Wednesday, December 18, 2024

So is die lewe: Tak

Bookmark
Bookmarked

Koos du Plessis skryf: “Eenvoud is die vreugde van die lewe: / dis gee en neem net wat daar is; / dis dankbaar eet van elke skewe / snytjie brood wat liefde is.” Hoe meer jy oor hierdie gedig dink, hoe meer val die wêreld om jou in plek, asof jy die legkaartstukke van lewe beter in plek geplaas kan kry. Die sirkel van mense se lewens is soms so komies, by gebrek aan ‘n beter woord. Hulle werk hard en lang ure om meer en beheer te besit, om finansieel in staat te wees om die lewe, volgens hulle verwagting, beter te leef.

In die proses word die lewe vir baie ‘n proses van gesofistikeerde kompilasie en opwaartse mobiliteit: meubels, motors, huis, posvlak, kwalifikasies, beleggings, eiendomme, noem maar op. Maar eendag, skielik, begin hulle afskaal. Want al die dinge waaraan hulle so hard gewerk het, is nie meer nodig nie, maak nie meer sin nie. Die man wat die kroon van ‘n loopbaan bereik het, vind skielik dat sy huis te groot en te vol is. In die proses van leef het hy die lewe misgeloop, toe al hierdie goed alles was wat sin gemaak het.

Op ‘n dag, egter, is sy grootste vreugde en enigste behoefte die woonstelletjie in Huis Wittekruin waar hy saam met sy lewensmaat op die stoep sit, altwee nog met redelike goeie gesondheid, ‘n gehekelde kombersie oor sy bene, en ‘n koppie tee waarin hy ‘n stukkie beskuit doop voordat hy slurpend die laaste slukkies tee opdrink.

Hulle lewe reflekteer nou agtertoe, nie meer foto’s van gholfdae saam met bekendes nie, nie meer goue sertifikate vir uitnemende prestasie in die maatskappy nie, maar wel rye en rye foto’s van die kinders en kleinkinders.

Hierdie lewensles het ek vroeg in my lewe reeds geleer. Daar iewers in die Bo-Karoo, op ‘n familieplaas, het twee ongetroude broers sedert hulle kindsdae gewoon in die oorspronklike opstal wat meer en meer vervalle geraak het. Hulle was ware kluisenaars wat selde iewers gekom het, selfs nie in die bad of stort nie. Hulle kon glad nie bestuur nie. In die voorkamer het ‘n groot potret van genl.

Jan Smuts gehang, en hulle het met groot stelligheid dit seker gemaak dat hulle nooit vir iemand anders sou stem nie. Hulle voorrade is aangekoop deur ‘n broerskind wat een keer per week daar aangegaan het op pad dorp toe. Daar was ‘n paar uniekhede om hulle leefstyl. Hulle het glad nie gewerk of geboer hulle lewe lank nie, maar geleef van ‘n trustfonds wat hulle pa vir hulle nagelaat het.

Die huis, die stoor en selfs die hoenderhokke was gepak met die mooiste antieke meubels, weliswaar verweerd en verniel van jare in die moordende Noord Kaapse son. Nie een van die twee het formeel skool gegaan nie, maar tog was hulle intelligent. Daarvan het die gereelde pakkies van oorsee wat by die poskantoor aangekom het, getuig. Boeke oor ‘n wye reeks van onderwerpe: sielkunde, teologie, geografie en sterrekunde.

Waar anders as in die Noord Kaap is daar ‘n beter plek om sterrekunde te bestudeer? Hulle het ‘n verdere eksentrieke streek gehad. Hulle het niks weggegooi nie. Leë blikke, bottels, kartonhouers, koerante en tydskrifte is gebêre. Dit sou ook seker opgaar of “hoarding” genoem kon word. Hulle het ook nooit vir enige iemand die deur oopgemaak nie, behalwe hulle niggie wat hulle voorrade gaan aankoop het.

Daar was skynbaar ‘n paar onderonsies as sy met haar tipiese raakvat boervrou-geaardheid soms probeer het om orde in hulle Utopia te skep. Niemand mag aan hulle goed geraak het nie. Ek het as predikant verskeie kere daar probeer besoek aflê, maar hulle het nooit reageer op my geklop nie.

Tot ek eendag die ou gietysterbed wat onder die afdak lê uitgesleep het, en gemaak het of ek dit agter op my bakkie wil gooi. Skielik het hierdie twee krom oompies met hulle verflenterde hoedens by my gestaan. Sommer net daar, in die bloedige son, het ons hulle saligheid en ewige bestemming bespreek.

Na die afsterwe van die ouer broer van die twee, het die ander een dorp toe getrek na sy nagmaalshuis toe, wat ook deel van sy erfenis was. Op ‘n manier het ek en hy beter begin kommunikeer. Hy het sy boeke vir my gewys, maar kon nie regtig aan my verduidelik waaroor elkeen van hulle gehandel het nie.

Weekliks het ek hom sien loop met sy mandjie na die plaaswinkel waar hy gaan eiers, brood melk en boeliebief koop het. Sy stapelvoedsel. Dikwels het hy ‘n koevert gehad wat hy gaan pos het by die winkel, wat ook as poskantoor gedien het. Die een jaar sien ek toe in die nuwe telefoonboek dat daar ‘n “doktor” op die dorp woon.

Nou op ‘n dorp met 35 inwoners is dit onmiddelik opmerklik. Dit was toe my buurman in sy nagmaalshuisie, wat nou as doktor M bekend gestaan het. Nou ek, synde ‘n nuuskierige siel, het onmiddelik gaan gelukwens. (En uitvra.) Op my vraag waarin hy, wat nooit op skool was nie, sy doktorsgraad verwerf het binne drie maande, het hy die naam van ‘n Amerikaanse instansie genoem. Sommer so algemene doktoraal. Sielkunde, teologie, sterrekunde, medisyne en ingenieurswese. So ietsie van alles.

Maar hy was gelukkig. Binne sy leefwêreld het hy alles gehad wat hy kon begeer. Hy was skatryk aan vrede. Selfgenoegsaam. Tevrede. Niks uitstaande drome of ambisies nie. Sy sleurgangroetine was die sin van sy lewe. Sy illusie oor sy kwalifikasies het hom iemand gemaak, laat die mense maar dink wat hulle wil. Op my vraag elke keer as ek hom sien: “hoe gaan dit, oom?” het hy geantwoord. Dit gaan baie goed. En dit het, want hy het baie meer as ek geweet oor lewe.