Nog ‘n “So is die lewe” rubriek vanuit die pen van Ds Marius Britz. Titel is “Gevaarlik, Gevaarlik Hier”
NP van Wyk Louw het geskryf: “moet ek vir iemand iets nog sê in hierdie land / wat luid van alle stemme is en blink en brand? of waar die goue lug al lank die aasvoël dra,/ koud ‘n gedoemde waarheid weet / wat niemand vra?”
Facebook, Twitter en WhatsApp kreun die afgelope tyd onder somber, desperate en ook agressiewe plasings: moorde op ‘n boere, senior polisiemanne besig om skaduagtige figure in die onderwêreld te ondersoek word koelbloedig afgemaai, mense van van alle groepe in hierdie land staan in plofbare oomblikke in Senekal neus teen neus mekaar en dreig, 1000e hektare plaasgrond met weiding en gewasse in die Wes Vrystaat en Noord Kaap afgebrand.
Opruiende toesprake word impromptu en ongeregisseerd op nasionale televisie gehou, terwyl emosies hemelhoog opgesweep word. Videos hiervan versprei soos ‘n veldbrand op die sosiale media. Baie tuisgemaakte video’s word gemaak en geplaas as gevolg van hierdie een, en vele van die video’s gee mens koue rillings.
Een van hulle is geplaas deur ‘n bekende sakeman wat ‘n masjiengeweer en ‘n pistool langs hom het, terwyl hy versies uit die Bybel aanhaal, totaal uit konteks, om oorlog en wraak mee te regverdig. Manne wat nie eers ‘n korporaal in die kadette was nie, is nou skielik ‘n generaal, met verspotte leer-epoulette met die Uniegebou op as rangkenteken, en wil oorlog verklaar teen ‘n ander groep mense in hierdie wye en droewe land.
Daar is opgekropte woede onder baie inwoners van hierdie land. Dekades nadat Van Wyk Louw alreeds dit voorspel het met sy woorde: “wat luid van alle stemme is en blink en brand.” Oor baie sake. Korrupsie. Misdaad. Werkloosheid. Geweld. Swak dienslewering. Onbevoegte amptenare. Die kommissie na staatskaping hoor elke dag verstommende getuienis aan oor astronomiese bedrae geld wat gesteel en wanaangewend is.
Koerantplakkate basuin dit uit: 67% van die Covidfondse is weg. Soos in gesteel. Die situasie in die land is hoogs plofbaar. Dit hang soos ‘n newel om my as trotse Suid Afrikaner se gemoed.
Somber, bekommerd, belemmerd deur al hierdie goed wat my slimfoon en gemoed besoedel, staan ek by die kettingwinkel in Langebaan se tou by die kasregister om te betaal. Ek probeer om nie na die rak met koerante te kyk nie, want dit alles is voorbladnuus op al die koerante. Voor my staan ‘n ou tannietjie met haar einde-van-die-salaris-aankope: een rol toiletpapier, ‘n halwe brood, ‘n liter langlewemelk.
Ons praat oor die prys van kos. Sy sê vir my, plastieksakkie bronsmuntstukke in haar hand: “Onse mense kry swaar, meneer.” Toe, skielik, groet die opsigter by die kassiere iemand agter my wat ook in die ry staan, wat verjaar. En skielik begin sy sing: “Happy birthday to you.” Al die kassiere val in en sing saam. Ook die mense in die ry. Almal in die winkel glimlag agter hulle maskers en sing.
Ek weet meteens dat daar nog soveel goedheid en menslikheid is in hierdie wye en droewe land.
En ek, ek begin huil. Die bruin tannietjie voor my ook. Ook die mense om ons. Gemaskerd omhels ons mekaar. Wit en swart en bruin en pienk en helderbont mense. Ek weet meteens dat daar nog soveel goedheid en menslikheid is in hierdie wye en droewe land. Ten spyte van al die duister. Die oorgrote meerderheid van mense soek net vrede, veiligheid en ‘n rustige bestaan.
Lees ook: So is die Lewe: Inperkings het sy voordele
Die meeste se senuwees en geduld is dun deurgeskaaf. Ek dink aan Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues-band se lied Liefde: “Gevaarlik, gevaarlik, gevaarlik hier, sonder liefde... Moordenaars loop los en daar is dood in die strate sonder liefde.”
Toe ek uitstap egter, sien ek die spierwit strand. En die kobaltblou see. Alhoewel Dasseneiland en Schaapeneiland deur ‘n mislaag bedek is, weet ek dit sal netnou verdwyn. Dan sal dit ‘n helder, oop, dag wees. Ek besluit terstond: ek gaan nie dat die huidige miswolke my uitsig op die meerderheid lieflike mense van hierdie reënboogland verberg nie. Daardie miswolke sal ook verdwyn.
Van nou af bid ek ernstig vir almal wat geraak word deur plaasmoorde. Ek bid vir die kinders van die Kaapse Vlakte wat deur ‘n dwaalkoeël getref word agter op hulle ma se rug, of binne in die sinkhuis op die rusbank as bendes roekeloos op mekaar skiet. Ek bid vir nog ‘n dogtertjie wat gesterf het nadat sy ernstig deur haar stiefpa aangerand is. Vir ‘n kind wat in Soshanguve op die skoolgrond met ‘n mes gesteek word. Ek bid vir die kind wat met ‘n wapen skool toe gaan.
Vir my oud-tuinier in Embahlenhle wie se sinkhuis onmenslik warm is in die huidige hitte in Secunda. Vir die kind wat met geweld grootword, dit dra in die letsels aan sy lyf… totdat hy niks meer voel nie. Ek bid vir die weerlose kind wat na alles ‘n siellose man word wat moor. Ek bid vir daardie boere wat betraand staan en kyk na die verbrande karkaste van hulle stoetvee op die roetgebrande plaas.
Want ek weet: as ek vir hulle bid, bid ek ook vir myself. Dan kyk ek verder as die hier en nou, verder as Facebook en Whatsapp en Twitter, as die swart en donker en rou. Ek kyk op, op, op na die berge.
En ek sien die Lig.