fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Saturday, October 31, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: Kyk Noord!

    Moenie terugkyk nie, moet nooit terugkyk nie

    Kyk Noord!

    Vele groot lesse oor die lewe word nie op universiteite of kolleges gedoseer nie.  Kennis oor die lewe wat werklik saak maak, word nie gemeet aan ‘n sertifikaat wat teen jou muur hang, of die titels wat jy voor jou naam kan skryf nie. Mens noem dit wysheid. Dit het ek, snaaks genoeg, onder andere geleer by ‘n vrou in die Noord-Kaap wat glad nie kon lees of skryf nie.

    Maar sy het ‘n vlymskerp verstand gehad, en kon soms moeilike bestaansinsig netjies toedraai in haar Noord-Kaapse Afrikaans. Op die vooraand van haar afsterwe het sy my uit die Kimberley staathospitaal gebel om my te laat weet dat sy nie na ons huis daar op die Bo-Karoodorp kan omsien nie. Op my vraag wat fout is, het sy geantwoord: “Die dogter het gesê my wit bloed eet my rooi bloed.” Onmiddelik het ek geweet. “Ag, ou Milo, dis nou vir jou bitter sleg, jong” was my antwoord. “Ek hoop jy word gou gesond.” Met ‘n knop in my keel, wetende dat dit nie gaan gebeur nie.

    Haar antwoord het my lewenskennis en lewenservaringshorisonne verruim, soos die filosoof Hans-Georg Gadamer geskryf het in sy werke Warheit und Methode en The relevance of the beautiful.  Dit het my, wat jare al met filosofie en teologie geworstel het, eensklaps ‘n nuwe visie gegee, dalk die hermeneutiese sleutel tot die sin van die lewe waarna ek altyd worstelend gesoek het.  Sy het gesê: “Mens leef maar die lewe soos hy kom.”  The relevance of the beautiful, inderdaad.

    Ek het onlangs ook ‘n ander kosbare lewensles onthou. Tannie Lena, ‘n dierbare tannie ook van die Noord Kaap, en haar kleindogter was op die grondpad op pad, toe haar motor skielik aan die brand slaan so kilometer of wat voor hulle plaashek. Die tannie het maar moeilik geloop, maar sy en haar kleindogter het vinnig uitgeklim, en handsak oor die arm het sy begin stap na die plaas toe.

    Haar kleindogter wat toe nog ‘n jong meisie was, was uiteraard ontsteld, en het omgekyk na die bruin Audi wat in ligte laaie staan. Tannie Lena se woorde was: “Moenie terugkyk nie, my kind, moet nooit terugkyk nie. Kom ons stap aan.” Komende van ‘n deurwinterde, gelowige en sterk vrou wat haar seun aan die dood moes afstaan toe hy net klaar was met skool.

    Moenie terugkyk nie, my kind, moet nooit terugkyk nie. Kom ons stap aan

    Dis waaraan ek gedink onlangs het toe my geheue heeltyd teruggefoeter het na die verlede toe, na privaathospitale in die ooste van Pretoria en die hospitaal in Trichardt wat soos vyfsterhotelle lyk. Voorkeuraandag, die beste personeel, effektief, voorkomend. Ek moes myself dwing om my Noord Kaapse lewenslesse toe te pas. Moet nooit terugkyk nie.  Leef die lewe soos hy kom.

    Ek moes daardie oggend 07:30 by staatskliniek wees vir bloed trek. Dis was 10:21, en ek het nog in ‘n ry in die straat gestaan en wag om die heiligdom van die wagkamer te betree. Lepeltjie-staan. Soos Johannes Kerkorrel sing in Die ou-ou lied van Afrika: “mond-aan-mond, en lyf-aan-lyf.” Natuurlik dink mens dan terug aan toentertyd, hoe dit was.  Maar op daardie oomblik het ek gevoel soos Piet Retief by Ungungundlovu.  Geen sosiale distansiëring.  Hier en daar het een ‘n masker op, baie van dit onder hulle kenne. Dit het gelyk soos die klawers van ‘n vendusieklavier.

    Ou Ou Lied van Africa Johannes Kerkorrel.
    ℗ 2016 Shifty Records under exclusive license to Next Music Released on: 1985-12-12 Music Publisher: Shifty Music (ZA)

    Gelukkig het my mede-rystaners vermaak verskaf, alhoewel daar nie vooraf ingeoefen is nie. Ons het spoedig ‘n esprit-de-corps ontwikkel, a feeling of pride and mutual loyalty shared by the members of a group, waar ek heelwat kennis opgedoen het. Nie noodwendig filosofies van aard, of in dieselfde kategorie as diè van die Noord Kaap waarvan ek vertel het nie, maar ek het gehoor waar mens “entjies” kan koop teen die beste pryse (alhoewel ek nie rook nie), watter teken jy by die spaza-winkel moet gee as jy ‘n allesoorheersende dors beleef vir ‘n papsak, en dergelike eksistensiële waarhede.

    Die esprit-de-corps het duidelik geword toe een impi wou indruk voor in die tou, en ‘n klein, maer vroutjie hom geklap het dat sy liggaamsvloeistowwe soos ‘n balaklava om sy kop sit. Jy sien net hakke en elmboë soos wat sy Coronavirus halsoorkop en doodsbeangsd, ore in die nek, vlug uit sy longslyme en bloedplaatjies, die wydtes in.

    Gelukkig kan mens nog lag, besef ek op daardie oomblik. Moenie terugkyk nie, moet nooit terugkyk nie.  Kyk nou, hièr.  Dit is hoe dit is. Met of sonder Steve Hofmeyr. Op daardie oomblik het daar iets in my gemoed losgekom, en ek het die situasie begin waardeer.  Die woord “geniet” sou ‘n ongelukkige woordkeuse wees. Ek was vieserig, om dit eufemisties te stel. 

    LEES OOK: So is die Lewe, Virtuele Begrafnis

    Maar, hoe meer de m@#r in of bang ek raak, hoe snaakser raak ek. Ek was skreeusnaaks net voor my hartomleiding. Die kardioloog het so gelag hy het eers ‘n vasektomie, en toe ‘n kastrasie gedoen, voordat hy my blindederm uitgehaal en my ‘n facelift en borsverkleining gegee het. Tot die teatersuster vir hom gesê het hy moet sommer my hart ook check.  Jong, ons het lekker gelag!

    Na diè ervaring het ek anders begin kyk na die wêreld. Oral word gesê dat ons nooit weer sal terugkeer na hoe dit was voor Corona nie.  Mag wees. Of dalk nie. Maar om heeltyd te tob oor wat was, veroorsaak dat jy dit wat ís, miskyk.  Ek kon óf dikbek gewees het oor die toustanery by die kliniek en heeltyd gemor het oor hoe goed my lewe tot dusver was, of ek kon dit rondom my raaksien en met humor, takt en geduld takseer.  Laasgenoemde het summier my gemoed verlig. Ek kon inpas in die moeilike van nóu, omdat ek die goeie van gister onthou.

    Moenie terugkyk nie, moet nooit terugkyk nie

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: Kyk Noord!