fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Thursday, September 24, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: Wildtuin

    Terwyl ons nou in hierdie tyd van virtuele opgang al hoe meer bedrewe raak, vanaf onderwysers, boekhouers en predikante, tot afgelewerde wegneemeteverskaffers,  elke hoenderhaan kraaiend op sy eie mishoop,  nooi ek jou op ‘n virtuele reis. 

    Koos du Plessis het geskryf: “Wie weet, iewers is daar dalk ‘n land van rus en / wie weet, waar die vlugteling veilig is / waar die swerwer eindelik rus en as daar is / neem my saam, neem my saam”.  Vir menige Suid Afrikaners is daar so halfvoltooide Eden, soos wat Koos Doep dit beskryf. ‘n Plek waar die vrede oor jou toesak die oomblik as jy by Numbi- of Krugerhek inry, so ‘n rustigheid wat jou opgewende psige laat kalmeer.

    Die kenmerkende soet laeveldse reuk, die doringbome en die ruie gras na ‘n goeie reënseisoen, die onverwagsheid van ‘n trop rooibokke, bobbejane, of as spesiale bederf, een van die groot vyf net om die volgende draai. 

    Uit So is die Lewe: Wildtuin
    Koos du Plessis, Afrikaanse liedjieskrywer

    Juis in die wildtuin kan jy die laste van jou stresvolle lewe afgooi, kan jy jou hare los laat hang, en vrye teuels gee aan die ingebore latente gene van die oermens in jou. 

    Gewapen met jou verkyker, kamera en wildtuinkaart, verken jy onbekende grondpaadjies, watergate, brue en suipplekke.  Jy voel die hupsheid in jou opborrel wanneer jy vroegoggend gaan ontbyt maak buite in die oopte, by Mkuhlu, of Nwanetsi.

    Die soel aande is deel van hierdie idilliese wêreld. Laatmiddag stap almal winkel toe, of staan by die heining oor die rivier en kyk.  Daar is gereeld ‘n verdwaalde olifant of trop buffels aan die wei in die rivier. 

    As die vuurtjie knetter, die vet skaapribbetjie is op die kole, en die jakkalse tjank hulle vals vioolklanke in die verte, terwyl die hiënas die tjellogedeelte saam huil, die seekoeie die basgedeelte og-og, en die leeus soms as toegif saam hùù net hier anderkant,  word die simfonie van vrede voltrek in jou geteisterde gemoed.

    Laatnag borrel die een onthoustorie na die ander op, daar word gekuier en gelag totdat iemand verdwyn met ‘n ketel na die afdak toe waar daar regdeur die dag en nag warm water is.

    In Balule is daar geen krag nie.  Daar word die sterre deel van die buitewêreldse ervaring, amper soos die dekor van die Koningin van die nag-area uit die Towerfluit van Mozart.  Koffie voor slaaptyd met tuisgebakte beskuit en gekerfde biltong laat die rondo-allegro van die wildtuinsimfonie oorgaan in andante.  Die likeur van hierdie fynproewersdag is natuurlik die inkruip in die kraakskoon lakens van die rondawel. Met die reuk van die  dekriet as soet slaapmiddel.

    Daar is ook ander wildtuinstories waaroor mens minder liries kan raak.  As eerstejaarstudent het ek ‘n 1975 Datsun 180U gery. Soos alle petrolenjins het hy lekker “gebackfire” as die tyd nie perfek ingestel was nie.

    Derhalwe het baie van ons Oosrand-manne ons enjins afgesit en dadelik weer aangesit as ons ry, en ‘n knal het gevolg wat die ekwivalent van ‘n G6-kanonskoot is. (Kleppe-brand was natuurlik een ernstige newe-effek, maar daarvoor het ons die raad gehad om Brasso deur die vergasser te gooi terwyl die enjin luier, met nog meer ernstige langtermyngevolge).

