Die Liefde kom Terug
Franz Kafka (1883-1924) was ‘n Duitse skrywer wat ‘n groot invloed in die twintigste-eeuse letterkunde gehad het. Hy was nooit getroud nie, en het geen kinders gehad nie. Op ‘n keer het hy in die Stegliz Stadspark, in Berlyn gestap, toe hy ‘n dogtertjie teëkom wat sit en huil omdat sy haar gunsteling pop verloor het. Kafka het toe saam met haar oral gesoek na die pop, maar dit was tevergeefs.
Hy sê toe vir die dogtertjie om hom die volgende dag weer in die park te kry, sodat hulle verder kon soek. Die volgende dag, nadat hulle weereens tevergeefs gesoek het, het Kafka aan die meisie gesê dat hy ‘n pop-posmeester is, en vir haar briewe sal bring van die pop af. Hy het vir haar toe ‘n “brief” gegee wat hy namens die pop geskryf het: “Moet asseblief nie huil nie. Ek het op ‘n reis om die wêreld gegaan om te sien hoe dit lyk. Ek sal jou alles vertel van my avonture.” Dit het ‘n groot mate van troos vir die kind gebring.
So het ‘n lang verhaal begin wat sou voortduur tot aan die einde van Kafka se lewe. Wanneer hy en die dogtertjie bymekaar gekom het, het Kafka die denkbeeldige briewe van die pop, wat hyself geskryf het, aan die meisie voorgelees, vol avonture en gesprekke wat vir die dogtertjie baie fassinerend was. Uiteindelik het Kafka ‘n pop gekoop, en vir die meisie gesê dat dit haar pop is wat teruggekeer het Berlyn toe. Sy het gereageer: “Dit lyk glad nie soos my pop nie!” Kafka het toe nog ‘n brief aan die dogtertjie gegee, waarop geskryf staan: “My reise het my verander.” Die dogtertjie was tevrede, en het die pop gedruk en huis toe gevat.
‘n Jaar later is Kafka oorlede. Baie jare na sy dood het die dogtertjie, wat toe ‘n volwasse vrou was, ‘n brief binne-in die pop ontdek. Op die klein briefie, onderteken deur Kafka, was geskryf: “Alles wat jy liefhet sal waarskynlik verlore gaan, maar, aan die einde, sal liefde terugkom op ‘n ander manier.”
Toe ek die eerste keer hierdie gebeure gelees het, het dit my diep geraak. Met die navorsing oor die egtheid van die verhaal, het een person opgemerk dat dit ‘n genesende storie is. Dit is ‘n bloudruk vir mense wat seergekry het. Sosiale media is deesdae ‘n uitstekende voorbeeld van mense wat in die jaar 2020 seergekry het.
LEES OOK: So is die lewe – Wildtuin
Seer op maniere wat ses maande gelede ondenkbaar was, byna distopies. Baie besighede het ondergegaan, mense het hulle werk verloor, daar is die alomteenwoordige gevaar van Covid 19- virusinfeksies wat elke dag nog eskaleer, en uiteindelik twee effekte het: aan die een kant ‘n uiterste traak-my-nie-agtigheid waar mense alle voorskrifte rondom sosiale isolasie ignoreer, en bykans roekeloos leef soos altyd.
Aan die ander kant is daar vele mense wat total vereensaam geraak het, en angsbevange is om selfs die mees noodsaaklike rit na ‘n kruidenierswarewinkel toe aan te pak. Daar is ook ander ontstellende uitwasse van ons onnatuurlike tyd: goter haatspraak en geweld as ooit tevore, en onsekerheid by alle inwoners van ons land. Gebeure in Amerika het ook gelei tot ongekende optredes deur massas opgesweepte mense reg oor die wêreld.
Die onderliggende van al hierdie dinge, meen ek, is dat die eksterne druk van alles wat nou gebeur, uiteindelik die stoompotte van baie mense lewens laat oorkook. Vele is vasgevang in ‘n rouproses, en dis meer as die rou oor ‘n geliefde wat gesterf het. Baie van die negatiewe emosies en gebeure van vandag is waarskynlik die mees ekstreme manifestasie van ‘n rouproses.
Die Duitste eksistensiefilosoof Karl Jaspers het gesê dat mens jou hele lewe beplan soos ‘n skip wat op ‘n vaart gaan, sorgvuldig alles karteer wat jy moet vermy. Maar dan gebeur dinge wat jy nie voorsien het nie, en geen beheer oor het nie. So loop menige lewensskepe op die rotse. Dood, egskeiding, verlies, mislukking. Finansiële rampspoed. Noem maar op.
Jaspers meen dat daar in sulke omstandighede slegs drie opsies oorbly: om te lag, om te huil, of om van voor af te beplan. In die verhaal van Kafka is daar diepgaande rou van ‘n klein dogtertjie oor die verlies van iets baie kosbaars. So het hy die wonderlike stories geskryf oor die reise van die pop, om die seer van die dogtertjie aan te spreek, of, in die woorde van Jaspers, haar te lei om die onverwagte gebeure te aanvaar, en die verlies te heroordink. Daar word geskryf dat Kafka net soveel tyd en moeite in hierdie briewe gesit het, as in in al sy ander groot werke.
Die gevoel van verlies in ons tyd is universeel. Dit kan jou laat met woede, bitterheid en skaamte. Isolasie maak die ervaring van hierdie gevoelens meer intens. Soveel mense is vereensaam, afgesonder van familie en vriende., Veral bejaarde mense beleef dit intens. Die skrywer Elsa Joubert wat so ruk terug oorlede is, juis aan Covid-19, het so maand voor haar dood ‘n roerende brief geskryf in die Burger waarin sy pleit dat daar begrip moet wees vir bejaardes wat nie hulle kinders mag sien nie, en ook nie so gemaklik is met die gebruik van sosiale media nie. Negatiewe ervarings is die erflating van isolasie.
Soos Kafka geskryf het, is liefde wat terugkom al sekerheid wat ons kan hê in onseker tye. Sy aandag aan die meisie, en die moeite wat hy gedoen het om die pop se “reise” te beskryf, was op die oog af nie veel werd nie. Maar vir daardie dogtertjie was dit alles, die baken van lig in die donkerte van verlies. Iemand wat genoeg omgegee het om haar emosies aan te spreek met die wonderlikste stories.
Te midde van alle onsekerheid, kan jy weet: die een ding wat nooit leë hande terugkom nie, is liefde. Planne en drome kan opraak, middelle soos finansies en gesondheid kan opraak, hoop kan versluier word. Maar liefde kom altyd terug. Al is dit huidig vir jou onsigbaar. Gee dit, en neem dit. Vat jou kaart, gaan herbeplan jou roete. Moenie vassteek by lag of huil nie.