Monday, October 7, 2024

Laerskool Kruinpark se Landsdiens Groentetuin Projek

Bookmark
Bookmarked

Groentetuin Logo

Laerskool Kruinpark se Landsdiens het 3 jaar terug besluit op ‘n groentetuin as ‘n projek. 

Die doel van hierdie groentetuin is om die senior Landsdiens lede die geleentheid te gee om in die tuin te werk wat een van die liefdes van Landsdiens is, naamlik Liefde vir Arbeid.  So saam met die arbeid leer Landsdieners ook dan meer van plant, groente en hoe om na ‘n groentetuin om te sien.  Die oeste word dan onder meer deur Laerskool Kruinpark se Landsdiens aan instansies so Davies Hof, House of Mercy en Janelle Huis geskenk.

landsdiens
Laerskool Kruinpark se Landsdiens Groenteprojek het in 2020 groot oeste gelewer wat aan verskeie instansies geskenk is.

Die groentetuin beeld liefde vir die medemens uit. Dit is ‘n hartsprojek om week na week na die groentetuin om te sien, om te sien hoe die groente groei en die groente te versorg.  Meneer Corrie Smit, het die afgelope Oktober vakansie saam met ‘n paar van die Landsdiens lede in die tuin gewerk, en die groente wat so paar weke terug geplant is kom al mooi op. 

Corrie het ook ‘n besproeiingsstelsel geïnstalleer.  Dit help baie om gereeld vir die groente water te gee. Sodra die volgende oes reg is sal dit weer aan die bogenoemde instansies geskenk word. Binne die volgende paar weke sal die eerste groente reeds gereed wees om geoes te word.

Kruinpark se besproeiingsisteem.
Meneer Corrie Smit het ‘n besproeiingstelsel gedurende die Oktober vakansie installeer.

“Dit is so lekker om te sien hoe trots die kinders is as hulle sien dat daar vrug op hulle arbeid was,” het Juffrou Jolinda van der Merwe, Hoof van Laerskool Kruinpark se Landsdiens gesê, “Deur deel te neem aan projekte soos dié, ontwikkel kinders ook ‘n sin vir verantwoordelikheid en trots op hulself, wat uiteindelik ook selfbeeld bou.”

Die Landsdiens Groentetuin is een van die projekte waarop Laerskool Kruinpark baie trots is. Die hoop is dat hierdie projek in tyd sal momentum kry en dat dit ‘n langdurige volhoubare projek sal wees waarby Landsdieners vir jare lank nog by betrokke sal kan wees.

Laerskool Kruinpark se Groentetuin vorder.
Laerskool Kruinpark se Groentetuin het al mooi gevorder.

Daar is nog baie ruimte vir groei en die Landsdiens verwelkom enige hulp en raad om hulle in hierdie projek te ondersteun!  Natuurlik het hulle ‘n hele paar planne vir die toekoms, soos ‘n kweekhuis en ‘n tonnel/skadunet, as enige persoon by dit wil betrokke raak, is hulle welkom om die skool te kontak by bemarking@kruinpark.co.za, hulp is altyd welkom.

Die kweekhuis sal dit makliker maak vir die Landsdieners om saadjies in ‘n veilige plek te kweek voor hulle dit oorplant en ook gereedskap mooi te kan bêre.

‘n Tonnel of skadunet vir die groentetuin gaan die groente beskerm teen die somerhitte, dit verlaag ook die temperatuur waarin die groente moet groei. Sou dit hael, beskerm dit ook die groente teen skade. Die grootste voordeel van ‘n skadunet is dat terwyl dit beskerming bied, dit steeds genoeg sonlig deurlaat en ook reënval water deurlaat. Dit bied ook ‘n effense skut teen voëls wat baie van die groente hou!

As daar groentetuin liefhebbers is wat wil saadjies of saailinge skenk aan die Landsdieners, wat hulle weet maklik in Secunda sal groei, is julle ook welkom om met die skool kontak te maak en sodoende die projek sal help om te groei

Lees ook meer oor Laerskool Kruinpark se Redenaars prestasies HIER.

“Almal by die Laerskool Kruinpark geniet dit terdeë om te sien hoe die groente groei en week na week ontwikkel,” het Me. Anita de Beer, Laerskool Kruinpark se Bemarker aan die Bulletin gesê.

Om meer van Laerskool Kruinpark se nuus, gebeurtenisse en spognuus te weet of te sien wat die skool alles bied, volg hulle op FB by Laerskool Kruinpark Amptelik.