Nog ‘n “So is die lewe” rubriek vanuit die pen van Ds Marius Britz. Titel is “Topswaar”
Daar is vreeslik baie sepieaanhangers. 7de laan, Binnelanders, Getroud met Rugby. Wanneer mens na die programme kyk, (wat ek selde doen), is daar gewoonlik ‘n miernes van bedrywigheid: tonele in huise, kantore, restaurante, selfs hospitale. En oral is daar beweging, gelag en gesels. Ook soms ‘n gehuil.
Intriges van menslike lewe speel hom aand na aand in talle voorhuise op televisieskerms af. En baie mense leef hulle in hierdie verhaal in: Die omgewing waarin dit afspeel, is so bekend. Agter teen die mure van die restaurante is daar prente en spyskaarte met “specials”. Alles so eg, so werklik. Baie kykers ken die karakters so goed soos eie familie, bespreek hulle asof hulle werklik bestaan.
LEES OOK: So is die Lewe: You’ve got problems
Maar wanneer mens die filmstel in die ateljees besoek, is jy teleurgesteld. Die akteurs is dan gewoonlik nie daar nie. Daar is doodse stilte en gedempte ligte. En al hierdie vertrekke is net kartonpanele. ‘n Dèkorstel wat net een dimensie het. Dit bestaan nie werklik nie.
Agter die panele is daar niks. Dit is vooraansigpanele wat met stutte regop gehou word. So kan mens die mooiste panele op die verhoog staan maak. Maar wanneer jy by so ‘n skyngebou instap, ontdek jy dis nóg steen, nóg beton, maar bloot net geverfde karton.
Maar wanneer jy by so ‘n skyngebou instap, ontdek jy dis nóg steen, nóg beton, maar bloot net geverfde karton.
So is baie mense se lewens ook. Hulle lewe so maklik twee lewens. ‘n Private lewe waarvan slegs jy en die Here in jou diepste wese bewus is, en jou openbare lewe, jou masker wat jy aan die wêreld wys. Jou gesig wat sê: ek is reg. Ek is in beheer. Maar binnekant kan daar maklik ‘n warboel van emosies en begeertes en gedagtes wees wat totaal weersprekend is van die uiterlike beeld.
As dit so is, dan lewe mens gevaarlik. Dan hou jy die dekorstel van jou lewe met stutte orent. In Tekbasis in Voortrekkerhoogte het die weermag ‘n winkel met die naam van SAWI gehad. Een oggend was daar groot konsternasie: SAWI se een gedeelte het weggesak in ‘n sinkgat. Die kantoor en winkel met die brandkluis en al het verdwyn in ‘n diep gat.
Geoloë het toe ‘n ondersoek gedoen en dit so verklaar: In tye van droogte, wanneer die watertafel laag is, kalwe ondergrondse strome die grond weg, die dolomietlae veroorsaak groot ondergrondse leegtes en dan sink die grond weg. Dit gebeur maklik wanneer daar ‘n groot gebou op die sinkgat gebou is. Die gebrek aan substansie onder die groteske uiterlike veroorsaak dat die hele spulletjie op een of ander stadium inmekaarsak.
Dieselfde ding het so week gelede in Carletonville gebeur.
Net so kan baie mense se lewens word: dit raak topswaar. Na buite vertoon dit indrukwekkend, maar eintlik voel hulle binnekant asof hulle in ‘n bodemlose put gaan wegsak. En die rede is dikwels voor die hand liggend. Mense bou so hard aan die uiterlike, aan hulle beeld en hulle posisie en dit wat ander sien van hulle, kortweg, om te presteer, te vorder, uit te styg, dat die innerlike onder die oppervlakte leegloop.
Dit wat mense sien is misleidend, adresse en motorkarre en besittings, dít is indrukwekkend, maar daar is geen stut wat die topswaar lewe bo kan hanteer nie.
Die teoloog Tournier beweer dat ‘n moderne mens sy privaat lewe en openbare lewe so goed skei, dat dit gelei het tot die opvatting dat jou persoonlike lewe niemand aangaan nie.
Ons sien dit dikwels aan die hoë mure rondom huise, die interkomstelsels ens. (Al het baie hiervan te doen met die veiligheidsituasie in ons dorpe en stede.) Jou private lewe mag ook nie deurslag vind in jou professionele lewe nie. So gebeur dit dan dat ‘n mens wat ‘n onsedelike lewe lei, wette opstel vir gesinsbeskerming.
‘n Ander wat nie sy eie uitgawes kan beheer nie en oral in die moeilikheid is vanweë swak betaling, is in beheer van aspekte van ‘n groot maatskappy of die staat se begroting. ‘n Persoon wie se eie huwelik en gesin aan flarde is, doen dalk berading met ander mense oor hulle huwelike en gesinne. ‘n Staatsleier wat dissipline oor ‘n regering en weermag en land moet uitoefen, maak opslae oor sy verhoudings met jong meisies en nepotisme en korrupsie.
So leef ons soms onbewustelik as sinkgatmense. Alle dèkorpanele ten spyte. So word dit ‘n uitdaging om die lewe, die brose lewe, reg te leef. Met ware inhoud en sin. Nie ‘n kompromis waarin ek myself voortdurend moet bewýs nie, maar ‘n lewe wat voluit geleef word. ‘n Lewe van vrede met jouself, met God, met jou omstandighede. Dan hoef jy nie fronte en skanse om jouself te bou nie. Dan sal jy liefhê en liefgehê word.
‘n Sagte hand teen jou wang beteken meer as ‘n afslaandakmotor waarin jy alleen rondjaag. Sagwees kweek deernis. Deernislose lewens is skavotte van pyn vir jou huweliksmaat, jou gesin, jou kollegas. Sagte woorde is meer werd as ‘n goeie adres. Dit laat vir jou ‘n baie groter nalatenskap.
Waar jy bly, gaan baie mense nie eens interesseer of raak nie. Maar hoe jy hulle laat voel, dít is die impak wat jy op hulle het. Jou woorde is meer werd as jou titel of posvlak of beleggingsportefeuljes. Woorde wat vergifnis spreek. Woorde wat seer besweer. Woorde wat wêrelde van heelmaak skep. Woorde wat andere laat voel: èk is ook iemand. Woorde wat jou menslikheid bevestig. Wat sê: jy is goed genoeg. Jy verryk my ervaring van menswees.
En dan, slegs dan, is jou lewe nie dekorpanele nie. En ook nie gebou op sinkgate nie.