-

Columnist So is die lewe: Die mense met wie ek...

So is die lewe: Die mense met wie ek ‘n dak gedeel het
S

Een-een het ons afstudeer, ons drome gelos en opgeskop, na ander gange getrek, weggeraak van die aardbol af, gesterf. Ook daardie dak bestaan nie meer nie. Maar die reuse bloekombome wat in gang D4-4 geplant is in 1979, word groter en groter, en groei maar aldeur aan.

Nog ‘n “So is die lewe” rubriek vanuit die pen van Ds Marius Britz. Titel is “Die mense met wie ek ‘n dak gedeel het.”

Op die stoep van die Farmhouse-hotel in Langebaan het ek en vriend Koos ‘n dejá-vu oomblik gehad. Met die helder lug en die kobaltblou see, was dit inderdaad ‘n kwantumsprong in ruimte en tyd na die konsertinavleuels van Huis Mopanie op Tukkies waar ons 41 jaar terug inwonende eerstejaarstudente was. Die onthou het stuk-stuk oopgebreek. Meteens was dit duidelik dat, alhoewel ons mekaar vir baie jare min gesien het, ook min kontak gehad het, dat daar ‘n band was, onverbreekbaar.

Die geselskap het dadelik gevloei, en die tema van die jool 1979 het opgeduik: Esprit de Corpse. Eenheid in die gees. Dit was die sement na al die jare.  Koos, synde self ‘n bekwame woordsmid en digter,  het gesê ons moet dink aan ‘n storie om te skryf: Die mense met wie ons ‘n dak gedeel het.

Tref dit my Saterdagmiddag tussen Malmesbury en Hopefield. ‘n Ou bouval van ‘n plaasopstal, mure stewig en sterk bewaar deur al die jare. Maar reuse bloekombome groei tussen die mure, daar waar eens bal en klou meubels, outydse katels en Art Deco kombuiskaste gestaan het, en toring hoog bo die bouval uit waar daar eens ‘n dak was waaronder mense geleef het, gebid het, baklei en gehuil het, liefde gemaak en gelag het.

Dalk gebore is of gesterf het. Binne-in die oorblyfsel van ‘n lewe staan hierdie bome geplant soos onuitveebare herrineringe,  die ode aan ander tye.  So is die lewe, dink ek toe, watter ongelooflike metafoor van menslike bestaan.  Hoe meer bouvallig jou liggaam word, hoe hoër groei die bome van jou onthou binne daardie liggaam. Al is die dakke waaronder jy gebly het, lank gelede afgewaai, of het van inwoners verwissel..

so is die lewe

Natuurlik hardloop jou kop paaie. Kentsirkel, Springs. Die dak van jou kinderhuis. Onder hom het die vloeistroom van jou wese geleidelik rigting begin kry; koers gevat deur kabbelende rustigheid en turbulensie.  Hier is ook geleef en beleef: dood en lewe, lag en huil, teleurstellings. Wat het oorgebly van daardie dak? Miskien alles. Miskien niks. In Springs sal ek waarskynlik nooit weer my voete sit nie. 

Maar Springs se voete is elke dag in my. Dikwels deesdae, terwyl ek die skottelgoedmasjien pak, dink ek aan my pa wat ook op ‘n vroeë ouderdom, soos ek, sy werk verloor het. Hoe die ritueel van skottelgoedmasjiene pak ‘n desperate grype en soeke was na ‘n lewe wat wel sin maak, wat ‘n verskil maak. Te danke aan my is die vuil skottelgoed nou weer skoon. Sien, ek beteken tog steeds iets.  

Terwyl ek freneties die hoeveelhede van ‘n resep afmeet en afweeg as ek kos maak, dink ek aan my pa, in sy baadjie en das in die kombuis vervolmaak hy bobotie in die mikrogolf maak, as noukeurige ambagsman word hoeveelhede volgens die resep presies afgemeet, ‘n verlore stukkie van sy legkaart genaamd Die oorblyfsels van ’n  lewe.  Daardie dak bestaan nie meer nie, maar die bome van onthou is lewensgroot.

Die koshuis daarna was nuwe ‘n wêreld. As eerstejaar met ‘n nuwe tas vol nuwe klere betree jy die toekoms.  Jy is omring van vreemde manne, net so onseker soos jy. Jy deel jou private ruimte, die badkamers, die sitkamer, met 15 ander.  Julle dak word spoedig die gemeenskaplike faktor wat jou deel van ‘n nuwe groep maak, ‘n nuwe broederskap. Jy was oortuig dat dit die beste gang is, die beste mense wat jy ooit ontmoet het.

