AfriForum het ’n betaling van meer as R280 000 van die nasionale kommissaris van die departement van Korrektiewe Dienste (DKD) ontvang, vir regskoste wat in 2021 deur die Pretoriase Hooggeregshof aan AfriForum toegeken is in ’n saak oor die onregmatige toekenning van mediese parool aan oudpres. Jacob Zuma. Zuma en die DKD was gesamentlik en afsonderlik verantwoordelik vir die koste, maar die nasionale kommissaris het in die einde die volle bedrag betaal sonder dat Zuma ’n sent bygedra het. AfriForum voer aan dat nes Zuma tronkstraf vermy het, hy ook in hierdie geval verantwoording ontduik het.

AfriForum het ook ’n betaling van bykans R35 000 van die DKD ontvang vir koste toegeken vir dieselfde saak wat voor die Konstitusionele Hof gedien het. Zuma en die nasionale kommissaris van die DKD is egter nog ’n verdere bedrag van ongeveer R170 000 aan AfriForum verskuldig vir regskoste in die Hoogste Hof van Appèl.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is dit goed dat hofuitsprake, soos die betaling van regskoste, nagekom word, maar bly dit teleurstellend dat Zuma weereens nie die las van sy skuld moes dra nie. “Zuma is deur die Hooggeregshof, Appèlhof én Konstitusionele Hof skuldig bevind, maar hy het geen noemenswaardige tyd agter tralies deurgebring nie, nie ’n sent se regskoste betaal nie en is steeds die leier van die derde grootste politieke party in die land.”
Boshoff beklemtoon dat AfriForum sal aanhou druk plaas om Zuma aanspreeklik te hou vir uitstaande regskoste in elke saak waarby die organisasie betrokke is.

Agtergrond:
AfriForum en ander applikante het in 2021 ’n aansoek in die Pretoriase Hooggeregshof ingedien en aangevoer dat die mediese parool wat in September 2021 aan Zuma toegestaan is, onwettig was. AfriForum het dié saak met koste gewen. Zuma het egter teen die bevinding geappelleer, maar sy appèlsaak het in die in die Hoogste Hof van Appèl vasgeval waarna hy hom tot die Konstitusionele Hof gewend het. Uitspraak in dié saak is in Julie 2023 gelewer nadat Zuma se aansoek om verlof tot appèl téén die Appèlhofuitspraak van die hand gewys is. Teen Augustus daardie jaar het Zuma finaal tronkstraf vrygespring toe presidensiële kwytskelding aan hom toegestaan is.