Sunday, October 6, 2024

So is die Lewe: Hoekom, hoegenaamd is ek hier?

Bookmark
Bookmarked

Geniet nog ‘n aflewering van “So is die Lewe” uit die pen van Marius Britz.

Ek en jy is elke dag omring deur mense wat iewers ‘n fout gemaak het.

Daarmee word nie bedoel die opsetlike en beplande kaping van staatsfondse van miljarde rande, of wrede moorde of verkragtings nie, dit is iets heel anders. Eenvoudig maar gewone mense wat onder groot druk of donkerte die verkeerde keuses gemaak het. Dinge effens kras gestel het, hulself swak uitgedruk het.

Die hartseer is dat sulke persone se foute dikwels gepaardgaan met ‘n aaklige, onvergewensgesinde en onmenslike behandeling deur ander mense. Die gewese Suid-Afrikaanse krieketkaptein Hansie Cronjé het ‘n misstap begaan wat hom oornag in ‘n uitgeworpene verander het. Daar is met smaak in die media vertel dat hy vir die res van sy lewe op geen krieketterrein toegelaat sou word nie, dat hy selfs nie eens klein kinders sou mag afrig nie.

Hansie Cronje

Die vroulike advokaat, wat tans ‘n baie prominente pos in Suid Afrika beklee, het in Hansie se tugverhoor strikvrae gevra en korte mette gemaak met sy geloofsbelydenis en smekinge om vergifnis. Spotprente is van Hansie en die duiwel geteken. In ‘n hartseer-artikel het iemand geskryf hoe hy by ‘n groot gholfdag was en toe hy opkyk, het Hansie skugter in die deur gestaan, en geaarsel of hy mag inkom.

Hansie Cronje slaughters Shane Warne around Johannesburg 1994

Die meeste ou sportmanne in die klubhuis het gemaak of hulle hom nie sien nie. Waar hulle vroeër oormekaar sou val om met hom te praat, was hy nou vir hulle melaats. Hy het net stilweg verdwyn. Toe sterf hy tragies in ‘n vliegongeluk, en Jan-en-Alleman, met die groot krieketbase vooraan, was in sak-en-as, hulle wou hulle klere skeur van roubeklag.

Dit laat mens wonder oor menslike gedrag.

Onvergewensgesinde, harde en ongenaakbare optrede teenoor ander mense bring maklik ‘n element van vervreemding mee. Dit isoleer mense van hulle omgewing, hulself, en dit kaap die doel waarvoor hulle op die aarde geplaas is. Vervreemding deur andere kan op soveel vlakke van jou lewe gebeur, van jou werksomgewing, jou sosiale kringe, tot die mees intieme, soos jou huisgesin en jou huwelik.

As mense eendag om ‘n vuur oor jou sit en praat, wat sal hulle onthou? Waarna sou hulle verlang, waaraan sal hulle vasklou, watter water uit die fontein van jou lewe sou hulle die graagste aan wou bly drink? Of is dit dalk so dat net jou foute jou sal oorleef? Dit kan maklik gebeur dat ons so sterk ingestel is op die foute wat andere gemaak het, dat ons maklik vergeet van die waarde wat hulle tot ons lewe toegevoeg het in die verlede.

Die een wat altyd omgegee het, wat beskerm het, wat almal kon laat lag, of mense verder laat dink het, wat wysheid uitgestraal het, wat onvoorwaardelik kon liefhê, kan maklik gereduseer word tot ‘n patetiese bondeltjie selfbejammering, omdat hy of sy hulself elke dag vasloop teen die onvergewensgesindheid en ongenaakbaarheid wat ook Hansie Cronje ervaar het. Mens sal oopkop hieroor moet nadink. Want, soos met die tragiese sterwe van Hansie, kom spyt altyd te laat.

Omdat baie mense moeilik die verkeerde en ondeurdagte vergeet, vergeet hulle ook die goeie. Sondae word vir Asasel (die een wat weggestuur word volgens Levitikus 16), die eensaamste dag van die week, Kersfees en Oujaar word ‘n emosionele slagting. ‘n Ewige onthou van ondeurdagte dade en woorde beroof eintlik die hardvogtige een van soveel; dit beroof jou van iemand wat jou kan vertroos, wat saam met jou langs die vuur kan sit met ‘n glasie wyn, dit steel iemand wat saam met jou kan koerant lees en televisie kyk. Iemand om saam mee te lag.

Lees ook: So is die Lewe: Eensaamheid vermink jou menswees.

Dit beroof jou van iemand wat vir jou sê: “Ek is lief vir jou.” Stilte kom lê soos ‘n dolk in sy huis, Vrydagaande voel soos huil, Saterdae soos leeg, Sondae soos slaap, weeksaande moet net verbygaan. Geen vuur is groot genoeg om te troos nie, geen musiek is mooi genoeg om die hartseer te verdoof nie. Wanneer is genoeg uiteindelik genoeg? Wanneer kan en moet ander se foute in ons koppe ophou bestaan?

As die foutmaker se woorde opgeraak het, sy oë dof geraak het? As haar hart uitgedop is, of sy hele lyftaal dit uitskreeu: “Ek kan nie meer nie!” As hulle nie meer kan probeer lééf, nie meer om vergifnis kan vra, hulself voortdurend kruisig , huil, en verdor soos ‘n eendagblom?

lewe
A depressed woman sitting alone

Genoeg is genoeg as jy jou oë oopmaak, en sien dat nie een mens ooit totaal onskuldig is, volmaak is in al sy woorde, gedagtes en dade nie. As jy dit besef, is jy gereed om nuwe lewe te spreek oor diegene om jou wat duur betaal vir hulle foute, en wat naarstigtelik probeer regmaak.

Want dan begin jy te wéét dat mense mekaar kan verwoes. Dat jy iemand kan verwoes. Oordeel en verwerping is niks sagter noodwendig as die foute wat die verstoteling gemaak het nie.

Genoeg is genoeg lê op die vlak van vergewe, van nuwe kanse gee. Genoeg is wanneer jy begin besef wat ongenaakbaarheid en onvrede aan ander mense kan doen, en ophou daarmee. Weet is die laaste druppel in die vol emmer van ver genoeg gegaan.

‘n Sagte stem kan alles verander. ‘n Aanraking, aandag, ‘n glimlag.Daar is duisende redes waarom ons aarde toe kom. Om te leer, lief te hê, mense te laat lag, goed te laat voel oor hulleself. Ons kan natuurlik ook hier wees om ander mense te veroordeel, af te skryf en te ignoreer.

Uiteindelik kom dit neer op een saak: Ons kies hoe ons onthou wil word.