Monday, January 20, 2025

Tannie Poppie se Grooitjie se piekelkwepers

Bookmark
Bookmarked

Grootjie se piekelkwepers Soms het mens net lus vir ‘n suur-suurtjie kweper. Hierdie piekel is heerlik saam met wildsvleis, koue vleise, kaas en kerries. Ek het die resep by Hetta van Deventer-Terblanche gekry, wat dit weer op haar beurt uit ‘n ou tydskrif-bêreboekie oor oudae se resepte gekry het.
Jy het nodig:
6 kwepers
Vir die stroop:
250 ml asyn
80 ml suiker
2 stukke pypkaneel
4 naeltjies
2 steranys
1 rooi brandrissie, ontpit en opgesny
Metode:
Sny die kwepers in kwarte en verwyder die pitte en harde dele.
Stoom vir ongeveer 15 minute oor kookwater.
Berei die stroop intussen deur die asyn en suiker oor lae hitte te roer tot die suiker opgelos is.
Bind die pypkaneel, naeltjies en steranys in ’n moeseliendoekie toe en voeg by die stroop.
Verhoog die hitte en laat kook.
Voeg die kwepers by en prut vir 20 minute.
Voeg die brandrissie by.
Skep in gesteriliseerde bottels en verseël dadelik.
Nota: Piekel verwys na groente of vrugte (of ’n mengsel daarvan) wat in ’n speseryerige asynsous ingelê word, teenoor pekel, wat ’n soutoplossing is wat byvoorbeeld vir ham gebruik word.