-

ColumnistSo is die Lewe: Blikskudder

So is die Lewe: Blikskudder
S

Geniet nog ‘n aflewering van “So is die Lewe” uit die pen van Marius Britz.

So staan jy by ‘n besige robot in Kaapstad. Gert Vlok Nel bulder op jou motorradio: “moenie vir my hier vergeet nie / in hierdie aaklige, aaklige land nie / hierdie land waar hul nog hekse verbrand nie”.  Jy kyk na die skare bedelaars by die robot, en jy dink jy verstaan die lied. Blindes wat deur ander gelei word, mense met krukke wat hop van motor tot motor, vrouens met pap babatjies op hulle rug vasgebind, mense met afwesige oë en plakkate om hulle nek wat sê: “No food, no job, children to feed. Please help. God bless.” 

Jy betrap jouself dat ‘n  siniese, veroordelende laag in jou gedagtes kom. Jou mening is onherroeplik gevorm oor mense wat sê hulle is nie in staat om te werk nie. Jy is, sagkens gestel, skepties.  

Gert Vlok Nel – Moenie my hier vergeet nie, Dixie

Jy sien ‘n man van in sy laat sewentigs wat met ‘n skewe Tupperbakkie staan en vra vir ietsie.  Sy kop hang skeef, hy hou sy oë ‘n rukkie toe.  Jy kan sien hy is moeg tot in sy siel in.  Fisies, geestelik en emosioneel.  Woede kook effens oor as jy die ma sien met die blikkie in haar hand wat van motor tot motor loop in die middel van die dubbelbaan. 

Maar wat die meeste pla, is die angsbevange kleuter van so vier jaar oud wat, kaalvoet op die warm teer, aan haar ma se rok vasklou terwyl motors, vragmotors en motorfietse weerskante van hulle verbyjaag om die robot groen te vang.  ‘n Maatskaplike werker moet dringend hier ingryp, voel jy.

Maar later by die huis, eensklaps, word jou persepsies totaal omgekeer. Jy lees die plasing van iemand op Facebook.  Sy het ‘n suksesvolle loopbaan gehad, hoogs intelligent, uitstekende sin vir humor. Sy skryf:  “As ek nou WÉÉR hoor iemand sê dat ‘n persoon ‘dit darem lekker gemaklik het’ deur nie te werk nie, en dat die persoon ‘net op ander mense se swaarverdiende geld’ leef deur ‘n staatstoelaag te kry, gaan ek ‘n groot tantrum gooi!  Hoe de ongeluk lewe enige mens ‘lekker gemaklik’ op R1700 per maand?! Kom wys my!! 

Wat is ‘lekker gemaklik’ daaraan om deur twee dokters ondersoek te word en te hoop hulle vind jou ‘gestrem genoeg’ om ‘n toelaag te kry?  Wat is ‘lekker gemaklik’ daaraan om van vier uur tot agt uur die oggend met jou gestremdheid in ‘n ellelange ry, op ‘n vuil sypaadjie, te staan in die middel van die koue stad?  Net om later in ‘n saal tussen hordes mense te probeer uitvind wat nou gaan gebeur?  

so is die lewe

Om alles te probeer om seker maak dat jy darem teen drie uur die middag gehelp sal word. Want as jy nie gehelp word nie, kry jy ‘n nuwe datum vir drie maande later. Drie maande van ontbeer, van wakker lê, van vernedering om reëlings te tref dat jy nie jou basiese verpligtinge, soos krag en water, kan betaal nie.  Gelukkig het jy nie ‘n mediese fonds om te betaal nie.  Jy is ‘n staatspasiënt.  Waar jy dieselfde prosesse deurgaan. Om vir vier ure te staan en dan te hoor die werkers staak… 

Wat is ‘lekker gemaklik’ daaraan om elke elf maande weer te ‘hoop’ jy is ‘genoeg gestremd’ om vir die volgende elf maande ‘n toelaag te kry? En weer deur die hele toetie te gaan?  Hoe kan enige iemand dink dat ‘n mens liefs só ‘n lewe sal wil lei as om te werk?  Om aan te hou ‘ploeter’… omdat hulle ‘swak besluite’ geneem het om op te hou werk?  Hoe kan enige iemand dink dat ‘n mens liefs als verloor, eerder as om te werk?  So bly is hulle is darem nou gestremd, te siek om te werk?

