-

News So is die lewe

So is die lewe
S

‘n Mens vermoed dat iets verander. Nie heeltemal so skielik nie, niks dramaties of begeleid deur trompetfanfares nie, maar desondanks. Die lang dae op die weskus raak korter, die son gaan nie meer negeuur in die aand onder nie, die oggendstond het ‘n traagheid om aan te breek. Jou vermoedens word bevestig as jy begin ekstra komberse op die bed gooi, soek na ‘n warm ding as jy uitgaan, en opgekrul sit om jou liggaamshitte te behou. Herfs is op pad. Johan Myburg skryf: “die dae het onrustig geword / met die pote van duiwe op die windgrys dak / dit het onherroeplik winter geword.”
Maar hierdie jaar is die vermoedens vir my veel wyer. Jy begin dit veel nader ervaar. Jou eie lyf vermoed dat herfs vir jou begin aanbreek as jy in die oggend sukkel om jou lyf regop te kry in die bed. Jy het pyne waar jy nooit beseer is nie. Jou rug en heupe klap soos klaterende geraamtes as jy hinkepink badkamer toe strompel. Jy staar na jou gesig in die spieel en dink aan die woorde van ‘n onderwyser op laerskool wat jou en jou maats altyd aangespreek het nadat julle drooggemaak het met die woorde: “Dis ‘n lelike ding wat sy kop hier uitsteek!”
Jy vermoed jy word oud as jy nie meer skoene wil aantrek nie, omdat jou voete brand, en dan waaghalsig genoeg is om SPAR toe te gaan met jou skaapvelpantoffels. Jy kry ‘n sardoniese glimlag as jy sjloef-sjlaf tussen die rakke, en onthou hoe jy op jou dag baie gesteld daarop was om netjies aangetrek te wees waar jy ookal gaan. Jou openbare beeld was vir jou belangrik. Nou is jy net nog een skuifelende gedaante tussen klomp ander wat negeuur in die oggend niks anders het om te doen as om die pryse van geblikte tamatie-en-uiesmoor te vergelyk nie. Jy doen dit verbete, asof jy die totale ekonomie van die land sal omkeer as jy uiteindelik met sekerheid kan bepaal op watter blikkie Jan Publiek die meeste sal bespaar. Vir ‘n vlietende oomblik is jy bly dat jou pa jou nie nou sien nie; want eintlik het jy jou kleredragreëls by hom geleer. Hy het ‘n baadjie en das gedra as hy gaan hare sny, as hy vendusie toe gaan, en selfs as hy op Durban se strand sit op ons vyfdaagse vakansie elke Desember. Dan het hy op ‘n stadium opgestaan, sy baaikostuum gaan aantrek en ‘n paar duike gaan vat in die see, en dan weer sy baadjie en das en netjiese broek gaan aantrek. Jy onthou ook die baie streng reëls in die weermag vir offisiere as hulle in die openbaar verskyn. Jy mag nie pakkies gedra het nie, of ‘n trollie of waentjie gestoot het nie, jou skoene moes blink en jy mag nie jou vrou se hand vasgehou het nie. Dit tref jou skielik dat jy nie hare gekam het voordat jy winkel toe gegaan het nie, en dat jou paar hare wat oor is nou elkeen in sy eie rigting gaan op jou kop. Jy hoop maar dit sal wees soos die titel van die fliek : “Every which way but loose.” Gelukkig is Langebaan baie meer laid-back as sê-nou-maar Waterkloof of Sandton, en dis nie vreemd om sesuur in die middag iemand in die winkel raak te loop wat alreeds ‘n fleurige nagrokkie, pienk japon met wit hartjies en oop pantoffels raak te loop wat vinnig kom melk en brood koop nie.
Jy vermoed jy word oud as jy moet kies tussen ‘n nuwe tang en ‘n nuwe anti-inflammatoriese salf op die rak wat help vir jig. Wat sal jy in elk geval met nog ‘n tang wil maak? Jy vermoed jy word oud as ‘n grys man met sy kleinkind op die arms jou vriendelik groet in die hysbak, daar waar jy omring is deur perskoppe, en sê: “hoe gaan dit met oom?” Jy vermoed jy word oud as die petroljoggie jou groet met: “more Oubie!,” in plaas van “hoesit my Lanie”! Jy vermoed jy word oud as jy na baie dae se wik en weeg jouself met moeite op jou BMW 1100 motorfiets gelig kry, en dan met euforiese vreugde afry strand toe, om daar tot die werklikheid teruggeruk te word: waagmoedig en heldhaftig sit jy voor die opelugrestaurant vol vakansiegangers, wat met toenemende belangstelling sien hoe jy sukkel om die motorfiets in die sand agteruit te stoot. Jy is ook nie dapper genoeg om op die strand self vorentoe te ry nie. Almal vergeet van die garnale en kreef op hulle borde, en staar jou openlik geamuseerd aan. Totdat twee jong kelners uiteindelik aangehardloop kom, en een-twee-drie-hup jou motorfiets agteruit sleep sodat jy kan ry. “Moenie worrie nie oom!” Gelukkig het jy ‘n valhelm op en word jou gesig nie op die toneel gesien nie. Jou vermoedens word al meer bevestig.
Uiteindelik vind jy troos in die bekendheid van jou studeerkamer, as jy Breyten Breytenbach lees: “vriende, medesterwendes, / moenie huiwer nie; nou hang die lewe / nog soos vlees om ons lywe maar die dood beskaam nie; / ons kom en ons gaan…/ ons béne sal die vryheid kén – kom saam / in my sterf in na my vader gaan / Wellington toe waar die engele / met wurms vet sterre uit die hemel hengel; / laat ons sterf en vergaan en vrolik wees: / mý vader het ‘n groot bôrdienghuis.”

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here

So is die lewe

- Advertisement -

Latest news

A message from the Executive Mayor on the World AIDS Day

Message of the Executive Mayor on World AIDS Day Greetings to all citizens...

Kers Boeremark in Bethal

BETHAL- Coniforest Kwekery, Bethal, bied op Saterdag, 5 Desember ‘n Kers Boeremark aan.

Blood levels are very low at the onset of the Festive season.

The Blood levels are critically low at the moment. Blood stocks fluctuate throughout...

Zuma elected New Executive Mayor for GMM

ELECTION OF THE NEW EXECUTIVE MAYOR AND THE APPOINTMENT OF THE MEMBERS OF THE MAYORAL COMMITTEE

You might also likeRELATED
Recommended to you