Wednesday, December 18, 2024

So is die Lewe: You’ve got problems

Bookmark
Bookmarked

Nog ‘n “So is die lewe” rubriek vanuit die pen van Ds Marius Britz. Titel is “You’ve got problems”

Ou manne sal drome droom, en jong manne sal gesigte sien, het die profeet Joël gesê. As ‘n man ouer word, besef jy al hoe meer die waarheid hiervan.

Baie teologiese kandidate in hulle finale jaar op kweekskool sien in hulle geestesoog alreeds hoe hulle die Kerk gaan tref met dieselfde impak as daardie komeet wat planeet aarde na bewering getref het toe die dinousaurisse uitgesterf het. Hulle visualiseer vol kerkgeboue en sondige sterflinge wat aan hulle lippe hang om ewige waarhede in te drink.

In my tyd (en nou klink ek soos ‘n ou man) was daar egter een struikelblokkie voordat jy die Kerk kon gaan tref: twee jaar diensplig. As jong kapelaantjie vind jy vinnig uit Die Kerk is toe nie die middelpunt van die heelal soos jy geglo het nie. En nie almal hang aan jou lippe nie. Om die waarheid te sê, baie van jou oortuigings word uitgedaag deur manne met ‘n sterk intellek.

Daar is baie stories om te vertel. In 1993, op Wallmansthal, het duisende nie-statutêre magte saamgetrek om ge-evalueer te word vir ‘n nuwe, geïntegreerde weermag.

Maar dis warm in die bosveld, die frustrasievlakke is hoog, en die onsekerhede baie. Ons was twee staandemagkapelane daar: ek en ‘n stoere ou Afrikaanse dominee wat ses maande vêr van aftree was. Hy was onderlê in Grieks en Hebreeus, maar Engels was nie juis sy sterkpunt nie.

Die troepe het in rye voor ons kantore gesit om oor hulle smart en frustrasies te praat. Hulle Engels was nog meer beroerd as die dominee s’n. Hulle kon vlot Russies en Spaans en Duits praat, afhangende van waar hulle militêr opgelei is, maar nie wafferse Engels nie.

So, my kollega het elke troep se lang storie met geduld en deernis uitgeluister, en dan sy standaardantwoord gegee: “You got problems. Go see Chaplain Britz.” Toe besluit ons om die algemene probleme aan te spreek deur te begin met kapelaansperiodes. Maar steeds bly taal ‘n probleem.

Ek ontdek egter ‘n breedsprakige makker wat direk uit Afrikaans in Xhosa kan vertaal, so uit die vuis, volgens hom. Hy is my regterhand tydens die eerste kapelaansperiode, waar maklik 1000 troepe teenwoordig is. Ek besluit op Fillipense 4, uiters relevant: “Wees oor niks besorg nie”.

En Tolk is flink en vinnig met sy vertaling oor die kragtige luidsprekers: “Ungakhathazeki malunga nantoni na.” En om my teks te beklemtoon, skreeu hy luidkeels: “f%@*l!”

‘n Groot skok vir die ywerige, begeesterde jong dominee was ‘n spesifieke opdrag in die pligstaat van kapelane: Kroegbesoek. Maar met die wysheid van die grysheid besef jy die sin daarvan.

LEES OOK: So is die lewe: Die mense met wie ek ‘n dak gedeel het

Wanneer ‘n klomp troepe vir basiese opleiding in ‘n kamp ingebondel word, kry jy alle tipes mense. Sommige is uitsmyters in ‘n bordeel in Boksburg, andere weer het ‘n doktorsgraad in kernfisika. So, die konflikpotensiaal is hoog. Die kapelaan het hier ‘n belangrike rol om ontlonter en fasiliteerder te wees; hy het immers vrye toegang tot alle range.

Maar soms raak sake selfs vir die dominee buite beheer.

Tydens ‘n driemaandekamp iewers in die bos was daar een man wat by voorbaat geëien was as potensiële probleem. Reeds in Voortrekkerhoogte, wagtend op die Flossie, het hy sy sorge en kwellinge probeer verdoof met ‘n bepaalde vloeibare probleemelimineerder.

Hy was nou nie eintlik die man waarvan Rina Hugo in Troepie Doepie sou sing “doen met trots jou plig teenoor jou land nie”.

Rina Hugo – Troepie Doepie

Onbaatsugtige soldaatwees sou nie eintlik sy gedragspatrone treffend beskryf nie. Hy wou net die drie maande omkry sodat hy kon teruggaan na sy meisie en sy Ford Escort XR3. Punt. Sy uitstaande kenmerk was sy reusagtige snor. En na diep oorweging het die bevelsraad besluit om Snorre se getrouste bondgenoot (volgens korporaals), nl. die R-4 geweer, eerder weg te neem, en hom toe te rus met ‘n Honeysucker.

Dit is nou die lorrie wat tweekeer per dag al die opslaantoilette in die tydelike basis moes leegsuig. Snorre het die taak vinnig afgehandel, wetende dat hy meer tyd vir homself koop om sy twee gunstelingsportsoorte, veerpyltjies en brandewyndrink, te bedryf.

Toe kom die sein: die hoof van die weermag kom die basis besoek. Alles is in rep en roer. Operasie VIP skop in volle erns af.

Ek as kapelaan het die voorreg om saam met twee vlieëniers in ‘n Super Frelonhelikopter na ‘n ander basis te vlieg, waar nuwe matrasse beskikbaar is. Hulle “Top-cover”, sê hulle.

‘n Biltongruiker en blomme verskyn asof vanuit die niet. Die beste tent word perfek opgeslaan vir die generaal, en die troepe maak sy bed op met militêre presiesheid. Die lakens en komberse word natgemaak en gebyt om soos ‘n vuurhoutjieboks te lyk. Die generaal het selfs sy eie VIP- opslaantoilet.

Elke verwelkomingsaksie word sorgvuldig beplan en ingeoefen. Loopbane is hier op die spel. Alles lyk superieur. Die generaal is beindruk, antwoord ons almal se salute, bedank ons vir die netheid en voortreflike wyse waarop alles gereël is, en goeie smaak wat tentoongestel is.

Maar moeilikheid kom in die vorm van Snorre. Hy voel, ná sy middagsessie in die Watergat, dat dit tyd is om die generaal te beindruk met sy spesifieke vaardighede en talente as Honeysuckerdrywer. Maar in die proses raak hy effe verward met al die hefbome, en in plaas van suig, blaas hy die volle inhoud van die Honeysucker uit op die generaal se bed, sy tas, sy blomme en sy biltongruiker.

You got problems,” onthou ek my kollega van Walmmansthall se woorde.