Dit word jou plek. Matriek en jou tuisadres raak klein in die truspieël. Jy leer nuwe dinge, hoor van onbekende plekke, leer selfs ‘n paar woorde wat jy nog nooit voorheen geken het nie.  Selfs die grootste individualis konformeer volgens die groep.  Vroegoggende marsjeer ons as ‘’ienks”(eerstejaars) kampus toe in ‘n peleton.

Een van die manne wat reeds sy weermagdiensplig voltooi het, marsjeer ons.  Met sy kenmerkende Swartland-bry skreeu hy afgemete: “Links-Ghegs-links-ghegs!” As ons regoor Brooklynpolisiestasie kom, gee hy opdrag: “Kom peppies, sê morghe virghie oorghe!”  Dan skreeu ons kliphard: “Morghe oorghe!” 

Een-een het ons afstudeer, ons drome gelos en opgeskop, na ander gange getrek, weggeraak van die aardbol af, gesterf. Ook daardie dak bestaan nie meer nie.  Maar die reuse bloekombome wat in gang D4-4 geplant is in 1979, word groter en groter, en groei maar aldeur aan.

Die dak van ‘n eeu-oue huis in Sunnyside, toe bekend as huis Kokkerot, was ‘n eiesoortige ervaring. Klomp ou skoolmaters wat saam plak, met lang hare en harde rockmusiek en baie braai het ons die begrip “”vryheid” leer ken.  Geen skoolreëls, geen koshuisreëls nie, want ons was ons eie huiskomitee.

Daar was verrassings om elke hoek en draai, soos wanneer jy bemoeiende-met-jou-eie-sake een oggend in die gemeenskaplike stort staan en hare was, en ‘n soetlief Joolprinsesstemmetjie groet jou waar sy langs jou staan: “More!” En al wat jy kan uitwurg, is: ”Dag!”  Terwyl jy sjampoebesmeerd met jou handdoek om jou kop gederapeer, weghardloop. 

Onder daardie dak het daar veel meer as net fisiese mense gewoon. Sedert die dae van Paul Kruger het daardie dak en mure baie dinge beleef. Baie van hulle het nooit vertrek na hulle ewige bestemmings nie.  Hulle het maar aangebly om in die vreugde en skandes van inwoners te deel. 

Ek het self een Saterdagnag gesien hoe my gesluite deur oopgaan, en ‘n blekerige wese my aangluur.  Miskien was dit ons motivering om die een jaar ‘n doodskis te bou en as spoke aan die jooloptog deel te neem.

so is die lewe

Daardie dak bestaan dekades nie meer nie, maar daardie bloekombome van onthou groei sterk, en word elke jaar groter.

LEES OOK: So is die Lewe: Kamer

So sal jy seker vir baie bladsye kon uitwei oor die dakke van jou lewe. Die nagte wat jy gelê en staar het na ‘n militêre tent se dak. Die lang nagte van deurnagwerk by die Vlootstafkollege in Muizenberg toe daar min kans was om na die dak te staar. Die dak van die karoonag, toe julle as vriende na die miljoene sterre gekyk het.  Die dak van die skip in Brugge, waar die somerson teen 23h30 nog nie gesak het nie.

Die dak van die intensiewe afdeling van Unitas, waar jy bedraad, bedwelmd en bepyp luister na die eentonige gepiep van die hartlongmasjien.  Die dak van jou kamer met al jou kinders laggend en stoeiend, jillend vrolik en opgewonde, saam met jou. Jou aftreeplek se dak,  waar jy tienuur in die more dikbek lê en wonder wat de hel jy met jouself gaan aanvang op hierdie nog ‘n werklose, sinlose dag.

Topol in Fiddler on the roof sing: “Each of us is a fiddler on the roof, trying to scratch out as simple tune without making to much noise.”  Die dakke is dalk weg. Die mense met wie ons hulle gedeel het, groei egter groter en groter, soos bloekombome in ‘n bouval.

Fiddler on the roof

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here

So is die lewe: Die mense met wie ek ‘n dak gedeel het

Een-een het ons afstudeer, ons drome gelos en opgeskop, na ander gange getrek, weggeraak van die aardbol af, gesterf. Ook daardie dak bestaan nie meer nie. Maar die reuse bloekombome wat in gang D4-4 geplant is in 1979, word groter en groter, en groei maar aldeur aan.

- Advertisement -

Latest news

Eagles win the Covid indoor cricket league.

The Eagles have done in again with their win in the Covid league, Mens A division.

Hair mask DIY with L&A

DIY Hair mask with L & A With the weather becoming increasingly warmer...

16 Days of Activism kickstarted by peaceful march

16 Days of Activism kickstarted by a peaceful march this morning from the Secunda Police station...

Bail granted to alleged fraudster

ALLEGED FRAUDSTER GRANTED FIFTY THOUSAND RAND BAIL FOR FRAUD MPUMALANGA – Osfael Vusimuzi...

You might also likeRELATED
Recommended to you