoo jou vuilgoedsakke van jou af.

    Jy begin ontspan, jou moeë gedagtes word gevul deur die Hebreeuse begrip shalom, ‘n toestand van gelatenheid, vrede, kalmte en aanvaarding. Die wydsheid van die kaal karoo word ‘n warm karos vir ‘n koue hart; dit verplaas jou vanuit ‘n afgemete, voorspelbare voorstedelike bestaan na ‘n ander lewe, waar tyd en ewigheid saam met jou beweeg, soos die telefoondrade langs die pad.

    Anderkant Leeu-Gamka ry jy kilometers vêr langs die Blou Trein, en sien treinreisigers wat by die vensters sit en die wondermooi landskap van niksheid betrag met ‘n bottel Kaapse rooiwyn wat afglip soos satyn. So loop jou pad, jou reis na vrede: Beaufort-Wes, Drie Susters, Victoria-Wes, Strydenburg, Britstown, Hopetown verby.

    Jy sien die gebiede waar dit nog so droog is, en hoe uitgelate pasgebore lammertjies huppel in die dooie veld. Dit gee jou moed vir ons land. Mense wat kan uithou, vasbyt. As jy brandstof ingooi op Britstown is daar ‘n oompie wat vreeslik gevlei voel as jy, synde ‘n veteraanmotorfanatikus, jaloers en vol begeerte staar na sy Chevrolet Fleetline uit die sestigerjare. “Dis die beste bakkie in Suid Afrika, my Lanie,” sê hy.

    LEES OOK: So is die Lewe: Afrika se Hartklop

    Jy kry weer hoop, hoop vir die toekoms. Hoop vir die land. Die karoo word ‘n utopia wat jou insuig in ‘n vergete tyd en wêreld in. Sy stilte is mooier as die grootste simfonie. “Hemingway and I felt deeply in love with the land”, het Peter Sarstead oor Afrika gesing. Jy besef: jy is vir hierdie deel van God se aarde, sonder berge en see en wit strande, hartstogtelik lief.

    Oplaas, laataand, arriveer jy by jou private stukkie hemel op die soom van die Groot Karoo. Wanneer jy ná twaalf ure op die pad stop voor jou beskeie nagmaalshuisie uit die ou tyd, raas die stilte sό dat jou ore suis. Miljoene karoonagsterre betrag jou nuuskierig vanuit ‘n pikswart, liglose hemel.

    Wanneer jy die voordeur van jou eeu-oue huisie oopstoot, en sien dat alles twee jaar na jou laaste kuier nog presies op hul plek is, ondanks die feit dat die huis geen wagte of diefwering of sekuriteitsligte het nie, weet jy: jy het vrede gekry. Jy is in die voorportaal van die hemel. God is net ‘n hartklop vêr. Die ewigheid kom lê volledig in jou. Eensklaps. Onteenseglik. Jy voel vuilgoedsakloos. Uiteindelik pas jou lewe in ‘n rugsak in, wat jy saam met jou wíl dra.

    Die enigste tekens van lewe laataand op die klein dorpie is die jakkalse wat hartseer weeklaag, net hier anderkant jou, die pikswart donkie wat in die stofpad verbyloop, en die koedoes wat langs die begraafplaas staan en wei. Omdat jy moeg is na die lang rit, los jy sommer jou skootrekenaar, selfoon, (wat in elk geval nie hier werk nie), en jou kamera op die stoeptafel. Moreoggend sal dit steeds daar wees.

    As die son opkom, lyk die dorpie presies dieselfde as wat jy onthou. Die bekende ou huise, die rant wat beskermend die paar geboutjies toevou. Die begraafplaas met sy ou grafte van vorige geslagte. Die rye onbekende kindergraffies wat waarskynlik uit die Groot Griep, of selfs die Anglo-Boereoorlog dateer. As jy met jou wandelstok tussen die grafstene deurloop, word dit jou as oud-dominee se persoonlike pelgrimstog na die verlede.

    Jy sit die ketel aan vir koffie, en skakel die radio aan vir die sewe-uur nuus. “Jy luister na Monitor op RSG, en hier volg die nuus.” Jy oorweeg om die radio summier af te sit, maar luister tog. “ In hierdie bulletin: ’n bejaarde dame van Edenvale is ernstig beseer toe rowers haar vir bykans ‘n kilometer agter haar motor aangesleep het nadat sy beroof is en haar motor gekaap is.”

    Jy besef dat jy so pas ‘n nuwe vullissak begin gebruik het.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: Knettervuur