-

Columnist So is die lewe: Ek het twee ma's

So is die lewe: Ek het twee ma’s
S

Hierdie week se tema vir “So is die Lewe” is dan: Ek het twee ma’s.

Die Bulletin wil graag ons meedelye deel met Marius se moeder se afsterwe gister oggend. Ons wil graag Marius en sy gesin ondersteun met gebed in hierdie moeilike tyd. Marius wil dan ook graag die volgende storie plaas as huldeblyk aan sy moeder. Mag julle vrede en berusting ontvang gedurende hierdie tye.

Daar is ‘n sêding wat gaan: Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder? Eers as ons, soos Marius skryf, vir ons ma moes sorg kom ons regtig agter hoe ons haar mis as sy nie meer daar is nie. Eers as sy nie meer die telefoon antwoord nie, kom ons regtig agter hoe ons haar mis. Eers as mens besef wat se ongelooflike rol sy in jou lewe gespeel het, kom ons regtig agter hoe ons haar mis.

Sterkte ou Grote!

Ek het twee ma’s.

Of eerder, ek het toe ek jonk was een ma gehad, en het nou ‘n ander een.

Die eerste was ‘n dinamiese, professionele vrou wat weens omstandighede vroeg in haar lewe reeds skool moes verlaat en begin werk om as oudste suster twee jonger sussies te laat studeer. Elke oggend, winter en somer, moes sy, terwyl dit nog stikdonker was, die trein op Heidelbergstasie haal om betyds by haar werk in Johannesburg se middestad te wees.

Hier is sy opgelei om met syfers te werk, begrotings op te stel, besluite en voorraadstatistieke onmiddelik te verskaf, sonder om eers te gaan rondkrap in notas. Sy moes deeglik boekhou van kostes, inkomstes noukeurig beheer en dokumenteer. Hierin het sy het haar onderskei met ‘n besonderse skerp aanleg vir syfers. 

As kind kon ek my verwonder hoe sy by kasregisters elke item in haar kop optel terwyl die kassiere dit oplui.  Vele kere het sy hulle op foute gewys, en ook presies waar hulle foute gemaak het.  Sy kon twee kolomme syfers naas mekaar vinnig skandeer, en enige foute onmiddelik identifiseer. 

Lees ook: So is die Lewe: La gayyim!

Hierdie ma se toewyding, vermoë om bitter hard te werk en uitstaande presiesheid en trots op haar werk het uiteindelik belonings ingehou.  Ten spyte van haar gebrek aan formele kwalifikasies, het sy op ‘n jong ouderdom reeds ‘n senior pos beklee, met voordele soos ‘n kleretoelaag en maatskappyvervoer.   Daarom was sy altyd baie professioneel aangetrek. Hoëhakskoene, die mooiste kantoordrag wat deur ‘n kleretoelaag bekom is, keurige snyerspakke wat sy nie met haar salaris sou kon betaal nie.

Sy was die ruggraat waarom haar werkgewer se hele besigheid gedraai het. Sy het nooit nodig gehad om name, telefoonnommers, syfers, statistieke, bestuursbesluite ensomeer op te soek nie. Sy kon dit foutloos uit haar fenomenale geheue oproep. Tydens vergaderings kon sy enige navrae aangaande finansies en kliënte summier en korrek beantwoord. 

My eerste ma was ook ‘n uithalerkok. Skaapboud en groente, braaiaartappels en gebakte poeding was dikwels ons Sondagmiddaggereg.  Sy kon verjaarsdagkoeke bak wat soos kastele gelyk het, kinderpartytjies reël, paaseiers wegsteek, en die mooiste kers- en verjaarsdagpersente optower.  Sy het ook ons huisfinansies, wat maar skraps was, met ‘n ysterhand geregeer.

Ek ontdek anderdag ‘n grootboek waarin sy maand vir maand ‘n volledige begroting opgestel het, met skoolfonds van 20 sent, pa se rookgeld, R5-00 vir brandstof, R3-50 vir vleis en R2-50 wat maandeliks opsygesit word vir Desember se vyfdagvakansie in Durban volledig opgeteken. Elke maand het daardie begroting geklop. Geen geld is onnodig uitgegee nie.

‘n Ma wat ook diep spore in die kerk getrap het. Vir jare was sy die tesouriere van die vrouediens wat jaarliks die finansiële state foutloos aan die ouditeure oorhandig het.

