Dag vier van die
landswye huisarres. Ek het alreeds
verskeie projekte suksesvol afgehandel, soos om elke korreltjie rys te tel in twee kettingswinkels se “no-name
brands”, en vas te stel dat die een sak 5376 korrels bevat, en die ander een 5421
korrels. Sodoende het ek empiries bewys
dat dit ‘n beter koop is om by winkel A te koop as by winkel B.
Ek het ook die raaisel
wat vriend Mervin per Watsapp gestuur het, probeer uitwerk. Hy het diepe bepeinsing gedoen, en besef dat
die woordsomme wat ons op skool gedoen het, wel waarde het, want hy moes
belangrike berekeninge doen. Hy het 8 bottels wyn, en hy moet 20 dae uitkom
daarmee. Elke bottel het 4 glase wyn in.
Hy mag net tussen 14:00 en 23:00 wyn drink, sê sy vrou. Hy vra dat ek moet help uitwerk elke hoeveel
uur hy ‘n glasie mag skink. Ek kom agter
hoekom ek nooit goed was met woordsomme nie.
Die som is te moeilik vir my.
‘n Ander vriend deel
per vonkboodskap sy groot nuus. More kom
die munisipaliteit sy vuilgoed haal, en hy moet die swart sakke op die
sypaadjie gaan uitsit. Hy kan net nie
besluit wat om aan te trek nie! So lees
ek die een spitsvondige grappie na die ander op sosiale media. As daar een ding is waarmee ons as Suid
Afrikaners uitblink, is dit ons vermoë om krisisse te verwerk met humor.
Toe kry ek die
“please-call-me.” Die nommer vertel my
dadelik van wie dit is. Van ons
bestuurder, opsigter, versierder, nutsman, beheerpersoneellid, noem dit maar,
en hy is dit, van ons huisie in die Bo-Karoo.
Op sy facebookprofiel het hy sy naam verkeerd gespel, Jahonnes in plaas
van Johannes. Maar dit pla hom nie. Hy kan sy selfoon werk wat ons vir hom gegee
het, en hy is trots op sy profiel. Daar word van hom geweet, foto en al, op
sosiale media.
Ek bel hom. “Ek het net tee”, sê hy. “ Hoe lank al?” vra ek hom. “Vrydag.”
Saaklik. Ek reël met die
plaaslike winkeltjie op die dorp dat hy daar kan gaan olie, meel, suiker,
hoender en ander goedjies gaan koop. Ek
sal regmaak. Hy is die sout van die
aarde, eerlik, hardwerkend, en gebrei teen swaarkry. Hy het nie ‘n vaste werk nie, soos die meeste
van sy bure. Sy voete is kliphard gebrei
soos ou leer, omdat hy winter en somer kaalvoet loop. Hy het een paar skoene, en hy weier om dit na
enige ander plek as kerk toe te dra.
Sy groot trots is die
fiets wat ons hom gegee het, wat hy met presiesheid en deeglikheid in stand
hou. Sy beker het oorgeloop toe ek
anderdag vir hom ‘n stel fietsligte stuur, een vir voor en een vir agter. Dis gevaarlik as ‘n man in die nag op die
karoo se grondpaaie ry sonder ligte. Sy ander groot trots is sy John Deere pet,
diè een wat my seun amper weggegooi het, maar oplaas vir hom gegee het. Hy het dit silwerskoon gewas, en dra dit net
dorp toe as hy gaan meel, olie en aanmaakkoeldrank koop. Die ou televisiestel
wat ek wou weggooi omdat hy so flenters was dat selfs die wit olifanttafel by
die kerkbasaar hom nie wou gehad het nie, het hy wonderbaarlik reggekry om weer
te laat werk. Die sepies en sokker kleur
nou sy sielsdodende lewe in.
Die inperking raak hom
nie eintlik nie. Hy is gewoond aan
geisoleerd wees, gewoond aan nerens heen om te gaan nie, gewoond aan bitter min
kos, gewoond aan krane deel, gewoond aan sy draaie in die karoobossies loop. Dis net as die skroppies, die tydelike werk,
opraak soos nou, dat die mismoedigheid by hom kom lê soos ‘n brandsiek hond.
Gelukkig het hy nog een “life-line” oor: stuur ‘n vriend ‘n “please-call-me.”
Skielik begin ek dink
oor die landswye inperking. Hier sit ek
en ander bevoorregtes en tob oor ons rondrygewoontes ingeperk is, omdat ons nie
kan koop wat ons wil nie, omdat ons ons planne moes afskaal of verander, oor
ons kinders wat elders woon en nie kan rondbeweeg nie. Maar hoe min weet ek nie van die impak
daarvan nie? Wat maak jy as jy sewentig kilometer van die naaste dorp woon, en
daar is geen beweging van bakkies of voertuie nie, en jy het niks om te eet
nie? Hoe uiters desperaat moet mens nie
word nie?
Watter potensiële moeilikheid
kan daar nie wees as mense in die informele werksektor, wat tans geen inkomste
verdien nie, karwagte, trollieherwinnaars, selfoonlaaierverkopers by robotte,
mense wat plastieksakkies met appels en lemoene verkoop op die sypaadjie, begin
honger word? Hoe ver kan desperaatheid selfs ‘n eerlike, hardwerkende mens
dryf?
Wat doen jy as julle
tien mense is bestaande uit drie geslagte wat in ‘n tweevertrek sinkhuisie
woon, en ver is van een gemeenskaplike kraan, of tien opslaantoilette wat deur
‘n swetterjoel mense gedeel word? Soos
‘n vorige eerste minister gesê het: die moontlikhede is “too ghastly to
contemplate.”
Dit is verstommend
hoeveel mense nie eens waaroor die inperking gaan nie, wat nog te sê waak
daarteen. Die straatslapers, die wat
geen toegang het tot televisie en radios en koerante en internet nie.
Miskien kan ons, en
die res van die gesofistikeerde westerse wêreld, soos Italië, Spanje, Brittanje
en Amerika, iets sinvols gaan leer by ‘n eenvoudige kaalvoetman wat in die
karoo woon: Leer ons om te leef, Jahonnes.
Leer ons om te oorleef. Leer ons
dat lewe ‘n genade is, nie ‘n gegewe nie.
Leer ons.