    Lekker vermaak om fietsryers en voetgangers mee te verskrik, en handig ook om die vergasser skoon te maak.

    LEES OOK: So is die Lewe: Boerneef

    So het ek en drie vrinne in die wildtuin gery, en onsself benat van genot en vreugde as ons op diè manier die trop bobbejane tussen Skukuza en Onder-Sabie kon molesteer en verinneweer. Tot èèn grusame insident: een bombardement te veel. Die uitlaatpyp het teen die “manifold” afgeskiet, op die teerpad vasgesteek en heeltemal afgebreek. Die gevolg was dat alle wild, die doodmak rooibokke ingesluit, ons desibelgedonder-Datsungedruis kilometers ver hoor aankom het, en bosse ingehol het.

    Die gevolg was dat ons ons lysies waarop ons diere gesien kon afmerk, weggegooi het. Ons het iets van die hedendaagse inperking ervaar omdat ons nêrens heen kon ry nie.  As ek die kar aangeskakel het in die karavaanpark, het ons verskeie uiters venynige kyke gekry. En dit maak seer. Daar was geen vet skaapribbetjies verder te braaie nie. Die invoer van ‘n uitlaatpyp uit Nelspruit het die res van ons wildtuingeld en studiejaar se studiegeld opgevreet.  Boem, net so. Weg. Soos die uitlaatpyp.

    Op ‘n ander keer was dit weer ‘n klomp vrinne.  Almal tokkelokke, hoogs vroom en diep bewus van die hoë roeping wat ons as VDM’s ontvang het.  Ons ry met twee motors op al die wildtuinpaaie, ons oe-en-a op die regte plekke, ons neem duisende foto’s met ons instamatic-kameras terwyl ons nie later kon bekostig om die foto’s te laat ontwikkel nie. Ons drink Oros en ons eet aartappelskyfies, ons praat tussendeur oor Jurgen Moltmann en Karl Jaspers.  Ordentlik. Gekultiveerd.  By ‘n watergat kyk ons olifante en fluister vir mekaar hoe mooi dit is.  Ek en die kamerade saam met my in my kar raak toe half verveeld met olifante wat water drink, en besluit om solank vooruit te ry. 

    Toe die agterste deel van die peleton ry, besluit Jaco om bietjie gas te gee om ons in te haal, want hulle wil saam met ons al die wonderwerke beleef.  Ter wille van die storie moet ek noem dat Herman, (ook intussen nie meer met ons nie), ‘n vroom, opregte man, ware Israeliet sonder bedrog, net agter Jaco sit in die motor. Eerlik in alle opsigte.

    Net toe Jaco die spoedgrens teen dubbel die toegelate maksimum bereik, spring ‘n verkeerskonstabel in die pad met ‘n apparaat.  Gatslag, dis ‘n gatsometer.  Maar Jaco, synde in die proses om opgelei te word as orator en bedienaar van die Woord met woorde, dink toe vinnig, en verduidelik aan die verkeersbeampte dat Herman, agter  hom, worstel met ‘n geweldige gesondheidsprobleem as gevolg van al die Oros en kaaskrulle, en dringend ‘n geriefshuis nodig het. 

    Hy brei toe uit oor die oorerflike aard van Herman se siekte, tot in die derde en vierde geslag, die uiterste pynlikheid daarvan, die moontlike genetiese oorsake, en die navorsing wat nog wêreldwyd gedoen word om medikasie vir sodanige toestand te ontwikkel.    Die verkeerskonstabel, en almal in die kar, raak diep bewoë uit empatie.  Net toe die beampte sy bril afhaal en vroetel vir sy sakdoek, draai Herman die ruit af, kieste rond van die lekkergoed.  “Nee oom, ek makeer niks,” sê hy.

    Iets van die hartseerstorie moes toe wel iewers getref het.  Want die verkeersbeampte skryf toe slegs op die kaartjie wat hy uitreik:  “Bewaarsku vir spoed.”

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: Wildtuin