fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Thursday, October 29, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: Inperkings het sy voordele

    Nog ‘n “So is die lewe” rubriek vanuit die pen van Ds Marius Britz. Titel is “Inperkings het sy voordele”

    Hierdie jaar is ‘n anderster jaar, meneer. Nadat ons alreeds vir 202 dae ingeperk is, het ons gehoor dat ons nog ‘n maand in fase 1 gaan wees. Baie goed word daardeur geraak, soos mense wat gewoond geraak het om van die huis af te werk, gewysigde kantoorure wat jou ure in ‘n tou laat staan vir iets eenvoudigs soos ‘n motorlisensie, noem maar op.

    Ek kan nie eens die dra van maskers noem sonder om te hyg na my asem nie. Mens voel veral jammer vir die matrieks, wat groot hoogtepunte van hulle skoolloopbaan soos “Fourty days” en matriekafskeid misgeloop het.

    Maar ek, valslik synde ‘n sinieswordende, grimmige ou man, sien ook die positiewe van hierdie verlengde inperkingstyd. Al noem my kinders my met liefde ou “Knorrie” of “Moaner van Heerden”, is my hart hart veerlig in my liggaam oor sekere goed wat ek genadiglik misloop vanjaar. Soos jaareindfunksies, afskeidsfunksies en personeelfunksies.

    Nou is dit alles goed en wel as dit jou eie kollegas is saam met wie jy gaan fuif en filosofeer. Maar, dis ietwat van ‘n ander storie as jy as aanhangsel saamgaan, en bitter min mense ken met wie jy die betrokke aand jou kosbare tyd gaan verwyl. So stap jy in die gholfklubgebou in waar die funksie gehou word saam met jou gade, en alreeds is daar ‘n klomp groepies wat gons en dawer. Vrouens eenkant, manne anderkant.

    Jy is nou op jou eie tyd, jou eie teiken. Nou betrag jy die spulletjie so, en besluit die een groepie doèr links lyk na jou tipe mense. Gewone manne. Grappige knolle vol kaperjolle. Jy sluit jou by hulle aan, en gaan staan langs ‘n klein mannetjie met ‘n reuse adamsappel wat op en af wip as hy teug aan sy bier.

    Lees ook: So is die Lewe: Topswaar

    Jy kom dadelik agter jy bevind jou in die midde van ‘n ernstige gesprek oor die afgradering van Suid Afrika se fiskale status. Waarvan jy g’n toet of blaas verstaan nie. Dis geharde sakemanne diè, en hulle is driftig. “Die gevolge van afgradering is ernstig vir sowel die makro, as mikro-ekonomie,” beduie ‘n oënskynlik gesaghebbende man.

    Jy voel jouself geroepe om repliek te lewer. “Inderdaad,” sê jy. En Adamsappel sê: “het julle gehoor wat is alles voor die Zondokommissie onthul?” Almal in die groepie kyk ons twee gesteurd aan, en gaan voort met hulle gesprek.

    Read more on the Zondo commission HERE

    So beweeg jy gedetermineerd dog taktvol na ‘n ander groepie toe. Hierdie is dalk meer jou soort manne, meen jy. Jy sien dat Adamsappel tot dieselfde gevolgtrekking gekom het, want hy staan weer langs jou. ‘n Man met ‘n kaalkop en Paul Krugerbaard sê driftig, brannas en Coke in die hand: “Ek sê julle! Die! Bokke! Se! Skakelpaar! Is! Die! Probleem! Hulle moet eerder nie vanjaar internasionaal speel nie!”

    “Inderdaad,” merk jy tereg op. En Adamsappel lê ook sy eiertjie: “Het julle gehoor wat alles uitgekom het by die Zondokommissie?” Die kyk in hierdie groepie manne se oë as hulle my en Adamsappel aangluur is veelseggend, en ek besluit dat ek hulle genoeg opgevoed het met my enorme insig in die wêreld van toetsrugby.

    Ek verkas na ‘n ander groepie toe. Nou maak dit nie meer saak hoe die manne lyk nie, ek hoop en bid net dat ek iets van die gespreksonderwerp sal verstaan, sodat ek ‘n sinvolle bydrae kan lewer. Adamsappel huldig toevallig weer dieselfde opinie, en ek en hy is weer die nuutste aankomelinge in die groep wat duidelik al heel aand hulle droë kele gelaaf het met sterk, koelerige vloeistowwe met baie ys.

    Hulle het dit weer oor die betroubaarheid van Chinese en Koreaanse bakkies, en is besig om in detail die voor en nadele van die twee lande se ligte afleweringsvoertuie te vergelyk. Toe daar ‘n oomblik van stilte in hulle luide debat kom, voel ek myself weer geroepe om kommentaar te lewer op die onderwerp ter sprake. “Inderdaad,” sê ek, alhoewel ek onseker is op wie se opmerking ek gereageer het.

    En Adamsappel laat nie op hom wag nie. “Het julle gehoor wat alles uitgekom het by die Zondokommissie?” vra hy vir niemand in die besonder nie. Hulle kyk vir my en Adamsappel aan asof ons reeksmoordenaars op ‘n sendingkonferensie is. Adamsappel besluit daar en dan dat hy nog ‘n Duitse bruisdrankie gaan koop. Sy ontsteltenis oor die onthullings voor die Zondokommissie maak hom dors. Hy is skielik nie meer langs my nie.

    Ek onthou Springs se dorpsleuse uit my kinderjare: Carpe diem! Gebruik die geleentheid! En daarmee herinner my blaas my dat ek ‘n daaglikse verbruiker is van waterpille, en ek maak gebruik van die geleentheid om te verdwyn in die rigting van die fasiliteite vir mans.

    Ek het sorgvuldig ‘n verkenning gedoen van die perseel met ons aankoms daar, want waterpille het maar bepaalde gevolge vir die slukker daarvan. So, mens moet altyd paraat wees, vir die wis en die onwis. Soos ‘n wafferse verkenningsoldaat het ek die terrein gekarteer in my kop.

    Ek sit af met ‘n spoed soontoe. Binne in die lokaal agter my gons dit nog. Ek hoor vaagweg die woorde makrobegroting, kilowatt en losbal, en besluit terstond om vars lug te gaan soek buitekant na my besoek aan die fasiliteit.

    Die lug buitekant is heerlik verfrissend na die bedompigheid daar binne. Die see ruik vars vanaand. Ek wonder of mens Saldanhahawe se liggies van hier af kan sien, en loop tussen ‘n klompie bome in na so effense hoogtetjie. Skielik is dit pikdonker. Ek ruik sigaretrook iewers naby my, en sien ‘n kooltjie gloei in die donker. “Het jy ook verdwaal?”, vra iemand my.

    “Ja”, lieg ek. “Die plek is ook so groot.” Stemme draal oor die stilte na ons toe vanuit die kuierlokaal. Ek hoor onbekende mense wat heeltemal te hard lag vir hulle eie en ander se grappe. Ook ‘n paar manne wat meen dat die suksesvolste manier om jou opponente in ‘n debat te oortuig van jou standpunt, is om harder en vinniger as hulle te praat.

    Erens, hoog bo die gedruis, hoor ek Adamsappel dringend vra vir die een of ander tot dusvêr onbekende groep: “Het julle gehoor wat alles voor die Zondokommissie getuig is?” My onbekende, onsigbare metgesel in die donker suig aan sy sigaret. Ek sien die kooltjie brand. “Dis soms beter om te verdwaal,” sê hy.

    “Inderdaad.” Sê ek.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: Inperkings het sy voordele