Tuesday, November 26, 2024

So is die Lewe: Skiet Afrika

Bookmark
Bookmarked

Nog ‘n “So is die lewe” rubriek vanuit die pen van Ds Marius Britz. Titel is Skiet Afrika

Dit is asembenewend, skrikwekkend. Vir dae aaneen, voor die skryf van hierdie rubriek, het my selfoontoepassing  gereeld gepiep met nuusflitse: “Man killed in gun shooting.”  “Verkeersbeampte doodgeskiet deur motoris.” “Man skiet drie inbrekers in huisrooftog in Durban dood.” ”Een persoon doodgeskiet in rooftog in Somerset Mall.”  “Plaasaanvallers skiet boer in opstal dood.”  “Vrou in rooftog doodgeskiet.” “Kind in St. Helenabaai geskiet terwyl hy sit en TV kyk in sy oom se plakkershut.”  

“Driejarige kind op ma se skoot geskiet. Sterf op pad hospitaal toe.” “Polisie skiet vermeende kapers dood.” “ Bejaarde ouerpaar en dogter in Noord-Kaap ontvoer en wreed vermoor.” Gewone plaasmense wat net wou lèèf, hulle Sondagmiddagmaal nog onaangeraak op die stoof toe hulle aangeval is.  Tradisionele kos: oondgebraaide vleis, aartappels, groenbone, pampoen en rys, waarskynlik.

Baie van hierdie gebeure haal nie eens die koerant of nuus op radio en TV nie. Andere doen wel. Soos die hoofopskrifte:  “Joost se broer skiet twee aanvallers in kerk dood.”  Die hele land is geskok oor die feit dat die een aanvaller, nadat hy sy pistool teen die pastoor se kop gedruk het, op slag deur Pieter van der Westhuizen, ‘n gewese polisieman, doodgeskiet is. So ook ‘n tweede aanvaller binne in die kerk.  ‘n Derde een is vermoedelik gewond, maar het weggekom.  Die gemeente is verstar, en kliphard aan die bid in daardie paar minute wat die hele slagting afgespeel het.

Dit klink amper soos die draaiboek van ‘n goedkoop Wilde Westerse rolprent. Bendegevegte op die Kaapse vlakte waar eenvoudig net geskiet word. Koeëls wat heen en weer trek, en mense wat mekaar met vuurwapens, aan beide kante van die reg, bestook.  Gelisensieerde vuurwapens, hanteer deur wetsgehoorsame mense wat hulleself en hulle geliefdes moet verdedig , maar meestal ongelisensieerde, gesteelde vuurwapens in die hande van meedoënlose, gewetenlose misdadigers wat nie huiwer om te skiet om dood te maak nie.

Die vraag is: wat doen hierdie dinge aan die psige van ‘n nasie?  Noodwendig moet dit ‘n rimpeleffek hê op die bestaan van Suid Afrika se inwoners. Sommige mense raak meer en meer apaties, leef half asof in ‘n ontkenningsfase.  “Dit sal nie met my gebeur nie.  Dis met ander mense op ander plekke wat dit gebeur.”  Andere weer, raak meer en meer aggressief en militant.

Skiet om dood te skiet, word die mantra.  “Bewapen jouself”, skryf vele op platforms soos Facebook en WhatsApp.  As daar berugte geplaas word oor misdadigers wat hul rieme styfgeloop het in skietgevegte, is daar ‘n tasbare vreugde, wat bykans grens aan ’n koudbloedige sadisme, uit die reaksie.  “Goed so!”, is die reaksie.

Dit sal nie met my gebeur nie.  Dis met ander mense op ander plekke wat dit gebeur

Daar is ook ‘n ander kant van die muntstuk. Dis maklik om ‘n kantlyn-waarnemer te wees en kommentaar te lewer as dit jou nie direk raak nie.  Dit raak effens anders as jy dit persoonlik beleef, in die midde van so ‘n situasie is. Dit veroorsaak post-traumatiese stres wat vir baie jare latent kan bly, of onmiddelik ‘n effek op jou emosionele en psigiese toestand kan hê.  Alle ondeurdagte kommentators moet weet dat dit geweldige gevolge het vir die slagoffers van roekelose skieters.

Oud soldate en polisiemanne wat baie met geweldsdood te doen gehad het, is skynbaar beter in beheer van hulle ervarings. Dis egter nie heeltemal waar nie. My vriend, jy wat dink dat die donker bedrieg, kom dat ek jou wys hoe die lig kan lieg, sing Coenie de Villiers in die lied Donkerlieg.

Coenie de Villiers – Donkerlieg

So ‘n klompie jaar gelede het ek my dogter gaan haal toe sy nog in Bethal op skool was. Toe ons by die skoolterrein uitry, hoor ek skote klap. Soos toeval dit wou hê, ry ek by die polisiestasie verby op daardie presiese oomblik. Die een persoon in die motor links van ons was reeds gewond, die bejaarde boer, baie bekend in die Bethal omgewing, en sy vrou in hulle bakkie regs van ons albei gewond. Die skieter het na ons gedraai, en skote op ons in my motor afgevuur, en toe, ‘n paar meter van ons af, homself deur die kop geskiet terwyl ons met afgryse toekyk.

Ek het my grootste fout ooit gemaak: ek het my dogter net daar in die middel van die straat gelos in die motor, en met die gewonde man en sy vrou Bethalhospitaal toe gejaag in sy bakkie. Hulle, sowel as ek, was sopnat van die bloed toe ons by ongevalle gestop het. Die man in die motor links van ons is oorlede in ongevalle, en so ook die bejaarde boer so paar dae daarna. Sy vrou het oorleef.

Ek, as oud-beroepsoldaat, het dit baie in my loopbaan beleef.  Toe ons by die huis stop ure later, en my vrou my bebloede klere sien, het ek dit skouerophalend afgemaak: “Ag, dis sommer ‘n insident gewees langs die pad.  Ek het nie seergekry nie.”  My dogter het baie seergekry. Emosioneel. Ek weet dat dit ‘n massiewe impak gehad het op haar hele lewe.

Alhoewel die skool gereël het vir berading, is dit nie so eenvoudige oplossing soos om twee aspirienetablette te drink, en Voila!, my hoofpyn is weg nie.  Tydens die man se begrafnis het ek in die stampvol kerk gesit en ‘n diep hartseer het my oorval. Ek het gehuil soos ‘n baba, sommer oor alles wat ek gedink het ek het vergeet uit die verlede.

Ek het ook vir daardie skietinsident betaal, later. Op ‘n ingrypende manier. Nie net oor daardie een insident nie, maar oor baie lyke en bloed en skote en selfmoorde oor baie jare.  Ek was toe nie so bulletjie as wat ek gedog het ek was nie.

LEES OOK: So is die lewe: Siellose Tegnologie

As een persoon deur misdadigers en kapers doodgeskiet word, word almal rondom hom of haar ook diep gewond. Al is dit nie fisies sigbaar nie.  ‘n Hele gemeenskap raak gekwes deur ‘n plaasaanval of skietinsident tydens winkelsentrumrooftogte of motorkapings. Baie van daardie wonde is emosioneel fataal, dit vermink emosioneel lewenslank.

Laat ons bid vir hierdie “wye en droewe land, waar die aasvoëls lank reeds die gedoemde waarheid dra”, soos NP van Wyk Louw geskryf het.