Waarom drop die pennie nie dat die oorgrote meerderheid ontsaglik gefrustreerd is met hul gestremdheid en werkloosheid nie? As dit nie almal is nie. Wie de hel wil gestremd en werkloos wees?  Hoekom weet mense nie dat so persoon smag na sy vermoë om soos in die verlede te kan werk nie?  Want hy was uitstekend in sy werk. Hy het hom desmoers gewerk en was lief vir sy werk. En dat hy liefs sy vaste inkomste, en die onafhanklikheid wat daarmee saamgaan, sou wou terughê. 

Waarom sal enige iemand eendag opstaan en besluit: ek is skielik te lui om suksesvol te wees. Ek wil liefs ‘lekker gemaklik’ op R1700 en almoese van ander hardwerkende mense leef.  Dit is regtig wat sommige mense dink.  Wat ‘n ‘damn cheek’ om sommer te aanvaar dat dié gestremde nog nooit self hard gewerk het nie!   Dat jy dit daarom nodig sien en aanvaar dis jou reg is om vir so ‘n persoon ‘n preek af te steek oor ‘verantwoordelikheid’, ‘trots’, ‘help jouself’… asof die persoon nie reeds sy g@t af gewerk het vir dekades voor hy gestremd of werkloos geraak het nie. 

Sy verlede se suksesse is net nie genoeg bewys dat dié persoon regtig nie deur ander mense versorg wil word nie.  Dat dit nie saak maak dat sy selftrots by die dag afgebreek word deur die lewe self. Wat nog te sê deur mense wat dink hulle het absoluut al die wysheid in pag. Trap maar nog so ‘n bietjie op sy reeds stukkende selfbeeld. Hy het dit mos nodig, die lui nikswerd.

Lees ook: So is die Lewe: Ek rus my saak, Edelagbare.

Wil jy nie help nie? Moet dan nie help nie!  Maar moet nie vir ‘n millisekonde dink jy het ‘n greintjie kennis of die reg om iets oor dié onderwerp te sê nie.   Was jou hande in onskuld en laat die ‘lui mense wat te lekker leef’ in vrede. Dit mag dalk net die klein, klein bietjie waardigheid wat so ‘n persoon nog oor het vir ‘n rukkie langer heel hou…”

Hierdie plasing ruk my. “Ek is werkloos weens omstandighede”, beteken skielik vir my iets heel anders. Gestremdheid is ‘n baie wye term.  Die persoon wat ‘n massiewe beroerte gehad het, wat sukkel om te loop, die persoon met spierdistrofie, die terminaal siek persoon, afgetakel deur chemoterapie, die persoon wat worstel met maniese depressie, die swaksiende, hardhorende, die persoon met Alzheimers, die een met ingeperkte hartfunksie. 

Die persoon wie se besigheid tydens Covid gesneuwel het, of wat eenvoudig net deel van die statisitieke geword het van afgelegdes, werksoekers ens.  Nie een van hulle plaas op ‘n Sondag ‘n prentjie op facebook van ‘n gatvol gesig wat sê: “Dis Maandag, ek moet al weer werk nie.”  Inteendeel.  Hulle wese roep uit: “Maak my asseblief sterk, sodat ek kan werk!” Sodat ek net weer iemand kan wees.

Gee my, soos vir Simson, net èèn keer weer my krag terug. Al is dit om al die snedige beterweters daar buite te wys wie ek was.  Nie die vernederde, verstote wese wat op die periferie van die samelewing se suksesnormsiklus beland het nie.

En ek besluit:  Van nou af help ek, so beperk as wat my vermoë is. 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here

So is die Lewe: Blikskudder

- Advertisement -

Latest news

Rademeyer Funeral Parlour and Florist now open in Bethal

Thursday evening, June 10, saw the opening of Rademeyer Funeral Parlour and Florist in Bethal Hennie Rademeyer welcomed everybody to...

Kruik se Oggenddiens 13 Junie 2021

Welkom by kruik se oggenddiens van 13 Junie 2021 Vanoggend se tema: Die stories van Jesus https://youtu.be/GdCq_3Kir7I Hoe kan die stories van...

So is die Lewe: Hier is ek!

Geniet nog 'n aflewering van "So is die Lewe" uit die pen van Marius Britz. Jy kom laataand by die...

SANBS kick-starts National Blood Donor Month

The South African National Blood Services (SANBS) kick-starts National Blood Donor Month 2021 We know better than most that millions...

You might also likeRELATED
Recommended to you