Nog ‘n “So is die lewe” rubriek vanuit die pen van Ds Marius Britz. Die titel is “Kies Lewe”
“Genade, maar dit vat lank,” was die laaste woorde van prof. David Goodall, die 104-jarige wetenskaplike wat op 10 Mei 2018 sy eie lewe in Switserland beëindig het. Goodall het die drup self geaktiveer wat die dodelike mengsel in die Life Circle-kliniek aan hom toegedien het. Dit was een van die wetlike vereistes waaraan sy genadedood moes voldoen. Goodall, ‘n botanis wat met die Orde van Australië vir sy lewenswerk vereer is, het na Switserland gereis omdat genadedood onder sekere omstandighede daar wettig is.
Goodall moes eers talle vorms invul en vrae antwoord, en dit het hom ongeduldig gemaak. “Waarvoor wag ons?”, het hy gevra. Sy laaste maaltyd was vis en skyfies. Talle familielede was by hom tot die einde. Beethoven se 9de simfonie is gespeel terwyl Goodall op die bed gelê en gewag het op die drup se uitwerking. Hy was nie terminaal siek nie. Goodall het vroeër aan CNN gesê hy het self besluit op die genadedood omdat hy sowat vyf of tien jaar gelede opgehou het om sy lewe te geniet.
Sjoe, het ek gedink toe ek dit in die Burger gelees het. En dan loop mens se gedagtes maar vêr. Geniet èk die lewe, is die vraag wat jy jouself afvra. Daardie stedeling wat hier op die weskus kom vakansie hou, maar sy spanning en onvergenoegdheid saambring en duidelik wys, het hý ‘n lekker lewe? Die blou see, die wit strand en die stadige lewe hier doen oënskynlik niks aan sy ervaring van leef nie. Geniet hy die lewe? Ek vermoed van nee.
Lees ook: So is die lewe: Ek voel nie lekker nie!
Een aand het ek in ‘n vliegtuig op pad na Turkye gesit langs ‘n tannietjie wat my die een foto na die ander op haar selfoon gewys het van eksotiese plekke waar sy al vakansie gehou het. Europa, Amerika. Ek het naderhand aan die slaap geraak van kyk na al die fotos van luukse skepe en fyn glase met mengeldrankies, en haar, met haar ontwerpersdonkerbril en groot diamantoorbelle op elke foto. Maar laatnag, toe ek wakker skrik en die meeste van die passasiers se dakliggies af was, was die tannietjie langs my s’n nog aan. Ek het gewonder waarom sy juis toè gesit en huil het.
Ook die uiters suksesvolle sakeman, alom bekend vir sy kreatiewe en vernuwende denke in sy bedryf. Eenkeer, na ‘n konferensie wat hy toegespreek het, en dawerende applous gekry het, kom staan hy langs my, iewers waar ek wegkruip in die donker vir die geroesmoes en gedreun van stemme. “Ek is moeg,” sê hy vir my. “Vir al hierdie goed. Ek het genoeg gehad van die korporatiewe wêreld. Ek is 49 jaar oud, maar ek is afgeleef.”
Soos Billy Joel sing in Piano man: “Paul is a real estate novelist who never had time for a wife,” en die kroegman wat sê: “Bill, I believe this is killing me, as the smile ran away from his face. I believe could be a movie star if I could get out of this place”. So sing Joel van ‘n paar mense in hierdie gewilde en briljante lied wat eerder op ‘n ander plek wil wees.
Die bestuurder van ‘n afdeling met ‘n groot personeel en beklee met groot gesag, droom daarvan om vyfuur huis toe te gaan soos ‘n klerk, en al die werksprobleme by die werk te los. En die klerk, op sy beurt, droom daarvan om die bestuurder van die afdeling te word, met al die gesag daaraan verbonde.
Daar is verskeie voorbeelde, alledaagse, werklike voorbeelde van mense wat droom oor ‘n ander lewe, en nie hulle lewe geniet nie. Die tuisteskepper wat op ‘n Maandagoggend, nadat haar kinders skool toe is en haar man werk toe is, kyk na die berge skottelgoed en vuil wasgoed.
En droom oor ‘n loopbaan en kantoor en inkomste. Of die sakevrou wat ‘n Maandagoggend afskop met ‘n konflikvolle vergadering, voordat sy daarna vier werknemers van die maatskappy moet inroep om hulle mee te deel dat hulle afgelê word as gevolg van die maatskappy se finansies. Sy droom daarvan om by die huis te bly, en te ontspan met ‘n koppie tee voordat sy die huishoudelike take met liefde en vrede aanpak.
Die Goodall-opsie is min mense beskore. Baie mense besef op ‘n dag dat hulle lewens sinloos voel, soos Marianne Fathfull sing in The Ballad of Lucy Jordan. “At the age of thirty-seven, she realise that she’ ll never drive in a sportscar through Paris, with the warm wind in her hair.”
dink nuut oor die lewe. Jou lewe!
Daar is egter èèn opsie wat ons almal kan uitoefen: dink nuut oor die lewe. Jou lewe. Deel jou lewe op in kompartemente. Agt ure werk, agt ure slaap, en dan is daar nog ‘n volle agt ure oor waarin jy kan lèèf. As jy lief is vir lees, ontdek nuwe skrywers, en lees met oorgawe. Koop daardie visstok, of daardie omkapmasjien waaroor jy so lankal droom.
Luister na musiek: diè soort wat jou hart vinniger laat klop. Luister dit kliphard in jou motor. Ek het al mense verbaas na my laat kyk by robotte as Pink Floyd se The Wall, of Mozart se Requiem kliphard bulder in my motor. En, om te geniet, is om nooit die donker wolk te soek nie, maar altyd die silwer rand. ‘n Koning het op ‘n keer sy raadgewers gevra om ‘n leuse uit te dink wat altyd geldig sal wees, en op sy ring te graveer. Toe skryf hulle: “Ook dit sal verbygaan.”
Die slegte in jou lewe, sál ophou. Hou net aan. Maar die goeie kan dalk ook, so gebruik elke oomblik om die goeie betyds raak te sien, te waardeer en te geniet. Wees lief, en lag dikwels, ook vir jouself. Leer só om die lewe voluit te geniet.
Voetstoots.