-

Community newsSo is die Lewe: Vandag is die dood midde...

So is die Lewe: Vandag is die dood midde in die lewe.
S

Geniet nog ‘n aflewering van “So is die Lewe” uit die pen van Marius Britz.

‘n Duitse gedig van Rainer Maria Rilke het nou meer aktueel as ooit geword.

Der Tod is gross.

Wird sind die Seinen

Lachenden munds.

Wenn wir uns mitten im Leben meinen

Waget er zu weienen

Mitten in uns.

Vryelik vertaal sou mens kon sê: Die dood is groot. / Hy doen wat hy wil met ‘n laggende mond. / As ons in die middel van die lewe is, / wag hy in die midde van ons om ons te laat huil.

Antoinette Pienaar skryf in die bundel Wreed en mooi is die dood:Ons is nie hier vir die verblyfste nie. Ons is hier vir die vergaanste.”  Die word “vergaanste” het in hierdie tyd nuwe betekenis gekry. Vriende in die bediening regoor die land steier onder die las van begrafnis na begrafnis. Twee, drie begrafnisse per week in een gemeente het skynbaar vele plekke die norm geword. In Gobabis in Namibië het die leraar 15 begrafnisse van Covidslagoffers in drie weke gelei, vier daarvan op een dag. 

‘n Epidemiologiese verslag van die Oos-Kaapse department van gesondheid het bevind dat slegs 21 236 (64,3%) van 33027 pasiënte wat by hospitale toegelaat is, weer by die deure uitgestap het. Alles, absoluut alles word deur die virus geraak. Rapport berig dat 14 Springbokke die Covidvirus opgedoen het. Dit bring internasionale toere in gedrang. 

Lees ook: So is die Lewe: ‘N Lewe!

Desondanks word ons gebombardeer deur mense wat leef asof die virus nie bestaan nie, soos tonele op die nuus van optogte, opruiende toesprake en plundering wat tans aan die gang is in ons land, duidelik wys.  Geen sosiale distansiëring, geen maskers nie. Baie argumente woed op sosiale media oor inentings, al dan nie.  Tog is, volgens die gedig van Rilke, die dood versinnebeeld deur die eeue oue beeld van die grimmige, swartgeklede afmaaier (the Grim Reaper) wat jou, wanneer hy wil, met sy swaaiende sens kom haal.  ons.  

Soos ‘n huisgenoot bly hy saam met ons, maar soos ‘n inbreker kom hy op die mees ongeleë en verkeerde tydstip ons huise, skryf Okke Jager.  In jou werksomgewing, vriendekring, famile en gemeentes. 

Van Wyk Louw praat in sy gedig “Paniese angs” van ‘n “wit-ogige vrees.”   Die doodsberigte in die Burger het op een spesifieke dag ‘n verstommende twee vol bladsye volgemaak. Mense wat wou leef, maar toe in die middel van die lewe onverhoeds betrap is. Die donker kring sluip al hoe nader.  Dis nie meer statistieke alleen nie; dis bekendes, ouers, kinders, broers en susters, akteurs, sangers, skrywers, politici, noem maar.  Sosiale media soos facebook bevestig dit.

Die bron van angs, soos wat Immanuel Kant onder andere sê, is dat die mens nie die vermoë het om oor sterflikheid en onsterflikheid te praat nie. Die dood wat oral manifesteer, is dus spekulatief, totdat dit jou direk tref.  Hoe is dit om nie meer te leef nie? Kan die kissie met die as van my ma wat ek in my studeerkamer bewaar, ‘n manifestasie wees van die oerangs van alle mense? Jy sien, hoor en lees huidig van mense wat sterf.  Abnormaal baie. Jy weet dit is onomkeerbaar, daar is nie ‘n terugkeer na hierdie wêreld toe nie. 

Mense leef voort deur hulle afwesigheid; die leë plek aan tafel, die oproep wat nie meer kom nie, die sagte gebaar van deernis en dankbaarheid wat net ophou om te wees, dit word ‘n akklamasie van weg-wees, van doodwees. ‘n Gesin wat nie meer volledig is nie, niemand wat die kennis en wysheid, die omgee en ondersteuning van die leë plek kan vervang nie.  So word die dood die ewige teenwoordigheid van afwesige finaliteit, die eindigheid van aardse bestaan.  Altyd daar, maar nie meer daar nie.

Dis ‘n werklikheid, maar tog is ons so bevrees om openlik daaroor te praat.  Soos die gedig Toemaar die donker man van Ingrid Jonker so treffend beskryf.  Die gesprek tussen haar en haar dogter Simonè oor die dood, waarin sy net nie so ver kan kom as om die koue, ongenaakbare realiteit van die dood te verwoord nie.