Maar so paar jaar terug het ek ‘n ander ma gekry. Ek het haar huis in Springs, waar sy ná pa se dood agtergebly het, gaan oppak. Want sy het verswak en vereensaam geraak. Sy kon nie meer alleen bly nie. Terwyl ek en broer vêr gebly het, was daar dae wat sy nie kon opstaan nie. Wat sy nie geëet het nie, nie kon ry om kruideniersware gaan koop nie, niemand gesien het nie. 

My eens trotse ma het siek en verswak in die bed gelê, nie in staat om op te staan nie.

Ek het van die Kaap af gegaan, en deur die huis gestap.  Die huis, wat altyd netjies skoon was, georganiseerd en gevul met ‘n leeftyd se besittings en onthou,  was verwaarloos. My eens trotse ma het siek en verswak in die bed gelê, nie in staat om op te staan nie. Ek het instrumenteel in haar tweede lewe geword. Al haar besittings, wat oor jare met moeite en swaarkry afbetaal is, het ek in ‘n stoorplek gebêre.  Bloot omdat ek te sentimenteel en sag is om dit te verkoop. En die bitterste: ek en broer het ons kinderhuis verkoop,  waarvan elke hoekie en draai bekend was.

so is die lewe
“n Toneel uit Springs se vroë jare

Haar laaste greep op onafhanklikheid, haar motor, was noord, oos, suid en wes vol duike en stampe, en dit het ek vir ‘n appel en ui verkoop. En skielik het my ma die kind geword, en ek die ouer, toe sy by ons huis intrek.  Nou is dit my voorreg om te sorg dat sy drie keer per dag haar korrekte medikasie en dosisse morfien kry.  Dat sy elke dag ten minste een warm bord kos kry. 

Nou het ek my tweede ma.

Dis reg ma, as ma soms aandring, en kans sien, om self winkel toe te gaan, en dit ma twee uur lank vat om aan te trek en gereed te maak om SPAR toe te gaan. Waar ma vir ‘n uur lank rak op en rak af loop met die loopraam en alles omstamp, verskeie items optel en weer terug sit omdat dit te dùùr is, en uiteindelik slegs met ‘n bruinbrood en liter melk daar uitstap. Om geskok te vertel hoe duur dit in die Kaap is.  In Springs het die melklorrietjie toentertyd melk teen 25 sent per liter op die sypaadjie afgelewer, hier in die Kaap kos die melk R29-99 vir twee liter. 

Nie omdat ma nie genoeg geld het nie, maar omdat ma gewoond is om beskeie en spaarsamig te lewe.  Dis reg ma, as ma dikwels ure lank praat oor die karakters in Binnelanders en die slapies aftel voordat Boer soek ‘n vrou weer begin. Dit is reg as ma aanmekaar praat oor die verlede, oor ma se kollegas wat lankal dood is, oor pa wat so hard gewerk het en gesukkel het om die reuk van die fabriek uit sy oorpak en skoene te kry.

Dis reg as ma dae lank in pajamas rondloop. Dis reg as ma oor broers en familie praat asof hulle nog leef.  Dis reg as ma elke nag van ouma droom. Dis reg as ons almal klaar geëet het en ma is nog nie eers kwart met ma se kos nie. Dis reg as ma se woonstel soos ‘n ouetehuis ruik. Dis reg as ma stadig loop en oral aan my vasklou. Dis reg as ma dieselfde stories oor en oor vertel. 

Ek het twee ma’s, en altwee is myne.

Lees meer oor Springs in die ou dae HIER, dis waar Marius groot geword het

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here

So is die lewe: Ek het twee ma’s

- Advertisement -

Latest news

Alleged fraudsters arrested in court for counterfeit fuel cards

Two alleged fraudsters in court for counterfeit fuel cards

Two severely burned suspects succumb to their injuries

TWO SEVERELY BURNED SUSPECTS ARRESTED FOR PIPELINE FUEL THEFT MPUMALANGA – Two suspects...

Kruik se Oggenddiens 24 Januarie 2021

Welkom by Kruik se oggenddiens 24 Januarie 2021 Vanoggend se tema is: Wat...

So is die Lewe: Besoek van die Donker Engel

Geniet nog 'n uitgawe van Marius Britz se "So is die Lewe". Hierdie week se tema...

You might also likeRELATED
Recommended to you