fbpx

Donate and HELP us spread the News

We need your HELP!, Donate R50 to assist The Bulletin in reporting on your Community News. Click on the donate button on the right. →

Monday, September 28, 2020
Pay
16.1 C
Secunda
More

    So is die Lewe: Kerkgaan en Covid

    Ouer mense praat baie van die “goeie ou dae”.  Dan brei hulle breedvoerig uit oor hoe goedkoop alles was, hoe goedgemanierd die kinders was en hoe gedissplineerd skole was.  Die arme kinders wat al hierdie stories moet aanhoor, ken dit al uit die kop.  

    Hierdie hunkering na die verlede ‘n ingebore ding by ‘n mens.  Nie noodwendig na die omstandighede van die verlede nie, maar hoe jy gevoel het toe jy eens op ‘n tyd op ‘n sekere plek gebly het.  Veral in uiters onsekere en turbulente tye soos ons dit tans ervaar.   Die kerk soos ons dit ken, het in hierdie tyd heel verander.  Ten minste tydelik. 

    Vanoggend, toe ek die rekenaar en mikrofoon afskakel ná my radio-pinksterdiens, wonder ek: hoeveel mense het ooit geluister? Vir ‘n wyle vlieg onthoubeelde deur my kop. Die kerkgeboue in Trichardt en Olifantsfontein, Plooysburg en die Lugmagbasis Langebaanweg. 

    Baie is nog presies dieselfde: die preekstoel in Langebaanweg het na 30 jaar steeds die plaatjie op wat ek daar laat aanbring het sodat ek as predikant moet fokus behou oor die groot roeping, met die woorde van Joh 12:21: Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet. Die manjifieke orrel met sy groot orrelkas en koperpype.  Die preekstoel met sy warm houtagtergrond.    

    Skielik draai Kris Kristofferson soos ‘n refrein deur my kop: And I’ll give all my tomorrows for a single yesterday. Want in opsluittyd raak al die vergete goed so bekend: die dorpe, die huise, die strate. Toe verstaan ek meteens die frase: “goeie ou dae”.   Met bittersoet onthou, soos Koos Doep sing: “Gesigte, drome, name, is deur die wind verwaai.”  

    Die stories van doerie jare breek stuk-stuk los uit jou vermufte geheue.  Soos die twee stout boeties wat in die gemeente was.  Vrek stout, al was hulle ouers diep gelowige en meelewende mense. Ek onthou: een Sondag was daar ‘n kinderpreek.  Die tema was: ons moet gedrewe Christene wees. Die hulpmiddele is fyn bedink: party Christene lyk net soos Christene, hulle is eintlik net daar vir die mooigeit. 

    En ter demonstrasie ‘n porseleinkarretjie.  Ander weer moet heeltyd getrek of gestoot word om te beweeg.  Dit word gedemonstreer met ‘n outydse speelgoedlorrie aan ‘n tou vas.  Dan is daar die opwen-christene, hulle spring weg met ‘n spoed, maar gaan staan later heeltemal, en moet weer opgewen word. Die troefkaart in die preek: uit-die-hemel beheerde Christene.  Ek leen ‘n afstandbeheerde speelgoedrenmotor by die twee stout boeties om die punt te illustreer.

    Ek kry dit net voor die diens, en het nie tyd om te oefen met die ding nie. Die seuntjies in die kinderdiens is in vervoering as die renmotor met ‘n spoed wegtrek voor op die nagmaaltafel. Of hulle hoegenaamd die boodskap gehoor of onthou het, weet ek tot vandag toe nie.  Want juis daardie oomblik loop die preek skeef: ek is onkundig oor die motor se remafstand, en ek jaag hom met ‘n bekwame spoed van die nagmaaltafel af sodat die kar op die vloer neerhop en onder die diakensbank in verdwyn.  Met die twee boeties wat soos een man opspring en kliphard skreeu: Ons @#%#@ kar.

    Ek verlang na die kerk. Ek verlang na die eredienste, die diakens wat voor by die deur almal welkom heet (in Plooysburg het die manlike diakens al die vrouens gesoengroet, soos wat ons gebruik maar was), ek verlang na die gewyde stilte, die orrelvoorspel, die Kerkraad wat instap as die diens begin, die gemeente wat mekaar groet, die saamwees, die koinonia, die gemeente wat uit hulle harte saamsing. Stigtelik, gewyd.Die saam tee drink na die tyd. Die belydenisklas waar diep gesprekke gevoer is, en baie vrae oor God gevra is.

    Ek smag daarna om al die ongepreekte preke wat nog in my kop draai, op papier neer te skryf, en met die gemeente te deel, terwyl ons saam soek na die woorde van God.

    Ek smag na die atmosfeer van nagmaal, die beker en die brood wat omgestuur word, die gewydheid. Ek verlang na die slotgebed, die uitspreek van die sëen. Ek smag na wykbyeenkomstes, huisbesoeke, Bybelstudies, die mannebiduur Maandagoggende om 06:30 in Trichardt. Die basaars, gemeente-etes, die jeugbyeenkomstes.  Die heerlike byeenkomstes en toere van die senior burgers.

    Predikante en kerke van alle denominasies moes drastiese aanpassings maak, om sodoende iets te behou van ‘n 2000 jare oue tradisie van gemeentes wat bymekaar kom. Dis maklik om negatiewe opmerkings te maak hieroor. Dis maklik om te sê kerke kan maar hulle sleutels weggooi. Die behoefte na ‘n outydse erediens bly brand in baie harte. Afhanklike, dankbare mededoë as gemeente voor God. Statig, waardig.

    Prof Fanie Snyman van die Teologiese Fakulteit van UV skryf: “Ek salueer die dominees vir die manier waarop hulle blitsvinnig moes reageer op ‘n totaal nuwe situasie wat betref eredienste en die bediening van die Woord. Talle eredienste/preke is beskikbaar op sosiale media. Ek kyk en luister na klasmaats, talle predikantevriende en oud-studente. 

    Terwyl ek kyk en luister het ek weer bewus geword van hoe verskriklik blootstellend ‘n preek (en eintlik ook die hantering van die liturgie) vir ‘n dominee is: Jou teologie, spritualiteit, Skrifbeskouing, graad van voorbereiding (helaas!), hermeneutiek, persoonlikheid kom alles in die spel. Tog waag dominees dit… Hoed af en my waardering vir dominees wat in hierdie vreemdste van vreemde tye ‘n woord uit die Woord wil laat hoor.”

    Mag ek byvoeg: ook die lidmate. Amen.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here

    So is die Lewe: Kerkgaan en Covid