fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Thursday, October 29, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: Kamer

    Jy het net die basiese dinge nodig hier in jou afsonderingskamer. Oorvloed liefde. Om te gee en te ontvang. Deernis. Sagtheid. Begrip as jy dieselfde storie of grappie dalk vir die derde of vierde keer vertel.

    Nog ‘n “So is die lewe” rubriek vanuit die pen van Ds Marius Britz. Titel is Kamer.

    Bykans ses dekades se reis oor verskeie landskappe heen laat mens uiteraard op die punt kom waar jy jouself moet afvra: “Quo Vadis? Wie is ek, waar kom ek vandaan, en waar gaan ek heen?”

    Op ‘n dag is jou lus opgebruik vir verder die onbekende in reis, vir nuwe horisonne ontdek is daar eweneens nie moed nie, vir die lang verwagte uitstaande enigmas is daar nie meer hoop nie. Pyn, siekte, teleurstellings en foute deur jouself en andere gemaak ets die elastisiteit van jou wese in so ‘n mate dat jy eendag besluit om jou lewe in ‘n rugsak in te pak. Dit wat nie kan inpas nie, moet gaan. 

    Jy skep jou eie veilige plek, ontdaan van verwagtinge, bruisende ambisies en ‘n ontdekkersgees wat geen beperkings ken nie. Jy word jùis dan beperk tot die hier-en-nou,  jou laaste uitspanning op die Groot Trek van jou leeftyd. Jou afsaalplek. Jou eie persoonlike Bloedrivier. Of Bloukrans. Of Waterloo. Jou lewenskamer word jou veilige plek, met vensters en deure dig verseël, met die lewe wat verbygaan net ‘n statiese blokkie so groot soos ‘n venster.

    Amanda Strydom sing:  ”Ek het lankal immigreer na ‘n kamer in my kop / Vandaar hou ek versigtig die wêreld om my dop / My kamer bied ‘n skuilte as die storms buite woed / My kamer ken geheime, my kamer ken my goed / Beskut my teen ‘n wêreld waar ek ongemaklik leef / Bevry my van bagasie en laat my rustig wees / Die wêreld is my woning nie, Totius sou verstaan / Ek reis al meer na binne / Tot dit tyd word om te gaan / My kamer het geen meubels, geen boek of skildery / Geen spinnerak of rommel om my aandag af te lei / My kamer het groot vensters, sonder luike of gordyn / Uitsig onbelemmerd, net die son wat helder skyn.”

    Amanda Strydom – My Kamer

    Binne in hierdie kamer is die tyd ryp om al die kaggelbakkies wat jy versamel het op die vele paaie waar jou spore verspreid lê, uit te haal en af te stof. En om met groot waagmoed weg te gooi, dit wat eens op ‘n tyd vir jou so belangrik was, maar nou irrelevant geword het.  

    Die onthou-oomblikke van jou lewe moet geliasseer word. Of vernietig word. Die goeie en die slegte. Sol y sombra, skryf Uys Krige. Die knusheid van jou kamer gee aan jou die veiligheid om pretensieloos na jou versamelinkie lewe te kyk.  Dit wat jy nog het, en dit wat jy verloor het.  Jy leer die vermoë aan om onbetrokke, objektief na jou eie lewe te kyk.

    so is die lewe kamer

    Uiteraard kan jy niks doen aan dit wat jy verloor het nie. Mense langs die pad. Jou mense van jou bloed wat gesterf het. Vriende wat jou vooruitgegaan het na daardie Plek met die goue strate. Mense wat net oor die periferie van jou lewe verdwyn het. Van die dooies hoor jy, van die lewendes nooit weer nie. Liefdes verlore. Drome wat versteen het. Wonderlike fases van jou lewe wat net opgehou het, asof dit nooit gebeur het nie.

    Die wonderervaring van drie klein kindertjies, skoongebad en met pajamas aan, wat op jou rug ry in die gang as julle perdjie-perdjie speel, word vervang deur iets anders: in die middernagtelike wakkerlê in die stilte, luisterend na tarentale wat roep en honde wat blaf en jakkalse wat tjank, kom staan die jaar 2020 voor jou soos die draak in Cervantes se verhaal oor Don Quichot de la Mancha.

    LEES OOK: So is die lewe: Weersiensgesprek

    Jou nou-volwasse kinders leef vannag in moeilike tye van inperking, werkloosheid, onsekerheid, misdaad en korrupsie.  Jy kan  nie meer hulle al drie onder een kombersie toemaak nie. Die enigste sekerheid wat jy dan het, is dat jy knus omsingel word deur vier mure en ‘n dak.  Soos Strydom sing: “ek het lankal geimmigreer na ‘n kamer in my kop.” Jy kan nie meer voorsien en beskerm nie, jy kan nou net bid. Voor God jou vrese en magteloosheid uitstort.

    Jou behoeftes verander. Advertensies oor Mercedesse maak jou nie meer opgewonde nie. Jou motorfiets waarvoor jy gewag het sedert standerd agt staan stofbedek in die motorhuis met ‘n pap battery. Dit raak ‘n ekspedisie om Kaapstad toe te ry. Jy, wat altyd roekeloos vinnig gery het in Pretoria se spitsverkeer om betyds by al jou vergaderings oor die hele stad te wees, raak verbouereerd en senuweeagtig as motors jou omsingel.

    Elke robotverkoopspersoon met ‘n sakkie piesangs of selfoonlaaiers of goedkoop donkerbrille is vir jou ‘n bedreiging.  Jy wat in ‘n turbulente tyd van jou loopbaan nagtelank in Kathlehong agterop ‘n Samil gery het saam met gewapende troepe om lyke op te tel. Prediker 3 maak vir jou meer en meer sin. Vir alles onder die son is daar ‘n tyd.  Jou persoonlike “in-hokkie” het nie eintlik meer enige iets in nie. Jou “uit-hokkie” is leeg, jou taak is afgehandel, jou werk is voltooi.

    Die kamer in jou kop het nie plek vir uitspattighede en onnodige bagasie nie.  Onvervulde drome moet soos ‘n opgeblaasde ballon met spelde geprik word indien dit nie meer fisies en materieel haalbaar is nie.  Hou op droom om Europa plat te toer met ‘n motorfiets en tweemantent as jy sukkel om in die oggende jou slaapklere uit te trek en jou tande te borsel. 

    Jy belas jouself net met nuwe bagasie.  Hou op kwaad te wees oor dinge wat lank terug gebeur het.  Die mense betrokke is óf al lankal dood, óf kan nie eers onthou nie. Hou op om skuldig te voel oor alles wat jy verkeerd gedoen het, of nie gedoen het nie.  Kyk deur jou venster; die lewe gaan aan. Met of sonder jou.

    Jy het net die basiese dinge nodig hier in jou afsonderingskamer. Oorvloed liefde. Om te gee en te ontvang.  Deernis.  Sagtheid. Begrip as jy dieselfde storie of grappie dalk vir die derde of vierde keer vertel.  En om lekker te kan lag. Uit jou maag uit. Om omring te wees deur mense vir wie jy saakmaak. Mense wat jou waardeer. Mense van jou asem, soos Steve Hofmeyr skryf. Iemand wat vir jou sê: “Ek is lief vir jou” voordat jy aan die slaap raak.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: Kamer