Op die groen voetpad van die horison

vêr om die aarde skat, stap ‘n ou man

wat ‘n oop maan dra in sy hare, nagtegaal in sy hart

jasmyn gepluk vir sy oop knoopsgat

en ‘n rug gebuk aan sy jare.

Wat maak hy, mammie?

Hy roep die kriekies, hy roep die swart

Stilte wat sing soos die biesies, my hart

en die sterre wat klop tok-tok liefling,

soos die klein tok-tokkies in hul fyn-ver kring.

Wat is sy naam, mammie?

Sy naam is Sjuut, sy naam is Slaap

Meneer Vergeet uit die land van vaak

Sy naam is…

Toemaar

Hy heet, my lam…

Toemaar, die donker man.

Mammie?

Toemaar, die donker man.

Laurika Rauch – Toemaar die Donker man

Hoe kry ek en jy lewe uit die doodgaan aan die virus wat ons omkleef?

Miskien eerstens deur ons perspektief te verander.  Ja, dit kan met jou gebeur. Al was jy gereeld hande, vermy jy openbare plekke en dra jy ‘n masker oral waar jy gaan. As jy jou koerant soggens voor die deur optel, onthou iemand het dit in daardie plastieksakkie gesit.  As jy die melk uit die yskas haal, iemand het dit op die rak gepak. As jy die reling of die roltrap se armleuning vashou, iemand anders het ook. Baie mense wat die virus gekry het, weet nie waar dit gebeur het nie. 

Die meeste van hulle was uiters versigtig. Om jou te laat inent, is jou keuse. Maar dis een van die mees effektiewe maniere waarop jy voorsorg kan tref. Dit bly egter jou keuse.  Intussen is ek oortuig dat die merk van die bees waarvan Openbaring praat, deur baie mense misbruik word as verskoning. Dis egter nie hier ter sake nie.

Tweedens, omdat ons almal so blootgestel is, is dit tyd om anders te lewe. Met liefde, met dankbaarheid, met vergifnis. Om so te leef dat jy selfs na jou vertrek van hierdie planeet af onthou sal word, is deel van die sin van jou bestaan.

Derdens.  Die Bybel leer ons wel dat ons tye volledig in die hande van God is. Ons dae is afgemeet, volgens Psalm 90 sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig jaar.  Dit kan baie korter ook wees.  Vers 3 van hierdie Psalm sê God maak ‘n einde aan die mens, Hy sê net: “Word weer stof.”  So, die sin van ons lewens is nou meer as ooit ondersoekbaar. Omdat die broosheid van lewe so akuut is, is die besef dat daar iets anderkant die lewe is, iets ewig, onvernietigbaar, meer as ooit belangrik.

Lina Spies skryf in die Geloofsbelydenis van ‘n afvallige:

Ek glo in die skeppende God van die wordende heelal wie se Naam te heilig was om uit te spreek: Jahwé, die God van Israel, wat ‘n Vader geword het vir Jesus van Nasaret, die wonderskone boodskapper van die onmoontlike liefde, deur wie God my Vader is. Ek glo in die Heilige Gees wat mense in alle tye inspireer tot werke wat die stempel dra van die ewige.  Ek glo dat omdat ek lewe ek aan alle lewendes sorg en deernis verskuldig is, en ek glo dat as ek sterf ek opgeneem sal word in die durende siklus van vernuwing en dat die lewe triomfeer in elke geboortekreet, omdat die lewe magtiger is as die dood.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here

So is die Lewe: Vandag is die dood midde in die lewe.

- Advertisement -

Latest news

Secunda Reformed Church morning service 1 August 2021

Welcome to the Secunda Reformed Church morning service, 25 July 2021 "The scarlet rope of Rahab" by Anton Knoetze https://youtu.be/g-WtdTQrPhE Joshua 2...

Kruik se Oggenddiens 1 Augustus 2021

Welkom by Kruik se oggenddiens van 1 Augustus 2021 Vanoggend se tema: Die dinge wat ek sê. https://youtu.be/w7comoKdzZs Die dinge wat ek...

ANIMALS 101 – ADOPTING A PET (PART 2)

ANIMALS 101 - WHAT CAN YOU EXPECT DURING THE PROCESS OF ADOPTING A PET? Last week we looked at why...

Sasol and Mpumalanga government launch massive vaccination drive

Sasol Secunda Operations launched a massive five-day COVID-19 vaccination drive Sasol Secunda Operations launched a massive five-day COVID-19 vaccination drive...

You might also likeRELATED
Recommended to you