Friday, March 29, 2024

So is die Lewe: Besoek van die Donker Engel

Bookmark
Bookmarked

Geniet nog ‘n uitgawe van Marius Britz se “So is die Lewe”. Hierdie week se tema is “Besoek van die Donker Engel.”

Dit was Jesus self wat die verhaal vertel het van die verskoningmakers wat gesê is om Hom te volg.  Die een ou het gesê: “Laat my eers toe om my ouers te begrawe.”  Jesus het gesê: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar volg my.”  Jesus se woorde klink hard, maar eintlik het die man gesê: “Ek het ‘n groot verantwoordelikheid wat ek moet nakom, wat omtrent al my tyd en energie vat.  Ek pas my bejaarde ouers op.  Ek het nie nou tyd vir enigiets anders nie.”

As jy ‘n bejaarde ouer versorg,  groei jou simpatie met hierdie verskoningmaker. Dit is ‘n groot werk, en nog groter verantwoordelikheid. Die absorbeer jou hele bestaan, omarm jou wese, beheer jou totale lewe. Die tekens is vroeg reeds daar dat jy nie lank meer die taak sal kan nakom nie, al is jy hoe toegewyd en al is jou liefde vir jou ouer onbegrensd groot.

Jy sien die tekens  een vir een.  Die skouers wat hang.  Die hande wat lomp raak en kort-kort ‘n koppie of glas laat val.  Die gedagtes wat kort raak.  Die oë wat amper deurskynend raak en dikwels betraand is oor onthou-dinge.  Die skuifelstappie met die loopring.  Die bord kos wat ongeëet weggestoot word.  Die vergeet van hoeveel pille gedrink is, en kort-kort weer verkeerdelik gedrink word. 

Sodat jy moet ingryp. Pille uitdeel drie keer op ‘n dag. Besigheid doen namens hom of haar, inkopies gaan doen, sorg dat daar brood en melk en toiletpapier is.  En toenemend magteloos toekyk hoe die een trotse mens, altyd onberispelik versorg, verskrompel tot ‘n hopie bene wat op die bed lê en die vertes instaar.  Later kom die daaglikse omruil van beddegoed aan die beurt.  Soms twee, drie keer per dag.

Lees ook: So is die lewe: Ek het twee ma’s

Dan, die BESLUIT.  Die een wat jy uitstel en uitstel.  ‘n Vrou kan nog haar ma versorg tot die uiterste, maar ‘n man kan nie sy ma so versorg nie.  Skielik bevind jy jouself voor die deur van die versorgingsoord.  Jy ruik die ontsmettingsmiddels en ander reuke.  Jy sien die tannietjies en oompies wat vier-vier in ‘n kamer lê en na die deur staar. Iewers hoes iemand ‘n roggelhoesie.  Iemand skuifel in die gang by jou verby.  Iemand lui aanhoudend ‘n klokkie.

Almal kyk vol afwagting na jou, asof jy die teken is waarvoor hulle gewag het.

Almal kyk vol afwagting na jou, asof jy die teken is waarvoor hulle gewag het. Asof jy spesiaal gekom het om een van hulle te kom verlos uit hulle eensaamheid.   Jy maak jou oë toe, sluk aan die knop in jou keel en gaan haal die aansoekvorms namens jou ma by die kantoor.  Jy maak ‘n punt daarvan om nie links of regs te kyk nie. Reguit voordeur toe, weg, weg, van die naakte realiteit wat jou hier trompop konfronteer.  Jacques Brel se The old folks galm in jou skedel.

Jacques Brel – Les Vieux Live (English Subtitles)

Maar iemand roep jou voordat uitloop.  In die ingangsportaal sit ‘n tannie, netjies aangetrek, handsak op die skoot en koffertjie gepak langs haar.  “Ek wag vir my seun,” sê sy, “hy kom my haal om by hulle te gaan kuier.  Hy is so oulike man.  Hy is geleerd, hy het grade en ‘n belangrike werk.  Hy ry so mooi kar, en woon in ‘n groot dubbelverdiepinghuis.  Hy dien op baie rade en direksies, en maak verskriklik baie geld.  Sy kinders studeer almal.  My seun gaan my netnou kom haal.  Dan gaan ek so paar dae by hulle kuier.  Ek is so geseënd om sulke wonderlike en suksesvolle kinders te hê!”

Jy glimlag saam met haar, deel haar kortstondige vreugde.  Sy word die fokus van jou hoop.  My ma gaan net so positief soos hierdie tannie wees, oortuig jy jouself.  Sy gaan hier gelukkig wees.  Almal gaan vir haar goed wees.  Op ‘n manier word die besluit vir jou makliker.  Moenie dink aan die negatiewe nie.  Die mense word met liefde en deernis daar versorg. 

Die personeel is toegewyd en bekwaam.  Hulle verstaan die uitdagings van bejaardeversorging baie beter as jy.  Hulle het ‘n passie vir hulle werk.  Jy begin om jou ma voor te berei op die moontlikheid dat sy beter versorging nodig het as wat jy kan bied. Jy vertel jouself dat dit vir al die betrokke partye, jou ma inkluis, die beste opsie is.

Jy vul die dik bundel dokumente in. Verslae van die dokter.  Mediese geskiedenis.  Medikasie gebruik.  Naasbestaandes. Die woord naasbestaande maak jou bewerig.  Jy dink aan ander kontekste waarin dit gebruik word.  Na so twee weke is die aansoek gereed om ingedien te word, en jy dapper genoeg om dit in te dien.

Jy stop weer voor die versorgingsoord, hierdie keer meer oortuig van die meriete van jou saak. Maar, wanneer jy by die voordeur instap, is dieselfde tannietjie van twee weke terug weer daar op haar pos.  Dieselfde netjiese blommetjiesrok, selfgebreide truitjie aan, ten spyte van die hitte, en dieselfde afgeleefde handsakkie op die skoot.  Sy kyk stip na die straat voor die gebou, maar herken jou skielik as jy inkom.

“More tannie!”  Jy groet so hartlik en vrolik as wat jy kan.  “Het tannie toe lekker by tannie se seun gekuier?”  Vra jy, al weet jy by voorbaat.  “Ag jong, hulle is so besig, hulle kon toe nie by my uitkom nie. Jy weet, al die verantwoordelikhede en vergaderings.  Maar hy is vandag hier naby vir ‘n belangrike vergadering, en sal kyk of hy na die tyd my kan kom haal.”  Sy kyk weer na die karre wat in die straat verbyry.  Jy weet hy gaan nie opdaag nie.

Ek staan met ‘n groot pak ingevulde vorms in my hand.  “Kan ek u help, meneer?,” vra ‘n verpleegster my as sy verbyloop.  “Nee dankie,” sê ek.  “Ek het net kom kyk hoe dit hier lyk.” 

Dan, onverwags, ongenooid, kom hamer die Donker Engel skielik aan jou ma se deur.  Terstond word die Besluit van jou af weggeneem. 

Jy is dankbaar daaroor, maar sê dit nie, want hartseer is stom.