Saturday, December 21, 2024

So is die lewe

Bookmark
Bookmarked

‘n Heerlike storie is diè van ene Troep van Tonder wat ‘n kamp moes gaan doen terwyl sy vroutjie hoogswanger by die huis is. Soos die gebruik in die spesifieke eenheid was, moes jy, as jy besig was met ‘n kamp en jou vrou kraam, vir die hele eenheid een rondte betaal in die kantien. Van Tonder het egter ‘n probleem gehad: hulle het vooraf geweet dis ‘n drieling. Dit sou hom ‘n maand se soldy, die helfte van sy pensioen, en al sy spanners by die pandjieswinkel ingee gekos het om die dankbare kele nat te maak. Uiteraard sou man en muis die aankoms van sy dierbare ou babatjie saam met hom wou vier, maar hy was nie werklik finansieel ‘n swaargewig nie. Maar Troep van Tonder is nie bang gebore of bang geboks nie: hy bedink ‘n plan. Sy vrou moes ‘n telegram basis toe stuur met die nuus as die babatjies daar is, maar op so manier dat niemand sou weet waaroor dit gaan nie. Die eenheid se keurder, wat alle pos wat ingaan en uitgaan moes lees en sensor, lees toe: Van Tonder, Van Tonder, Van Tonder. Twee met gewere en een daarsonder. Synde twee seuntjies en ‘n dogtertjie. Die sensuurmeester moes ‘n besonderse insig gehad het in wat presies geskryf is in briewe en telegramme deur en aan die troepe. Miskien het hy in graad een ‘n kwaai juffrou gehad wat agter hom gestaan het en seker maak dat hy korrek uit die Sus-en-Daan-reeks handboekies klank en lees: “Oom…rook…boom.” Dan is die woordvolgorde verander sodat die graadeendjies kan onderskei tussen ‘n vraag en ‘n stelling: “Rook…oom…boom?”
Wanneer mens die kommentare lees op sosiale media soos Facebook en Twitter, verlang jy soms intens na die kosbare lessies oor lees wat Sus en Daan ons geleer het oor die gebruik van taal. Skreeusnaakse goed word geplaas, soos die vrou wat vra “weet iemand waar hille mooi babekies se hare sny?” Dan antwoord iemand anders, baie gevat: “Ek is seker hulle sny lelike babatjies se hare ook.” Of die ander juweeltjie: “weet iemand van iemand wat goed kan teel op die dorp?” Dan die antwoord: “Gaan praat met Flippie. Hy teel uitstekend. Hy het al 5 kinders by twee vrouens.” ‘n Persoonlike frustrasie is wanneer iemand iets te koop aanbied op ‘n internet koop-en-verkoopgroep. Hy plaas dan iets soos: “Vier motorbande 165/65/13, 50% loopvlak, in Germiston te koop vir R200-00 elk. Dan die eindelose vrae wat volg: “waar is jy?” “Hvl tyres is da?” “Hu lyk die taairs” “Wat is die grote asb?” “Hvl kos dit?” “Ka ek dit ruil vir ou wasmasjien sonder motor?” Ek het die afgelope ses jaar as beoordelaar by die Wes-Boland Eistedfodd opgetree, ook in die kategorie onvoorbereide lees. Waar ek meermale verstom was oor moedertaalsprekers se onvermoë om basiese tekste in hulle eie taal te lees. Ek praat nie eers van verstaan wat hulle lees nie. Daar word dikwels berig oor taalvaardighede van skoolgaande kinders en volwassenes in die media. Verskeie redes word genoem vir die swak, en soms skokkende onvermoë van mense om eenvoudige sinne duidelik te formuleer en skryf, en andersins om dit sinvol te kan lees. Vele redes word gegee vir die swak lees- en skryfvermoë, soos die skoolstelsel, groot klasse, en dan ook veral die sogenaamde WhatsApp en sms-taal wat gebruik word op selfone, tablette, en rekenaars. Logiese, geordende sinkonstruksies bestaan feitlik nie meer nie, basiese taalreëls word geignoreer of glad nie eens van kennis geneem nie, en woorde word so afgekort dat ‘n hele nuwe jargon ontstaan wat vir oningeligte mense (dikwels ook tydgestremdes soos ek, om polities korrek te wees) moeiliker is om te verstaan as Grieks en Hebreeus vir ‘n eerstejaar teologiese student, of rekenkunde vir ‘n eerste jaar BCom-student.
Die organisasie Sakpas Afrikaans beywer hulle daarvoor dat WatsApp-taal, onder andere, as taal erken word. “Ons kan nie meer vashou aan die argaïese manier van skryf en dink nie” meen hulle. Daarom sal die syfer 0 nou as wisselvorm vir die letter “o” erken word, en “Q” as wisselvorm vir die verkleiningsvorm “tjie.” Woorde soos aws0m vir “wonderlik”, njoy vir “geniet” en awê vir “reg so”, sal ingesluit word. Objektief beskou is dit grusaam. Nie net word kommunikasie verstar nie, maar menswees, in filosofiese terme, word drasties ingeperk. Taal is die vorm waarin menslike gedagtes, emosies, wense, begeertes, behoeftes, asook uitinge van woede, blydskap en geloof gegiet word. Wanneer daardie vorm verklein word deur gebrekkige woordgebruik, verstaan mense duidelik nie hoe die spreker voel en funksioneer nie. Dieselfde met die lees van ander se sinne, die aanhoor van hulle woorde. Om dit oppervlakkig te doen, reduseer die totaliteit van die ander se betrokkenheid by diegene rondom hom. Die gevolge hiervan is op baie plekke sigbaar. In ‘n huwelik is dit van kardinale belang dat kommunikasie omvattend, eerlik en positief moet wees.Ook in alle ander verhoudings: ouer-kind, werksomgewing, sosiale kommunikasie. Dit is verstommend om, soos genoem, te sien watter reuse misverstande ontstaan op grond van ‘n oppervlakkige kommunikasieproses, lees en skryf ingesluit. Hans-Georg Gadamer beskryf die kommunikasieproses in sy denke oor hermeneutiek, of verstaanskunde, as ‘n horisonsversmelting tussen twee persone. As gesonde kommunikasie plaasvind, skuif die sprekers se wêrelde oormekaar met ‘n groter snypunt. Dit lei daartoe dat die deelnemer aan die proses se eie horison verruim word. Die teenoorgestelde is net so waar, helaas.
X nu sO mug nah di, k kani gl0 dis Mandag nie. (Ek is nou so moeg na die skrywe hiervan, ek kan nie glo dis Maandag nie.)