fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Sunday, September 27, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: Virtuele Begrafnis

    Virtuele Begrafnis.

    Alles is gereed. Die rekenaar se kamera is aan, die mikrofoon werk. Ek sit voor die rekenaar, bo gebaadjie en gedas, onder gedenim en gepantoffels. Op die regte oomblik sal die opname begin, en die begrafnisdiens van ‘n geliefde oom uit ‘n vorige gemeente sal die virtuele ruimte ingeprojekteer word. Ek vee-vee aan my ylerwordende kuif, maak seker my bril sit reg, en wag vir die presiese oomblik om aan te breek.

    ‘n Paar gedagtes skiet momenteel deur my kop: ‘n kerkgebou vol mense wat stil-stil in die banke kom inskuif, die orrel wat somber die Largo uit Xerxes van Handel speel, die blomme voor in die kerk, die groot geraamde foto voor op die nagmaaltafel. Gewyd, plegtig, respekvol. Kort voordat die diens begin, kom die draers in met die kis wat voor in die kerk op ‘n staander geplaas word.

    Die begrafnisondernemer wat by die kerk se deur staan en sê: “Dames en here, ons versoek u om op te staan, asseblief.” Dan volg die bedroefde familie. Troos mekaar, hou hande vas, en vee trane af. Na die begrafnis kom almal bymekaar by die kerksaal, en drink tee, eet frikadelletjies en hoenderboudjies, broodjies met eier en koeksisters. Daar word behoorlik afskeid geneem van die oorledene. Die nabyheid van familie en vriende wat mekaar druk, en troos, is ‘n groot deel van die helingsproses.

    LEES OOK: So is die Lewe: Moed Opgee

    Terwyl ek wag vir die begin van die YouTube-uitsending, kyk ek na my boekrak wat sigbaar is agter my op die kamera. Toevallig fokus dit ook in op Deon Meyer se Koors (H&R, 2016) Ek blaai daardeur en sien die paragraaf wat ek gemerk het, p.429: “Toe gaan ons. So het ek nog die laaste van Die Koors gesien. The very bad part.

    En die hele crew kry die virus, en die skipper is dood, en die hele crew is dood, behalwe ek, en op die hele dorp is daar vier mense oor..… Toe vat ek ‘n kar en ek ry, en ek was nog nie eers op Clanwilliam nie, toe kry ons die refugees, die mense wat vlug uit die Kaap uit. Daar is nie mense om vir hulle te werk nie.”

    2016. Dit kon net sowel 2020 gewees het. Dis surrealisties. ‘n Virus het ook, vier jaar na Meyer se roman, die hele wêreld onherroeplik verander. Mense se lewens drasties omvergewerp. Die verskil is net dat die boek geskryf is as fiksie in 2016. Die YouTube-begrafnis in 2020 is die werklikheid. Aanvanklik het baie mense gesê die Virus is net maar ‘n griep, en hulle geloof sal hulle beskerm daarteen.

    Daar is steeds mense wat ontken dat dit ‘n probleem is. Maar die Virus kom klop al hoe nader aan jou deur. Verskeie van my nabye kennisse is reeds oorlede as gevolg van die Virus. My skoonsus se ma, wat in ‘n aftreeoord gewoon het onder baie streng afsonderingsregulasies, en alreeds maande sonder die teenwoordigheid van kinders en kleinkinders moes wees, het skielik gesterf aan COVID-19. Dit word as so ernstig beskou, dat sy reguit van die hospitaal na die krematorium geneem is, oomblikke na haar afsterwe.

    Die oorheersende ervaring van die hele roudiensoefening op die virtuele ruimte is die isolasie, die alleenheid. Ek sit stoksielalleen in my studeerkamer, en probeer die sin van die lewe en dood verduidelik aan mense wat wie-weet-waar is. Hier gaan ‘n poging tot ‘n troosboodskap uit na hartseer kinders en kleinkinders, familie en vriende. En almal van ons is alleen.

    En almal van ons is alleen.

    Provinsiale grense laat slegs drie mense per motor toe vir begrafnisse, en slegs 50 mense sou die diens kon bywoon as gevolg van die Virus, en, meer as dit, 2 van die 3 predikante van die gemeente in Gauteng waar die oom uiteindelik gesterf het, was in aanraking met die virus, en is in selfisolasie. Die een predikant wat steeds werk, is oorval met sy werkslading. Hy kon nie nóg ‘n begrafnisdiens inpas nie.

    Ek stamel en stotter, bewus van elke moesie en plooi op my gesig op die rekenaarskerm. Daar is geen oogkontak met die bedroefde kinders nie, geen begrafnisganger wat ek persoonlik in die oë kan kyk as ek praat oor die wederkoms van Christus, die nuwe hemel en die nuwe aarde nie. Geen kluitklap op die kis, geen seën wat uitgespreek kan word nie, geen formulier nie. Net een elektroniese beeld van ‘n media-onervare, selfbewuste prediker wat half skuinsweg in die kamera staar met ‘n mog-het-troffe orasie wat iewers op ‘n rekenaar of selfoon wys.

    Die werklikheid is onwerklik. Die intimiteit van totsiens sê, is weg. Charles Fryer skryf in sy gedig Oulaas: “Dis oulaas stap, Pa: / jy in die middel en ons, / stram in kispakke, / maar regop, jóú seuns, / elk aan ‘n handvatsel. / Dis half swaar, Pa. / Ons is gewoond saamstap / en die suidewind / is bitterbos en reën. / Voor die kampie op die bult / wag die volk / om vir Pa te sing, / hul gesigte dobberend in die middagson. / Pa het dié tyd / altyd / ‘n bietjie gaan skuinslê.”

    Charles Fryer

    Miskien is dit die ergste van die hele fase waarin ons nou is. Die onpersoonlikheid en irrasionaliteit van die werklikheid. Jy mag casino toe gaan, restaurant toe gaan, in oorvol winkelsentrums rondloop. Taxi’s mag met volle kapasiteit rondry (solank die vensters oop is.) Onderwysers mag skoolgee vir dertig kinders in die klas wat almal uit verskillende huise kom, met verskillende vlakke van blootstelling aan die Virus.

    Weliswaar is daar sekere sanitasiereëls wat geld, maskers wat gedra moet word, handreinigers wat aangespuit moet word, geboue wat gesaniteer moet word, ensomeer. Maar niemand mag alkohol gebruik of rook nie. Want ‘n paar barbare het vuisgeslaan en rondgejaag en mesgesteek toe hulle tapsak gevat het, en so onnodig hospitaalbeddens beset. Daar word vermoed dat iemand groot geld maak uit smokkelsigarette. Big Brother is watching us all.

    Daarom word ons almal se doen en late tot in die fynste fasette beheer. Tot die mees intieme: die manier waarop ons doodgaan. Bejaardes mag nie deur hulle kinders en kleinkinders besoek word nie. Mense sterf alleen in hospitale, sonder enigiemand wat hulle hande vashou vir die laaste paar treë. Treurendes moet op ‘n selfoonskerm kyk hoe ‘n spartelende prediker probeer om ietsie persoonliks en troostend oor te dra op ‘n medium wat vir hom vreemd is.

    Solank julle net nie rook nie, my kind.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: Virtuele Begrafnis