Thursday, December 19, 2024

So is die lewe: Tyd vir stilte in hart van stormwind

Bookmark
Bookmarked

Geniet nog ‘n aflewering van “So is die Lewe” uit die pen van Marius Britz.

Slegs iemand wat totaal kop-in-die-sand leef, soos ‘n volstruis, sal op hierdie spesifieke tydstip van ons geskiedenis, voor ‘n komende belangrike verkiesing wat ons toekoms as Suid Afrikaners drasties kan beinvloed, nie weet dat dit maar turbulente tye is nie, dat ons daagliks voel asof ons in ‘n vliegtuig is wat opstyg in stormweer, Zumafikasie en Zondofrustrasie, stygende lewenskostes, politieke dreigemente oor die wysiging van Art 25 van die grondwet, voorgestelde wetgewing om wapens van wetttige eienaars weg te neem, leuens, onthullings oor astronomiese korrupsie, skelmstreke en sulke groot bedrae wat gesteel is, dat jy nie eens die bedrag kan uitspreek nie.

(Terloops, dit wek ‘n bietjie simpatie by my as ek dink aan ‘n vorige staatsleier wat dieselfde onvermoë as ek ervaar om ‘n massiewe klomp syfers korrek te kan lees. My banksaldo het boonop nog ‘n minus vooraan.)

Dit is asof daar daagliks nuwe onthullings en berigte oor baie sonde wat oor ons uitgestort word, soos ‘n dame wat verklaar dat as sy haar man se (geborgde) kredietkaart gebruik, is R30 000-00 nie geld nie. Sy is gewoond aan R300 000-00 vir een handsak. Almal lag en die drie manne uit die Ooste (nie wyse manne nie), betaal met goud, poste en drasakke vol geld. Diè goed besoedel mens se gemoed, soos wanneer jy ‘n emmer vuil water by die deur uitgooi en die onskuldige Woefie tref. Hy skud dan die water van sy lyf af, en gee jou ‘n vies kyk.

Vervaard soek baie mense na innerlike vrede, na orde en ‘n asiel teen die alledaagse geraas. Jou eie veilige plek, waar jy die rumoer in die wêreld weer in perspektief kan kry. Dit kry ek toe een aand laat in my studeerkamer.

Dit het alles begin toe ek my lyf rangskik op oupa se 100-jaar oue Art-Deco leunstoel, ‘n Jacques Brel-plaat op die Pioneer-hoëtroustel se draaitafel opsit, en ‘n boek oor Baruch Spinoza oopmaak, ‘n rasionalistiese filosoof wat sy denke neergepen het omtrent dieselfde tyd toe Jan van Riebeeck en sy makkers op die Rijger, die Tijger en die Titanic (Bron: Tolla van der Merwe) by die suidpunt van Afrika aangekom het om ‘n snoepwinkel oop te maak, en toe die Waterfront, die N1-stad winkelsentrum, die Metrotreine, die kabelkarretjie bo-op Tafelberg en die naglewe so geniet het, dat hulle dit sommer vir die Hollanders gevat het.

lewe
Baruch Spinoza

Met sy Duits-Joodse agtergrond het Baruch Spinoza ‘n logies-mistieke siening oor die heelal, en oor God. Sy denke oor parallelisme tref my: die musiek in hierdie wêreld is soos die punte van ‘n simfonieorkes se vioolstrykstokke: alhoewel hulle nie verbind is nie, beweeg hulle in harmonie om die mooiste melodieë te speel. Die harmonie word bepaal deur die Dirigent voor hulle wat hulle lei.

Ek besef dat my sensitiwiteit oor die kakofonie in Suid Afrika my gemoed laat reageer met ‘n opstandigheid, ‘n siniese pessismisme, selfs ‘n woede oor ‘n klomp dinge wat gesê en gedoen word. Die klanke in my gemoed moet gesinchroniseer word; die heelal en sy stormagtigheid met geherrangskik word tot ‘n harmoniese geheel. En net ek kan dit doen.

En so word dit ‘n ontdekkingsreis. Die plate en cd’s van Pink Floyd en Led Zeppelin, waarvan ek ‘n groot aanhanger is, sal nie deug nie. Dit sal net die gedruis groter maak. Terwyl Brel sing: “Ne me quitte pas”, haal ek ‘n Mozartplaat uit sy plastieksakkie uit. Sy konsert vir Klarinet in A-majeur, K 622, het dieselfde effek as wanneer die troepe uit pas raak op die paradegrond, en die korporaal gee die bevel: “Herstel!” Die strykstokke in my gemoed hou onmiddelik op om elkeen sy eie wysie uit te krys. Die klarinetmusiek voer my na Openbaring 21. So moet dit klink as jy in die hemel aankom. Verhewe en vredig.

Ne me quitte pas, Jacques Brel

Die warm vinielklanke van die plaat vloei soos soet, goue stroop wat ‘n gevoel van welgeluksaligheid deur jou laat vloei. Dit moet ‘n plaat wees, opgeneem van meesters soos die Berlynse Filharmoniese orkes, nie ‘n ghetto-blaster met ‘n sintetiese orkes nie. ‘n Snaakse ding kan dan met jou gebeur. Die groot, wrede wêreld daarbuite krimp tot die knus ligkring om jou, gevul met hemelse musiek. Een na die ander plaat laat die strykstokke van jou harts- en kopmusiek volmaak begin harmonieer.

Die duet “In hierdie heilige tempel”uit die Pêrelvissers van Bizet transformeer jou binneste tot ‘n gesuiwerde Umwelt, ‘n bestaansruimte tydelik afgesonder van die lewe buite die venster. Jy raak bewus van die Dirigent bý jou, vóór jou, ín jou. Jou eie, persoonlike, heilige tempel. Die wanklanke van pyn, van alleen, van stres en berou, vervaag. Dit het dieselfde effek as die pyninspuiting wat die verpleegster na ‘n operasie direk in jou aar inspuit. ‘n Welgeluksaligheid verlam jou, vloei deur jou hele lyf. Hier-en-nou word getransendeer tot ‘n ander bestaan, ‘n hoër modus van leef.

Mimi Coertze versterk die effek: “My hart verlang na die stilte / van die wye, wuiwende veld / ek is moeg van die rustelose lewe, van mense wat kom en gaan.” Beethoven se sesde simfonie, die pastoraal, in F-majeur, se laaste gedeelte demp finaal die onrustigheid in jou, gee aan jou asiel teen die lewe se verniel. Die doel van die hele ervaring raak duidelik. Die geraas in die wêreld is onteenseglik daar. Ek en jy het nie beheer oor andere se uitsprake en korrupsie en geweld nie.

Lees ook: So is die lewe: Musiekmakers

Ons kan nie man-alleen die sinloosheid in die wêreld omkeer, of die trane van ‘n menigte huilendes afvee nie. Maar ons kan ons eie perspektiewe, dat daar veel meer in die lewe is as wat ons dink, ons vrede, in stand hou. Ons kan ons eie binneste orden, deur eenvoudige opsies. Soos om die vals note in ons gemoed te harmonieer, vredig te lewe. Deur te kyk na die Dirigent voor ons.

En soos Edith Piaf kan ons luidkeels sing: “Non, je ne regrette rien.” Ek is oor niks spyt nie. Nie die goed of die sleg nie.