Die eksistensiefilosofie maak veel van hoe ‘n mens se keuses, alhoewel dikwels noodgedwonge, die gang van jou lewe bepaal. Martin Heidegger redeneer byvoorbeeld in sy werk Sein und Zeit dat ‘n mens in ‘n bestaan ingeslinger (gewerfen) word, wat hy “Dasein” noem. Hier moet hy sy eie opsies uitoefen, of “untwerp”, keuses maak om so maklik as moontlik te leef en oorleef, totdat hy uiteindelik weer deel word van die “syn van die syndes,” waar hy vandaan kom. Dit beleef mense al van kleins af. Hoe jy wil reageer teenoor sekere gebeure in jou lewe, hoe jy jou sin kan kry, ensomeer. Natuurlik word gedragspatrone ook vasgelê deur ouers en vele ander rolspelers, maar die uiteindelike keuse lê by die individu.
Daar is hordes klein beslissings wat ons elke dag maak, relatief onbelangrik. Trek ek ‘n blou of wit hemp aan, watter broek dra ek? Dis nie aardskuddende dinge wat die gang van my en ander mense se lewens beinvloed nie. Maar daar is wel veel groter besluite wat drastiese gevolge kan hê vir my bestaan as mens. Elkeen ervaar die veelkantige implikasies van sy besluite. Dikwels het jou besluite positiewe gevolge, maar die kanse is ook goed dat sekere besluite verwoestend kan wees.
Die vriendekring waarmee jy jou vereenselwig, die vakke waarmee jy aangaan op hoërskool, die rigting waarin jy verder gaan studeer, het uiteindelik bepaalde invloede op jou bestaan as mens. Vele jongmense het al afgestudeer, net om na drie of vier jaar se studie te besef dat hulle gekwalifiseerd is vir ‘n loopbaan waarvoor hulle geen passie het nie. Dan ook die besluit met watter lewensmaat jy gaan trou. Die egskeidingstatistieke bewys onweerlegbaar dat vele mense in die strik getrap het, en steeds gaan trap om die verkeerde besluit te maak hieroor, dikwels met verwoestende gevolge vir ‘n klomp ander mense, soos kinders, familie en vriende. So ook met loopbaankeuses, plekke van aftrede en beleggings van jou swaarverdiende geld. Daar is vele hartseerstories oor mense wat op hulle oudag finansieel swaarkry as gevolg van een onbesonne besluit oor wat om met hulle pensioen en beleggings te doen.
Die impak van die kritieke belang van momentele besluitneming is ook toentertyd by kandidaatsoffiere tydens offisierskursusse ingedril. Menige kandidate wat fisies besonders geskik was om offisiere te wees, het uitgeval juis as gevolg van hulle onvermoë om in ‘n krisisoomblik ‘n lewensnoodsaaklike besluit te neem. Ek het dit besef nadat ek op die facebookgroep Die Nagkantoor ‘n plasing gelees het deur Tina Swiegers wat destyds ‘n joernalis by die Beeld was.
Ek plaas haar vertelling verbatim, (met my aanpassing oor die tipe vliegtuig). “Ek wonder of Gert Vosloo nog hierdie storie onthou. Ek en hy moes iewers in 1975/76? ‘n uitpasseringsparade op Voortrekkerhoogte dek. Daarvoor moes jy al 7:00 op die paradegrond wees. Dit was lag-lag die mees gehate joppie in my boek. Tydens ons terugrit in die Beeld-Volla sien Gert hoe ‘n Impala baie laag oor die huise op die Monumentpark-koppie vlieg. Terwyl hy sy verbasing uitspreek, sit hy voet-in-die-hoek en jaag in die rigting van die vliegtuig. Die volgende oomblik sien ons net ‘n bol vlamme.
Ons was binne oomblikke op die toneel. Die brandende wrakstukke het wyd verspreid op die oop stuk veld gelê. Die Impala het letterlik ‘n teerpad verwyderd van die huise neergestort. Ek onthou hoe ek asof van buite my liggaam die verskriklike toneel waargeneem het. Ek en Gert was die enigste mense op die toneel. Terwyl hy foto’s neem het ek tussen die wrakstukke loop soek vir die vlieënier.
Ek het uiteindelik langs ‘n bondeltjie brandende mens tot stilstand gekom. Hy was reeds besig om te verkool. Daar was niks wat ons vir hom kon doen nie.
So het die jong luitenant Winterbottom daardie dag as ‘n held gesterf. Hy kon homself uitgeskiet het, maar hy het die vliegtuig veilig oor die woonhuise geloods om as die enigste slagoffer in die ramp om te kom.
Ek onthou ‘n paar dae later op Winterbottom se begrafnis hoe sy ma soos ‘n standbeeld gestaan het. Sy was ‘n lang vrou in ‘n netjiese swart twee-stuk. Haar hare, ‘n grys bob. Sy het geen emosie getoon nie. Sy het aan die bo-punt van haar kind se graf gestaan. Lot se vrou. En ek kon nie ophou om na haar te staar nie. Dit was die stilste smart wat ek ooit aanskou het. Die lang, regop vrou sonder ‘n traan.”
Ek het hierdie gebeure as oud-Lugmag beroepsoldaat verskeie kere gehoor in die verlede. Ek het al dikwels daaroor gepreek. Maar dit was asof ek dit vir die eerste keer gehoor het. Die statige, stukkende ma wat saam met die offisiere haar enigste kind se kis salueer. Hy kon geleef het as hy volgens noodprosedures betyds uitgeskiet het. Maar hùlle daar onder, die inwoners in Steenboklaan, die kinders in Laerskool Monumentpark, hulle sou beslis nie oorleef het as die brandende Impala op hulle sou val nie. En hy het besluit in ‘n breukdeel van ‘n sekonde. Dit sou hy wees.
En skielik het Kevin Winterbottom se verhaal vir my die sentreerpunt geword van alle besluite wat ek ooit al gemaak het. Watter impak het my besluite gehad op ander mense se lewens? Hoeveel mense is daardeur verryk? Aan die ander kant, hoeveel mense het seergekry deur die verkeerde en dom besluite wat ek gemaak het, ek ingesluit?
Hoog bo ons kortstondige, turbulente bestaan met sy magdom regte en verkeerde besluite, klein en groot, troon daar èèn besluit uit wat alle ander oortref. Op ‘n kaal koppie buite Jerusalem was daar ook ‘n jong man wat ‘n besluit geneem het. Dit was óf Hy, óf ons. En soos Winterbottom, het Hy gekies. Hy was ook ‘n enigste Seun.