-

ColumnistSo is die Lewe: Eensaamheid vermink jou menswees.

So is die Lewe: Eensaamheid vermink jou menswees.
S

Geniet nog ‘n aflewering van “So is die Lewe” uit die pen van Marius Britz.

Dit is surrealisties: Kaapstad was berug vir sy druk verkeer in spitstye. Verkeersverslae oor die radio het gereeld gewaarsku dat opeenhopings pendelaars ure kan vertraag.  Maar skielik, nou in Covid se verwoestingstog hier in die Kaap, is jou motor om 17:00 die enigste voertuig by die groot interseksie in Adderleystraat. Geboue om jou staan toe-oog en luister na die niksheid van die laatmiddag, na die leë strate, die afwesige karre, die stilte van blêrende toeters. 

Die lughawe lyk soos ‘n verlate Wilde-Weste dorpie waar net die geboue agtergebly het, en die mense almal weg is. Daar waar toue reisigers met tasse moes staan, is nou net gespande toue en onbemande toonbanke. Die oorheersende gevoel is eensaamheid.

Ek lees toe bietjie op oor die gevolge van eensaamheid. Kollektiewe eensaamheid, soos die kantoorwerkers van ‘n bepaalde gebou wat nou vanaf die huis werk, en persoonlike eensaamheid is nou ter sprake. Dit is chronies, en dit skep ‘n wesenlike gesondheidsgevaar, sowel psigies as fisies. Dis mos logies, vanselfsprekend, dat abnormale tye abnormale gevolge in mense se lewens kan hê, dink ek toe by myself.

Maar die navorsingsprojek waaroor verslag gedoen word in die artikel wat ek lees, beskryf chroniese eensaamheid as die afwesigheid van betekenisvolle verhoudings met ander, nou ook aangevuur deur die vrees dat die onsigbare virus jou sal betrek as jy enige kontak met mense het, en jou lewe sal neem soos diè van ‘n klomp mense s’n wat jy geken het.

Dit is eintlik ‘n benoudende gedagte: eensaamheid in die vorm van sosiale en emosionele isolasie wat aanhou en aanhou los sy merke op jou menswees. Dis anders as om nou en dan ‘n bietjie alleen en  verstote, selfs verlore te voel.

Skrywers en digters sê dit soos dit is. Soos Joseph Conrad: “Who knows what true loneliness is – not the conventional word, but the naked terror?” En Hendrik Maarsman roep uit: “Ek staan alleen / geen / God of mense wat my bestaan betrek in ‘n besielde verband…”  Martinus Nijhoff skryf in die gedig De eenzame: “Die maanlig sing my bloed tot danse wakker. / En as ek dans, dans my skaduwee met my – / Skaduwee, my skaduwee, my enigste maker: / Ons dans – kyk, ek is niks meer as jy..”

Martinus Nijhoff – Documentaire

Sulke isolasie is pynlik.  Dit maak seer.  Want as jy jouself nie meer as Dasein beleef, in Heideggeriaanse terme nie, maar as ‘n blote skaduwee, is jou totale eksistensie verwater tot blote skaduwee-wees. Iets sonder substansie. ‘n Skaduwee word nie aangeraak nie, word nie geag nie, word nie gehoor nie, word nie in die oë gekyk nie. ‘n Skaduwee maak geen verskil nie, is vlietend, dra nie gesag nie, word maklik verstoot.  Dit is jy alleen in die skimme van die maan se halflig sonder die witvuurlig van menslike teenwoordigheid, skryf Wilhelm Jordaan.

Lees ook: So is die Lewe: Ek is gelukkig ryk.

Om van sulke intense angs en isolasie te ontsnap, doen mense soms die vreemdste goed.  Soos om met byna besete ywer sosiale kontak te soek: Kyk na my, vat aan my, hoor, luister na my! Soos in vele futiele debatte op facebook.  Of soos om in die leë winkelsentrums rond te loop, en met wanhoopsoë te kyk na ander eensames wat hulleself doelloos voortsleep.  Kerke, waar mense vroeër kon gaan warmte en medelye soek het, het een van die groot slagoffers geword van Covid.  Selgroepe, Bybelstudies en sosiale byeenkomstes bestaan nie meer nie.  Selfs eredienste word op verskeie plekke afgestel en vervang deur koue, onpersoonlike tegnologie soos Youtube.

Die ironie is dat sulke sosiale samesyn eensaamheid kan verdiep in die vorm van emosionele isolasie, ‘n bevestiging word van ‘n ingrypende en verlammende eensaamheid. Emosionele isolasie is dikwels die bose hart van eensaamheid; juis omdat jy nie tuis voel met jouself nie. Jy word vir jouself ‘n onbekende. Jy weet nie meer wie jy werklik is nie, en wat jy wel van jouself vermoed, is nie noodwendig korrek nie, omdat ander nie daar is om jouself mee te deel nie, so word dit wat jy van jouself dink, tergelykertyd min en gevaarlik.

Bloot omdat daar niemand is om dit mee te deel, en sodoende jou perspektiewe realisties te hou nie.  Dit kan helaas ook gebeur in ‘n huwelik, of na aftrede, of wanneer jy verhuis na ‘n vreemde omgewing.

Eensaamheid gaan nie soseer oor ‘n gemis aan ander nie, maar eerstens oor ‘n gemis van jouself.  Soos die Afrika-ubuntu filosofie ons leer: “’n mens is mens deur ander mense.” Ek is geisoleerd van wat ek kan en wil wees sonder mense naby aan my.  Ek kan slegs dit wees deur ander mense se betrokkenheid in my lewe; liefdevol, met deernis, begrip, humor, stimulerende gespreksgenoot, ‘n waardetoevoeger tot ander se lewens.  As jy vir die soveelste keer alleen na jou gesig in die spieël staar, word daar weereens ‘n deeltjie van jou menswees geamputeer.

“Loneliness is such a waste of time,” sing die Staccatos in Cry to me.

lewe

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here

So is die Lewe: Eensaamheid vermink jou menswees.

- Advertisement -

Latest news

Drug Dealer sentenced to jail

ACCUSED SENTENCED TO TEN YEARS IMPRISONMENT FOR R2.4MILLION DRUGS MPUMALANGA –Andwele Solomon Mwabangwe (45), a foreign national was found guilty...

Bethal Kersliggie projek 2021

Die Bethal Kersliggie projek is weer hier! Die derde Kersliggie Fees volg op 2 vorige suksesvolle feeste en is weereens...

ANIMALS 101 – THE RABBIT AND THE TORTOISE

ANIMALS 101 - HOW TO HANDLE THEM CORRECTLY AND WITH CARE. Many of us grew up with the tale of...

Accused still in jail for attempted bribery

ACCUSED REMANDED IN CUSTODY FOR ENTICING TRAFFIC OFFICIALS MPUMALANGA – Accused Moshayi Tonderai (31) and Patrick Ncube (31) were remanded...

You might also likeRELATED
Recommended to you