-

News So is die lewe

So is die lewe
S

Lidi de Waal is ‘n baie gewilde, talentvolle en bekende kunstenares van die Suid-Kaap. Wat haar kunswerke so besonders maak, is dat sy by baie van hulle ‘n gedig skryf wat die gees van die spesifieke skildery of beeld vasvang. Haar werke is rou eerlik, en soms baie persoonlik. So skryf sy die volgende by ‘n skildery van ‘n vrou:
“vir my klink om te declutter altyd na ń goeie idee / ruim op / minimaliseer / maak minder / vereenvoudig / maar dis nie sommer net vir woeps / daar’s als gedeclutter nie / nee dis werk en moeite en tyd / en jy moet dink wat vreeslik ergs sal gebeur as ek dié ding weggooi / en as ek dit weer nodig kry / sal ek dit kan leen of huur / is dié ding rêrig al die spasie wat hy opneem werd / anyway declutter jou huis…./ jy sal ligter voel / maar om jou lewe te declutter is meer belangrik / en jou kop ook / maar dis way out meer ingewikkeld / om ontslae te raak / ligter te maak / om jou lewe te vereenvoudig / om weg te doen met onnodig swaar mense en verpligtinge en selfopofferinge / en loodsware onthoue wat jou afrem. / Geseënd is die mens wat dit ligvoets regkry om te declutter.”
Jy verstaan iets hiervan as jy jou motorhuis regpak waar die kartondose nog net so staan sedert jy drie jaar gelede ingetrek het. Wat as ‘n onaangename taak voor jou lê om die goed uit te sorteer, word uiteindelik ‘n reuse ontdekkingstog. Boks een se inhoud, wat al twintig jaar onoopgemaak saam met jou trek, het jy totaal al vergeet van: jou menasiedrag uit jou dae as staandemaglid in die lugmag en leër. Meteens onthou jy die formele dinees, hoe die ou tradisies met groot presiesheid nagekom is. Die port- en wynflesse wat met die regterhand geneem word, en met die linkerhand aangegee word. Die president van die offisiersmenasie wat na die vyfgangmaaltyd op die ghong voor hom slaan, opstaan, en sy glas port uitsteek na die foto van die staatspresident wat teen die muur hang, en plegtig verklaar: “Dames en here, op die staatspresident.” Dan die hele geselskap wat opstaan, hulle glase lig, en soos een man sê: “Op die staatspresident.” Die kelners het daarna vir elke offisier ‘n sigaar aangebied en aangesteek. By een basis was dit tradisie dat die kapelaan juis dan ‘n grap of storie moet vertel. Of dit die kapelaan se grap was wat dit veroorsaak het, weet ek nie, maar dikwels het die formele dinee effe meer informeel geraak daarna. Met meestal ‘n groot boete vir die skuldiges en uitspattiges tot gevolg om die menasiefonds ‘n hupstoot te gee, of selfs iets ergers. Soos die een luitenant uitgevind het toe hy ‘n glas gelig het op die staatspresident, en luidkeels uitgeroep het: “Op die stasiemeester!” Hy het lank en duur daarvoor geboet. Of die kaptein wat in sy menasiedrag onder die tafels deurgekruip het, hangende medaljes klingelend, en die manne wat teenoor mekaar gesit het, se skoenveters aanmekaar gebind het kort voor die heildronk op die staatspresident. Met ‘n minder waardige heildronk tot gevolg. Of die keer toe julle laataand bok-bok gespeel het in die deftige offisiersmenasie, die oorlog vir ‘n wyle vergete. Dadelik weet jy: boks een word net so toegemaak, en gebêre.
Boks twee het dieselfde proses: die briefies van jou kinders toe hulle klein was. Die eerste briefie met ‘n prentjie van ‘n huisie waar die rook uittrek en stokmannetjies oortuig jou. “papa is n goeje papa ek is lif vir papa.” Boks twee bly. Boks drie dieselfde nadat jy jou ou skoolrapporte opspoor en al die punte en kommentare lees. Juffrou Struwig wat in die eerste kwartaal van graad een skryf: “Marius is ‘n goeie seun, maar is somtyds baie stadig.” Ditto, juffrou Struwig! Jou boks bly. So ook boks vier, vyf en ses. Et cetera. Tot al die bokse weer terug is presies waar hulle gestaan het.
Soos mens deur die opgegaarde goed van jou lewe kyk, wat “hoarding” genoem word in Engels, besef jy dat jy net so baie rommel versamel in jou kop en jou hart, goed waarvan jy eenvoudig net nie ontslae kan raak raak nie. Daarmee word nie bedoel aangename herinneringe of ervarings nie, ook nie hoogtepunte van jou lewe nie. Maar juis daardie bokse wat jy nooit oopmaak nie, omdat dit te seer is. Of nog steeds jou vernederd laat voel. Die oomblik as jy aan daardie gemoedsbokse raak, kom ook dáárdie onthou terug. Woede, skaamheid. Bitterheid. Soos Koos Doep sing: “As almal vêr is, word die hart skielik oud…/ as die wêreld ‘n ster is, afsydig en koud…/ smee die gordyne ‘n komplot teen die lig/ krimp die kosyne en deure sluit dig / as almal ver is, vind jy jouself/ waar jy in stilte in ou hartkamers delf.”
Dit is waarvan Lidi praat as sy sê: “Geseënd is die mens wat dit ligvoets regkry om te declutter.” Ligvoets is dit beslis nie. Maar bevrydend wel. Dit is nogal ‘n missie om ontslae te raak van daardie dowwe kopkiekies, en vry te word. Daardie onoopgemaakte bokse van jare terug kan vandag nog oor mens hang soos die Spookmeisie van Uniondale. Al is dit nie so eenvoudig om juis die donker dinge weg te gooi nie, bly dit egter ‘n katarsis, ‘n suiwering, as jy dit kan regkry. Dit verg waagmoed. “Decluttering” is nie vir sissies nie. Nie vir stadige mense soos ek nie….

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here

So is die lewe

- Advertisement -

Latest news

SA needs 365 days of activism to tackle gender-based violence

John Steenhuisen released the following statement on gender-based violence South Africa’s coronavirus pandemic...

A message from the Executive Mayor on the World AIDS Day

Message of the Executive Mayor on World AIDS Day Greetings to all citizens...

Kers Boeremark in Bethal

BETHAL- Coniforest Kwekery, Bethal, bied op Saterdag, 5 Desember ‘n Kers Boeremark aan.

Blood levels are very low at the onset of the Festive season.

The Blood levels are critically low at the moment. Blood stocks fluctuate throughout...

You might also likeRELATED
Recommended to you