Wednesday, February 26, 2025

So is die Lewe: TELEURGESTELDE VERWAGTINGS

Bookmark
Bookmarked

Lees gerus die volgende aflewering vanuit die pen van Marius Britz

Daar is ‘n Engelse frase genoemd flash fiction, oftewel kortkuns. Dit is ’n sin wat ironie bevat, wat nie kommersieel bedoel is nie, maar eerder ’n bepaalde emosie by jou opwerk. Een daarvan word toegedig aan die skrywer Ernest Hemingway, alhoewel ek nie dit onder sy werk kon opspoor nie. Dit lui só: “For sale: Baby shoes, never worn.”

Ses woorde wat ’n hele landskap in jou hart skud, wat jou gedagtes en bespiegelings op alle paaie laat hardloop, wat jou vat na ‘n lappieskombers van swaarkry, seerkry, ‘n wêreld van ontnugterde verwagtings. Toe ek hierdie woorde die eerste keer lees in ’n rubriek, het ek onmiddelik gedink aan soveel mense wat ek ontmoet het, wat uitgesien het na die geboorte van ’n kindjie, en toe loop dinge verskriklik skeef.  Een babakot en stootwaentjie in ’n nuut uitgeverfde babakamer, laaie vol nuwe babaklere, sagte speelgoed, donsige babakombersies wat eensklaps onnnodig, onbruikbaar word. Want die lank begeerde en alreeds geliefde kind sien nie die lig nie, om watter rede ookal. Soveel afwagting, en uiteindelik net ontnugtering. En ’n diep, diep, onoorvertelbare seer.

Dis nie net met mislukte swangerskappe wat verwagtings kan skeefloop nie.  Hierdie kortkuns se vlerke strek veel wyer as dit.  Hoeveel paartjies het nie al met drome en sterre in hulle oë voor ’n kansel gestaan, stralend van opgewondenheid en bruisend van optimisme, om na ‘n paar jaar betrokke te raak in ’n bitter, venynige egskeiding.  Waar daar selfs jare na die egskeiding nog steeds die een of ander vergeldingspoging is om mekaar by te kom, op grond van baie redes, soos die ontduiking van die egskeidingsbevel. Die bruid se oë met sterre in word uiteindelik blou opgeswel van vuishoue, en die mooi lyf in die pragtige trourok vol skopmerke. One expensive wedding dress for sale, used only once. Ironies genoeg,  baie keer nog net ’n jaar of twee oud.

Hoeveel ouers is daar nie wat wel met sorg, aandag en liefde hulle kinders kan grootmaak, drome droom oor die dag wanneer seun saam met pa gaan boer, of sussie graad gaan kry en ’n wonderlike loopbaan gaan hê iewers, net om uiteindelik te beleef dat daardie kinders oorsee gaan woon, en hulle hul kleinkinders nog nooit gesien het nie. Al Skype hulle gereeld, dikwels verstaan die kleinkinders nie eers Afrikaans nie, en “Oupa” word granddad en “Ouma” word granny, terwyl hartseer grootouers met Engels wat maar hortend gepraat word, probeer om in ’n kubergesprek ’n persoonlike verhouding met hulle kleinkinders op te bou.

Of die paartjie wat nie kan wag vir die dag wat hulle aftree na jare van harde werk, en droom oor toer en kampeer en uiteet, maar dan eensklaps agterkom dat een van hulle alleen agtergebly het. Of dat hulle pensioen nie naastenby genoeg is nie, en hulle maar moet voortgaan om te werk met wat daar ookal is wat inkomste inbring.  Want hulle skuldspiraal suig hulle net al dieper in die gat van moedeloosheid in. Al is die aftreewerkie se inkomste net ’n druppel in die emmer, dit moet liggaam en siel bymekaar hou. Hierdie lys kan met vele voorbeelde aangevul word. Teleurgestelde verwagtings.

Ek dink dikwels aan hierdie dinge as ek na my gunsteling program op televisie kyk, genaamd Car SOS. Mans met ‘n passie vir ou motors, wat dit dikwels al jare in ’n motorhuis parkeer, of iewers stofbedek in ’n stoor laat staan. Dit was hulle lewenspassie om hierdie veteraanmotors te restoureer, en daarmee te ry.  Maar dan kom die onverwagse van die lewe op hulle pad: kanker, hartaanvalle, beroertes en vele meer teleurstellings. Dit is eenvoudig net nie meer vir hulle fisies moontlik om daardie motor te restoureer nie.  Maar hulle klou naarstiglik vas aan hierdie ou droom, asof hulle hoop om eendag daarby uit te kom en wel dit waar te maak. Soos Johannes Kerkorrel sing: “O, jy eindig op met ’n vuur in die hart, die onrustigheid diep binnekant.  Jy leef en jy leer om alles te gee vir die kans om net een keer te leef, die kans om net een keer te leef.

Dan kom die kantelpunt. Hulle vrouens of kinders of vriende kontak die twee manne van Car SOS, wat beide fantastiese vakmanne is, en vertel die hartseer stories van die verflenterde motors se eienaars.  Die motor word dan onder groot geheimhouding gaan haal, en van onder af gerestoureer tot sy oorspronklike staat in ’n werkswinkel, terwyl die eienaar totaal niks vermoed nie.

Die hoogtepunt van elke episode: die kar word met een of ander voorwendsel onthul as die oortreksel afgetrek word, in sy toestand van perfekte restourasie, terwyl die eienaar glad nie weet dat dit eintlik sy droom, sy motor is nie.  Baie van hulle sê: “I have a car just like that.” En dan, skielik, kom sy familie en vriende te voorskyn, terwyl die aanbieders van die program sê: “This is your car.”

Die reaksie van die eienaar is vir my dikwels oorweldigend emosioneel.  Ongeloof, verwondering, diepe hartseer, maar veral, hierdie dankbaarheid, hierdie verwagting wat nie meer teleurgesteld is nie. Dan word die motor se sleutels aan hom oorhandig met die woorde: “You’ve been Car SOS’d.” Dit gaan dikwels gepaard met trane, en altyd ’n diep dankbaarheid.

Ons het nie beheer oor die ongebruikte babaskoene wat verkoop moet word nie.  Maar ons kan ten volle verantwoordelik wees om ander mense se teleurgestelde verwagtings om te keer.  Met hope liefde, met aandag, sorg, ondersteuning en toewyding.  Met empatie en begrip. Binne ons vermoëns en hulle behoeftes, met ’n oorvloed liefde.

Ek en jy moet kyk en luister.  Jy hoor elke dag by mense van hulle teleurgestelde verwagtings.  Party praat net moeiliker daaroor as andere.  Maar meestal, meestal kan ons mekaar se lewens in ’n reis verander wat uiteindelik sinvol is. Begin deur te sê: “Ek is lief vir jou.  Dankie vir alles wat jy opgeoffer het, ten spyte van jou teëspoed en teleurgestelde verwagtings. Jy maak vir my die lewe die moeite werd.”

So kan ons almal met ’n glimlag op die mond, en nie ’n traan in die oog nie, die lewe verlaat.