Sunday, January 19, 2025

Solidariteit Helpende hand Hoopdraer

Bookmark
Bookmarked

Solidariteit het onlangs die Hoopdraer toekenning aan Tarina Hatting oorhandig.

Links Maatskaplike werkster van Helpende Hand Louise Zitzke. Regs is Tarina Hatting ontvanger van die Helpende Hand Hoopdraer toekenning.

Die Hoopdraer toekenning word toegeken aan ‘n Maatskaplike Werker wat ‘n onblusbare passie vir sy of haar werk het en ondanks moeilike omstandighede steeds die fakkel van hoop in hulle gemeenskap aangee.

Die toekenning was aan Tarina oorhandig deur Louise Zitzke Helpende Hand Maatskaplike werkster, Liza de Coning Voorsitter Helpende Hand – Secunda en Henda van Deventer van Solidariteit Vakbond.

Van links: Liza de Coning Voorsitter Helpende Hand. Louise Zitzke Helpende Hand Maatskaplike werkster. Tarina Hatting en heel regs is Henda van Deventer van Solidariteit Vakbond.

Hier is die dankie boodskap wat Tarina gestuur het

Baie dankie vir die groot voorreg om die Hoopdraer toekenning te ontvang. Dit was ‘n onverwagse verrassing en groot eer.

Ek dink nie enige maatsaplike werker is in die beroep om enigsins erkenning daarvoor te ontvang nie. Ons doen maatskaplike werk omdat ons ‘n hart vir mense het en glo in die potensiaal van mense om te groei, te  ontwikkel en vir die beter te kan verander. Om ‘n verskil in iemand se lewe te maak, is vir my meer as genoeg erkenning en toewyding om voort te gaan met elke dag se pogings om mense se lewenskwaliteit en emosionele funksionering te verhoog. 

Om ‘n maatskaplike werker te wees,  is soveel meer as net ‘n beroep – dit is die voortdurende behoefte om ‘n verskil te maak asook om mense en gemeenskappe op te lig. Dit is verseker nie elke dag maklik of lekker nie, maar met die beroep se uitdagings en al, glo ek dat God ons elke dag oor iemand se pad stuur, en ons gebruik om lewens op een of ander manier aan te raak en beter te maak.

Ek is al 20 jaar lank ‘n maatskaplike werker, waarvan ek vir 11jaar spesialiseer in forensiese maatskaplike werk.

Tarina Hatting is voorwaar ‘n voorbeeld vir ons almal.

HOOPDRAERS

Hilde Kruger, 2024

Wanneer die ligte af gaan, maar niemand dit sien nie.

En die stilte begin skree, maar niemand dit hoor nie.

Harte met gate in …

Bejaardes wat lanklaas kon sing …

Onsekerhede met vrae wat oorloop …

Leë oë vol wanhoop en vals hoop.

Donker wolke sonder silwer rande …

Hoe sal ons leef in ’n wêreld sonder ’n helpende hand?

Daar is mense met overalls aan …

Neem hul hande, dis tyd om op te staan.

Die laaste opsie, wat jou eerste kon wees.

’n Stem vir die kinders wat vergeet het hoe om kind te wees …

Tel mekaar op en laat mense in,

Sorg dat die verskil by jou begin.

Kyk na jou buurman en die een wat agter jou loop …

Met gemeenskapsontwikkeling skep ons weer hoop.

Staan vas …

Staan sterk …

God is besig om deur ons te werk.

Ons is kampvegters en fakkeldraers,

Die Hoopdraers van hoop.

Die maatskaplike werkers wat saam met jou die pad sal loop.