Geniet nog ‘n aflewering van “So is die Lewe” uit die pen van Marius Britz.
Daar is ‘n anekdote oor Leonardo da Vinci en sy skildery Die laaste avondmaal. Dit lui dat, toe hy sy beroemde skildery van Jesus en Sy dissipels rondom die pasgatafel bykans voltooi het, hy twee kolle oopgelaat het, met detail nog uitstaande: die gesigte van Jesus en Judas Iskariot. Hy het blykbaar sterk gedagtes gehad oor hoe die twee gesigte sou lyk. Jesus s’n moes liefdevol, vreedsaam, gedetermineerd, kalm en rustig wees. ‘n Gesig wat uitstaan, wat treffend alle sintuie vasvang. Judas Iskariot s’n die teenstelling: Da Vinci het ‘n gesig van weemoed, bittere berou, skaamte, emosies soos woede, selfs haat, in gedagte gehad vir hom.
Die skilder het lank gesoek totdat hy op ‘n dag, eensklaps, die gesig gesien het wat voldoen het aan sy persepsies oor hoe Jesus sou lyk. Presies net soos wat hy gehoop het, vreedsaam, liefdevol, selfversekerd, gefokus, suksesvol. Die man het ingestem om geskilder te word, en het poseer as beeld van Jesus se gesig. Dit het net die leë kol van Judas se gesig gelaat.
Drie jaar daarna het Da Vinci hom gekry: verflenterd, bitterheid diep gekeep oor sy gesig, wange hol, gegroef deur namelose pyn, oë verwilderd, kwaad en ontnugter. Da Vinci het hom gevra om te poseer vir Judas. Die man het bitterlik begin huil. Sy woorde was: “Drie jaar terug het jy my geskilder as Jesus. Die lewe het teen my gedraai.”
Lees ook: So is die Lewe: Veilig agter my pallisades.
So is die lewe. Die Duitse filosoof Karl Jaspers het gesê dat mens sorgvuldig jou lewe kan karteer, maar dat die kans altyd daar is dat jou lewensskip op die rotse kan loop, ten spyte van daardie deeglike plan wat jy opgetrek het vir die roete voor jou. Dan kan jy slegs een van drie dinge doen: óf lag, óf huil, óf van vooraf begin beplan. Pink Floyd eggo hierdie gedagte. “Then one day you find, ten years have got behind you. No one told you when to run, you missed the starting gun.” So vinnig, te gou gaan die lewe verby. Voordat jy nog kon keer of koes.
Soveel mense beland uiteindelik op ‘n ander plek in ruimte en tyd as wat hulle beplan het. Jy beplan jou aftrede op ‘n sekere tydstip van jou lewe, maar vind jou eensklaps in die situasie dat jy jou werk of jou gesondheid verloor, en ingelanseer word in ‘n onbeplande vakuum van niksheid, van opstaan elke dag en wonder wat nou, waarheen. Al die gewaande gemaklikheid waarmee jy sou leef op jou oudag, is weg.
Soos ‘n skip in die nag verdwyn. Of, jy beplan hoe jy en jou lewensmaat eendag julle drome gaan waar maak. Reis deur die land, deur Afrika, deur die wêreld. Maar eensklaps bevind jy alles het verwronge uitgedraai, met spanning, slapelose nagte, en ‘n gevoel van ontsaglike verlies. Jy kom agter dat jy stadiger beweeg, dat jy swak word, dat jou asem jaag as jy ‘n entjie geloop het.
Jy kom agter dat jy kleiner word, meer broos, meer kwesbaar. Jou gedagtes begin al hoe meer dwaal na die verlede. Die pad agter jou voel baie langer as die pad voor jou. Jy kom agter die grootmenslewe tussen die afsetterskoot en die eindpaal is toe veel korter as wat jy verwag het. Coenie de Villiers sing in sy lied “Die laaste maal: Voor jou is die deur gesluit, agter jou is dit nag.”
Hoe moet ons daaroor dink? Die lewe is ‘n reis, en jy het net een beurt. Daar is nie proeflopies, of “replays” moontlik nie. Eers as jy doodgaan, is jou beurt verby. Hoe daardie reis verloop, is jou keuse. Die Griekse digter Konstatyn Kavafis beskryf so reis in sy gedig “Ithaka”, die plek waarheen Odusseus, ‘n legendariese held in die Griekse mitologie, ‘n goeie spreker, briljante denker en ook uiterste platjie, koning is. Uys Krige het dit in Afrikaans vertaal.
Party mense storm beste deur die lewe om seëvierend prestasie op prestasie te bereik. Kavafis wys dit van die hand: “Wanneer jy op reis gaan na Ithaka / vra dan dat jou pad lank mag wees / vol avontuur / en dat jy veel mag leer.” Daar sal wel vyande wees, maar “solank jou gees en jou liggaam geraak word deur seldsame ontroering”, sal jy hulle nie teëkom nie, tensy jy dit vreesbevange afwag.
Op die reis is daar baie hawens waar jy binnegaan – waar jy eksotiese korale, perlemoen, amber en ivoor kan koop, ook sensuele geurige parfuums van enige soort.
Geniet sulke sintuiglike ervaringe, sê die digter, besoek ook die talle stede om by hulle geleerdes “veel, oneindig veel, te leer.” So word genieting, belewenis, kennis en wysheid deel van jou mensheid. Vra juis daarom dat jou reis lank mag wees.
Dan is daar die bestemming, Ithaka, waar jou reis begin het en waarheen jy terugkeer. Onthou altyd, skryf Kavafis, hoe jou reis begin het, hoe jy daardeur gevorm is en voorberei is: “Hou Ithaka altyd in jou gees / Jou aankoms daar is waarvoor jy bestem is / Maar wat die reis betref, moet jou nie in die minste haas nie. / Dis beter dat dit jare sal duur.”
Dit is jou Ithaka wat vir jou die “pragtige reis” gegee het: “Ja, sonder Ithaka sou jy nooit uitgevaar het nie / Sy het niks anders om aan jou te gee nie…” Om daarmee te sê: Belangriker as die begin en die bestemming is die reis self, dat jy “ryk is aan alles wat jy langs die pad verwerf het”.
Uiteindelik bly die sin van lewensvreugde daarin om te weet waarheen jy op pad is, en om alles wat jou reis deur die lewe vir jou opgelewer het, te gebruik om jou te verwonder aan die lewe self, al was dit soms deur die donker dieptes van draai, teleurstellings, swak gesondheid en mislukkings. Jóu Betlehem en Golgota is nie die belangrikste gebeure in jou lewe nie, maar wel jou reis tussen die twee plekke. Dit is wat agterbly, ná alles.