Thursday, November 14, 2024

So is die Lewe: Die lewe is ‘n rit. Geniet die reis!

Bookmark
Bookmarked

Jy lees dikwels op sosiale media mymeringe, nadenke, ook spotterny en gekhede oor die lewe.  Dis nogal ‘n fenomeen eie aan ons menslikheid.  Ons wonder dikwels, onder goeie of slegte omstandighede, oor wat dit beteken om te lewe, juis dit waarmee ek en jy elke dag en nag voltyds besig is.

Baie liedere, gedigte handel daaroor, en ook filosowe en sielkundiges het al beroemd geword vir hulle slagspreuke oor die lewe.  So sing die Moody Blues:  Isn’t life strange? / A turn of the page / Can’t read like before / Can we ask for more? / Each day passes by / how hard man will try?/ The sea will not wait / you know it makes me want to cry, cry, cry… / Wish I could be in your heart / to be one with your love / wish I could be in your eyes. / Looking back, there you were and here we are.

Die gedagtes oor die goeie wat jy het, en ook die versugting oor die slegte wat jy dalk beleef, of ervaar het, bepaal dikwels jou kwaliteit van leef. 

So het baie mense oor die geskiedenis heen al gedink en geredeneer oor die lewe: 

  • Dostoevsky: It’s hell.
  • Moses: Here, as U my liefhet, maak my eerder dood.
  • Socrates: Dis ‘n beproewing.
  • Aristoteles: Dis jou denke.
  • Nietzsche: Dis mag.
  • Freud: Dis die dood.
  • Marx: Dis die idee.
  • Picasso: Dis kuns.
  • Gandhi: Dis liefde.
  • Schopenhauer: Dis lyding.
  • Bertrand Russell: Dis wedywering.
  • Einstein: Dis kennis.
  • Kafka: It’s just the beginning.

Maar uiteindelik is jou lewenservaring bloot hoe jy daarna kyk. Dit bepaal, soos almal wat aangehaal is hierbo, se visies en beskrywings.  As jy aanmekaar vir jouself vertel hoe sieklik jy is, dan word jy naderhand sieklik.   As ’n ouer of ander volwassene aanmekaar vir ‘n kind vertel hoe dom hy of sy is, dan glo daardie kind dit naderhand, en verloor sy unieke menswees. As jy voortdurend hoor dat alles wat skeefloop in jou huwelik of gesin of by jou werk eintlik jou skuld is, dan word die lewe naderhand een proses van mismoedigheid, mislukking, miderwaardigheid en oneindige skuldgevoelens vir jou.

Die lewe se grootsheid word nie bepaal deur jou eie persepsies daarvan nie, maar deur hoe jy daarop reageer. Jy is heeltemal toegerus om kragdadig te leef. Jy kan die heeltyd fokus op die omstandighede waarop jy jou werk verloor het, byvoorbeeld, maar dan sien jy nie al die ander deure wat vir jou kan oopgaan raak nie. Daar is soveel deure wat ek en jy nie raaksien nie, wat ons ervaring van lewe heeltemal kan omdraai en verander na positief en uitbundig.

Om die waarheid te sê, ons kan self die instrument word om ‘n slegte lewe te laat verander.  Deur eenvoudige dinge te doen en te sê. Soos: “ek besef jy het ‘n lang en spanningsvolle dag gehad, kom sit hier dan maak ek vir jou ‘n koppie koffie, of gooi vir ons ‘n glasie wyn.  Dan vertel jy my alles daarvan.”  En leer om te luister, nie te verwyt of te reflekteer of te sê, dis nog niks, jy moet hoor wat het met my gebeur nie. 

Ek lees ‘n sinvolle aanhaling: “You like taking care of people because it heals the part of you that need someone to take care of you.”  Word wat jy wil hê iemand moet vir jou wees.  Iemand wat sê: “Dankie vir alles wat jy vir ons doen.” Of wat sê: “ek is lief vir jou.” Dit laat my dink aan die huweliksberader wat na ‘n lang gesprek met ‘n egpaar besef het die vrou voel geweldig afgeskeep en ongeliefd. Hy het toe opgestaan, vir die vrou ‘n drukkie gegee het, en vir die man gesê: “Dis al wat nodig is vir haar! Hoe dikwels kan jy dit doen?”  Toe antwoord die man: “Ek kan haar Maandae en Vrydae bring, maar Dinsdae tot Donderdae speel ek gholf.”

Johannes Kerkorrel sing in sy lied Ballade vir ‘n mynwerker: “O, jy eindig op met ‘n vuur in die hart, die onrustigheid diep binnekant. Jy leef en jy leer om alles te gee vir die kans om net een keer te leef.

Lèwe jou lewe, mater. Jy kan dit voluit doen. Al is dit strompelend en hygend. Soos ‘n gerespekteerde Griekwavrou in die karoo vir my gesê het:  “Mens leef maar die lewe soos hy kom.”