fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Monday, October 26, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: Moed Opgee

    Maar in die hartjie van die nag is hulle vreemdelinge vir mekaar. Hulle ken die uiterlike van die persoon langs hulle, maar lewensmaat se innerlike is dalk totaal onbekend

    Moed opgee deur Marius Britz

    Die media het die afgelope tyd gegons oor ‘n predikant wat homself in die kerkkompleks waar hy bedien het, opgehang het. Ongelukkig is dit op die voorblad van ‘n Sondagkoerant uitgebasuin, en sy gesin en familie se diepste pyn het goedkoop skindernuus geword. Die hele seer verhaal word ook vandeesweek oopgevlek in ‘n weeklikse gesinstydskrif. So hartseer, so onbeskryflik kompleks. Dit word ge-eggo deur baie mense in hierdie donker tyd: “Ek kan nie meer nie!”

    Coenie de Villiers sing in sy lied Donkerlieg: “En teen die more / lê net die kreukels in my laken /en ek, met aktetas bewapen / herken die weerkaatsing van my oë se pyn / in die ruitglas van ‘n voorstedelike trein / my vriend, jy wat dink dat die donker bedrieg / kom dat ek jou wys hoe die lig kan lieg.”

    Coenie de Villiers – Donkerlieg Van Kruispaaie LP, 1987 MOUNTAIN RECORDS
    The Orchard Music (on behalf of Mountain Records)

    In die wêreld waarin ons leef, skuil mense dikwels agter maskers. Hulle bou fronte om hulle wat anders lyk as dit wat werklik in hulle harte leef.  Die Saterdag nog loop Hendrik Schoeman by die kerkbasaar in Delmas rond. So vêr as wat hy beweeg, van groep tot groep, skater mense van die lag vir sy gevathede. Almal geniet hierdie joviale, gewilde persoonlikheid. Oud-minister, miljoenêr-boer, bobaas storieverteller. Maar die volgende oggend vroeg ry hy met sy Mercedes tussen die mielies in en skiet homself. Want niemand het die pyn geken van Hendrik Schoeman nie.

    LEES OOK: So is die Lewe: Liefde kom terug

    Ons leef in ‘n genadelose wêreld, ‘n wêreld wat jou duidelik laat verstaan dat daar nie plek vir swakkelinge is nie. ‘n Wêreld waarin daar bitter min simpatie en begrip vir andere is. ‘n Wêreld waarin mense dikwels en maklik mekaar vertrap en kwes. ‘n Wêreld wat heeltemal dol geword het. Ondenkbare dinge gebeur daagliks met ons. Vinniger en vinniger.  Daarom beskerm mense hulself deur fronte voor te hou, deur maskers te dra wat moet beskerm teen seerkry, wat swakhede en vrese moet wegsteek.  Andere moet net nie weet wat ons werklik voel en dink nie.

    Koos du Plessis sê in sy gedig Repetisie: “Kom wyse, duiwel, leuenaar! / kom dromer, vrome, sot! / Dis lig!  Besluit dan tog onder mekaar / wie dra vanoggend my gesig.”

    Jy vermoed dat ‘n sekere persoon onder erge spanning gebuk gaan. Of ‘n huweliksprobleem het. Moeg is tot die dood toe. Hy bekommer hom oor sy verlore werk, afleggings, sy finansies. Dit is  verskriklik om te hoor dat Gauteng se regering hulself regmaak om 1,5 miljoen grafte te grawe vir Covid-19 sterftes. Sulke nuusberigte ontstel vele mense, veral bejaarde mense in hierdie eensame tyd van inperking.  As jy hulle egter vra hoe dit gaan, antwoord hulle: “Dit gaan goed, dankie.”  

    LEES OOK: Depression… the 1 deadly monster that creeps in

    Agter hierdie masker lê die vrees om beskou te word as ‘n swakkeling of iemand kleingelowig en bang is. Wat baie mense nie sê nie, maar duidelik bedoel, is: ek probeer my bes. Soos Johannes Kerkorrel sing: “Ons survive met ‘n helse lot pyn in hierdie land.”  Ek oorleef naelskraap.

    Ons survive met ‘n helse lot pyn in hierdie land

    In die werksituasie ervaar jy dit soms dat mense verskillende fronte het. Die geduldige eggenoot, die liefdevolle pa, word ‘n streng, rigiede kantoorhoof. Sy wat ‘n sagte, huislike moeder is, word by die kantoor ‘n geen-nonsens bestuurder. Die pa wat ure lank sal luister na ‘n driejarige kind se klagtes en stories, is op die man af en saaklik met die mense wat saam met hom werk. Mense is bang dat hulle nie sal oorleef nie.  Dat hulle “weekdele ontbloot sal word” soos Wilma Stockenström skryf.  Daarom dra hulle veilige maskers.   

    Maar in die hartjie van die nag is hulle vreemdelinge vir mekaar. Hulle ken die uiterlike van die persoon langs hulle, maar lewensmaat se innerlike is dalk totaal onbekend

    Sê jy vir jou huweliksmaat dat jy bang is, of dat jy soms wonder oor die dood, of dat jou liggaam begin oud word en jy nie meer kan doen wat jy graag wil nie, of dat die lewe soms te veel raak vir jou? Of het jy dalk al so gewoond geraak aan maskers dra dat jy dit nie eers afgehaal kry voor die persoon wat die naaste aan jou behoort te wees nie?

    Dalk is jou maskers lank, lank gelede reeds gevorm. Dalk het jy grootgeword in ‘n huis waar jy altyd gedruk is om die beste te wees, en dit het jou gedwing om rusteloos jouself te bewys in elke opsig. Dalk het jy iewers langs die pad seergekry toe jy verneder is, of die gevoel gekry dat jy net nie op dieselfde standaard as ander mense is nie. Dalk het jy geleer om nie mense te vertrou nie, omdat jy al te veel vertrap is deur andere. Dan steek jy alles weg onder ‘n masker van sinisme of meerderwaardigheid of jovialiteit. Dalk is jy altyd die grapmaker in die geselskap, maar onder dit is namelose onsekerheid en pyn weggesteek.  

    Volgens die BBC se Science Focus is die kanse dat jy geneties presies gedupliseer kan word, een in 70 triljoen. Dit alleen maak jou so uniek, dat jy nie maskers hoef te dra nie. Wees wie jy is, soos jou Skepper jou gemaak het. In diè tyd moet ons mekaar beskerm teen die lewe se verniel. Praat, dink en doen met oortuiging.  Moenie alles glo wat jy hoor en lees in die media nie.  Weet dat mens kan en mag huil, soms.  Jy hoef nie maskers te dra nie. Dikwels lieg die donker baie.  Terwyl die Lig altyd skyn. Jy hoef nie al die antwoorde te ken nie. Agter die horison.  Kyk net daar.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: Moed Opgee