fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Saturday, September 19, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: Boerneef

    Skielik staan hy daar, langs jou motor by die robot. Lank, forsgebou, met die spore van ontbeer duidelik ingeëts op sy gesig. “Meneer, askies meneer,” klop hy teen jou motorruit. “Ek kry swaar. Het meneer nie so paar sent in meneer se beursie nie.”

    So is die lewe: Boerneef deur Marius Britz

    Hierdie is ‘n inperkingstorie, ‘n reis van onthou om te ontvlug uit die onsigbare kettings om ons. Nie noodwendig ‘n aangename storie nie:

    Op pad van Langebaan af om by my seun in De Doorns te gaan kuier, dink ek aan Boerneef se gedig: “Niks hang so rooi soos wingerdblaar by Hexrivier / niks staan so geel soos herfspamplier / by Dwarsrivier op Ceres / slaan rem aan, hou jul asem in, en kyk en kyk / lank en eerbiedig, soos ‘n mens na so ’n herfs moet kyk / laat dit inbrand in jou vir latertyd / die warm geel en rooi / vir latenstyd.

    Boerneef
    Boerneef

    Ry jy by Hopefield verby, sien jy eerstens die windkragopwekkers wat yslik hoog langs die pad staan. 47 van hulle herinner jou aan Don Quichot de la Mancha wat reuse gesien het wat hy met sy knol van ‘n perd, Rosinante, ‘n geroeste swaard en ‘n lans wou gaan baklei het. Dit was uiteindelik net windmeulens. Maar anderkant dit, ver anderkant, is die berge van die Boland sigbaar. Soos blou skimme op die horizon.

    Aan die linkerkant die Sederberge, die Matroosberge, Kasteelberg, en op ‘n afstand, Papegaaiberg en Simonsberg in Stellenbosch. As jy afdraai by Moorreesburg verby, ry jy die wingerdwêreld in. Teenaan die pad deur Riebeeck-Wes lê die bekende plaas, Allesverloren. Geboorteplek van twee Suid Afrikaanse eerste ministers, Jan Smuts en D.F. Malan. Die plek van die beste portwyn. Wingerde so ver as wat jy kyk, teen die hange van die berge in.

    Die skilderagtige Riebeeck-Kasteel is vol kunstenaarsateljees, eetplekke en historiese huise. Uiteindelik ry jy verby plekke waarheen mense uit die noorde jaarliks baie geld betaal om te kom vakansie hou: Tulbach, Gouda, Rawsonville. Uiteindelik kom jy op die N1 by Worcester in, net so katspoegie van De Doorns af, deur een van die mooiste paaie in ons land wat na die Hexriviervallei gaan.

    Skielik staan hy daar, langs jou motor by die robot. Lank, forsgebou, met die spore van ontbeer duidelik ingeëts op sy gesig. “Meneer, askies meneer,” klop hy teen jou motorruit. “Ek kry swaar. Het meneer nie so paar sent in meneer se beursie nie.” Jy kyk na die lang hare, die vuil klere, en die ruie baard. Iets lui ‘n klokkie. Iewers het jy al die gesig gesien. Jy sien dat sy oë vernou as hy na jou kyk. Sonder om ‘n woord verder te praat, draai hy vinnig om en verdwyn eensklaps uit jou gesigsveld. Asof hy nooit daar was nie. As die robot groen slaan, draal daardie gesig soos ‘n deuntjie in jou kop. Daardie oë. Dit is mos bekend? Of nie?

    LEES OOK: So is die Lewe: Kerkgaan en Covid

    Peinsend ry jy verder, en delf diep in jou kop se toegesluite laaie. Soos mis wat oor die see land-in waai later begin saampak as wolke, raak die beeld mettertyd duidelik. Prysuitdeling by die laerskool by een van die haltes van jou lewe. Dinamiese, gewilde skoolhoof wat gemaklik met mense omgaan. Goeie spreker, ekstrovert, man wat besonders mooi kon kitaar speel, en dikwels in die erediens opgetree het as sangleier. Hy kon die moeilike ouers en mense in die gemeenskap met geduld en takt hanteer, en was as storieverteller gewild by braaivleise en funksies. Iewers het hy bevordering gekry na ‘n ander plek toe, en daar het sy spore min of meer doodgeloop.

    Jy is nou doodseker. Dit is hỳ. Nie net die oë nie, maar ook daardie onmiskenbare Bolandse bry. Sy onverklaarbare verdwyning as julle mekaar se oë herken, die manier van loop, alles. Dit is hy. Google maak dit moontlik om die toegewaaide spore weer te gaan oopkrap. Die lewe wat jy oopkrap, is nie ‘n aangename storie nie. Dit is die storie van soveel mense, gegradueerde en suksesvolle mense.

    Jy onthou die woorde van jou dosent in Wysbegeerte wat jou diep geraak het, een herfsdag veertig jaar gelede toe hy gepraat het oor Man’s search for meaning van Victor Frankl. Hy het sy lesing onderbreek, deur die venster gestaar na die vaal winterlandskap op die Tukkiekampus, en, half asof hy met homself praat, vertel van ‘n man wat saam met hom in die koshuis was.

    Ook ‘n skoolhoof geword, en toe een oggend net in sy kantoor ingestap, alles bekyk, toe omgedraai en daar en dan ‘n lewe afgeskryf het, op soek nie wie-weet-wat. Snaaks genoeg onthou ek dat die professor vertel het dat hy en die man mekaar eenkeer iewers gesien het, en altwee dadelik weggekyk het. Hulle bes probeer het om te ontken dat hulle mekaar ken.

    Terwyl ek hierdie sit en skryf, wonder ek waarom ek dit doen. Is dit omdat ons nou gebombardeer word met negatiewe en fopnuus? Is dit omdat ons die afgelope sestig dae elkeen gedwing is om die muwwe laaie van ons harte en koppe se kamers uit te pak? Is dit dalk omdat ons dieselfde emosies ervaar as Victor Frankl toe hy in die tweede wêreldoorlog in ‘n konsentrasiekamp beland het, hulle al sy klere uitgetrek het en ook sy ongepubliseerde doktorale tesis, wat hy desperaat probeer wegsteek het, afgevat en verbrand het?

    Selfs sy gesin verloor het? Mens sou seker lank daaroor kon filosofeer. Oor die verlede, oor die toekoms. Frankl het die ware sekerhede van die lewe ontdek toe hy alles wat sin vir hom gemaak het, verloor het. As jy niks oorhet nie, het jy nog die krag van jou denke, jou gees, om jou te lei soos ‘n vuurtoring ‘n skip op stormsee lei.

    Ek dink aan my ervaring by die robot in Worcester. Kris Kristofferson se lied The pilgrim vat dit mooi saam: “See him wasted on the sidewalk in his jacket and his jeans / wearin’ yesterday’s misfortunes like a smile / once he had a future full of money, love, and dreams, / which he spent like they was goin’ outta style / and he keeps right on a’changin’ for the better or the worse, / searchin’ for a shrine he’s never found / never knowin’ if believin’ is a blessin’ or a curse, / or if the goin’ up was worth the comin’ down.

    Boerneef kom weer terug: “laat dit inbrand in jou vir latertyd / die warm geel en rooi / vir latenstyd.” Jy het een lewe. Leef dit. Laat die goeie van gister die kole wees vir vandag se koue. Jou eie kole teen koue as alle sekerhede verdof.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: Boerneef