Nooi my as ‘n vriend op Facebook, en ek kan binne ‘n paar minute sien hoe jou lewe lyk. Of jy van visvang hou, watter soort musiek jy luister, wat jou politieke oortuigings is, wie jou vriende is, wie jou helde is. Ek sal selfs sien kan hoe jou kind op skool vorder, watter toekennings en grade hulle verwerf het, aan watter universiteit hulle studeer. Watter rugbyspan jy ondersteun. Daar sal dalk ook ‘n mooi collage wees van jou kinders se troufotos en videos, en die fraaiste fototjies van jou kleinkinders. Gelukkige fotos saam met vriende en familie. Ek sal ‘n duidelike beeld kan vorm oor jou sin vir humor, selfs jou innerlike begeertes, behoeftes en frustrasies deur die grappies wat jy plaas. Jou lewenservaringe kan gereflekteer word deur die aanhalings van bekendes wat jy plaas. Dikwels is daar ook kriptiese inligting van jou lewensinventaris op Facebook, juis deur dit wat jy nie plaas nie, sê jy baie: jou status sê jy is getroud, maar daar is geen foto van jou lewensmaat nie. Hoekom? Wat het verkeerd geloop? Jy het twee kinders, maar daar is net plasings en foto’s van een. Waarom is dit so? Jy plaas niks oor jou verlede nie. Is daar ‘n spesifieke rede daarvoor? Dan is daar ook die oordele wat duidelik uitgespreek word: “jy moet maar lekker slaap, jy wat my so in die rug gesteek het,” en ook :”jou dag sal kom.” Facebook word die slagveld waarop baie mense hulle eie gevegte voer, vir alle lesers om te sien, terwyl hulle meestal geen idee het van wie gepraat word of waaroor dit gaan nie. Dikwels kom politieke frustrasies ook sterk na vore op mense se facebookblaaie, twiets en WhatsAppboodskappe. Reaksie op leiers se uitsprake, nuusgebeure en skandale word blitsvinnig versprei op sosiale media. Sosiale tragedies word verwerk deur grappe daaroor te maak. Die ware aard van sosiale media is egter dat dit baie tydsgebonde is, en meestal heel oppervlakkig. Dis kwalik ‘n betroubare bron van enige iemand se ware self, en kan maklik gemanipuleer word om ‘n bepaalde beeld te projekteer. Agter baie fraai glimlagfototjies kan daar groot somberte en ongelukkigheid opgesluit lê. Facebook is ‘n eenvoudige en gewilde masker om agter weg te kruip.
Daar is ‘n ander bron, minder openbaar, maar veel meer analities, oor wie iemand werklik is. As jy ‘n persoon wil leer ken, gaan kyk rustig deur die boektitels wat op hulle boekrakke staan. Jou boeke is die skerp skalpel wat jou gemoed en geestelike leefwêreld vir ‘n paar ingeligtes oopmaak, wat tot in die diepste vesels jou wese dissekteer. Op ‘n stadium het ek van meer as die helfte van my eie boekery ontslae geraak. Hulle sommer net op ‘n hoop gegooi in my kantoor wat ek ontruim het, sodat elkeen wat wou hê, kon gaan haal. Maar, agterna beskou, dit was ‘n geestelike en emosionele amputasie, ‘n desperate poging tot katarsis, as’t ware ‘n rebelse verset teen die noodlot wat so paar jaar terug in my lewe ingegryp het. Verskeie boeke het oppervlakkige en soetsappige oplossings aangebied: Glo net, vertrou net. Alles sal regkom. Niks gebeur met jou waarvoor jy nie sterk genoeg is nie. Sewe stappe tot ‘n vervulde lewe. Maklik. Eenvoudig. Doen net dit of dat, dan sal jy floreer. Ad infinitum. Menings wat verdien om weggegooi te word.
Maar ‘n gebrek aan boeke veroorsaak ‘n vakuum in jou lewe. Jy stap soms by rakke en rakke boeke verby, en verwonder jou daaraan dat elkeen van daardie boeke ‘n neerlegging is van mense se denke en ervarings, die vormgewing van verbeelding en kreatiwiteit wat neergepen word sodat andere se lewens daardeur aangeraak en verryk kan word. Hoeveel ontelbare stories en onderwerpe daar in die lug is wat wag om geformuleer en neergeskryf te word. Sommige daarvan is legendaries, boeke wat jy bewaar en oor en oor lees. Die groot verlange, deur Leon Rousseau, oor die lewe van Eugene Marais. Kritik der Reinen Vernunft, deur Immanuel Kant. Sein und Zeit deur Martin Heidegger. Na die geliefde land. (Dit is ontstellend hoe akkuraat die omstandighede van vandag alreeds in 1972 deur Karel Schoeman in hierdie distopiese roman beskryf is.) William Shakepeare en Johann Wolfgang von Goethe se ewigdurende woorde, wat vandag nog net so relevant en onherhaalbaar wys is. Charles Dickens se Tale of two cities. Biografieë oor Suid Afrikaanse leiers sedert Sarel Cilliers tot Cyril Ramaphosa gee jou ‘n wyer perspektief op wat aan die gebeur is, en waarom. Dan daardie put van skatte wat ek ontdek het in Langebaan. Vakansiegangers en inwoners wat afskaal skenk houers vol boeke vir die plaaslike projek vir dierebeskerming by die dorpsbiblioteek. Op hierdie wyse het ek al my spookasemboeke wat ek weggegooi het, vervang met boeke van onskatbare waarde. NP van Wyk Louw, Lina Spies se volledige versameling digbundels, Antjie Krog, Herman Charles Bosman, Sheila Cussons. Teen R2-00 stuk. Calvijn se dik kommentaar op Psalms en die Johannes Evangelie. Teen R4-00. Rakke vol essays en romans deur bekende skrywers. Nie een duurder as R20-00 nie. My versameling Andrè P Brink is volledig, danksy die biblioteek.
Maar daar is vir my ‘n stuk hartseer in om deur die afslagboeke te soek. ID du Plessis se digbundel is voorin deur homself onderteken, en aan “Geagte vriend Jakobus” gegee, in 1957. Hoe het dit hier beland? Is dit werklik net R1-00 werd? Die kosbare reeks Kinders van die wêreld, volume 1-8, wat ek vir R20 gekoop het, is elkeen voorin beskryf met ‘n baie bewerige handskriffie. “Aan my liefste kleinkind Fanie, met liefde, jou Ouma. Kersfees 1967.” Fanie, hoe kon jy jouself so mutileer?
Hierdie kosbare woorde is meer werd as 1000 woorde op Facebook.