Wednesday, December 18, 2024

So is die Lewe: La gayyim!

Bookmark
Bookmarked

Geniet nog ‘n uitgawe van Marius Britz se “So is die Lewe”. Hierdie week se tema is “La gayyim!.

‘n Ou Ierse spreuk lui: Leef só, dat wanneer jy gebore word, die wêreld lag, maar wanneer jy sterf, die wêreld huil. Hoe langer jy daaroor dink, hoe meer maak dit sin. Voorbeelde van mense wie se dood die wêreld diep geraak het, is daar baie. Ayrton Senna was die groot Brasiliaanse renmotorheld, wat die Brasiliane hoop en trots gegee in ‘n donker tyd in hulle geskiedenis. Sy dood in ‘n F1-ongeluk in 1994 het ‘n hele nasie in rou gedompel.

So ook Evita Peron, die Argentiniese presidentsvrou. Moeder Teresa. Prinses Diana, Elvis Presley, noem maar op. Mense wat onteenseglik ander se lewens aangeraak het. Nader aan die huis is daar mense soos Johannes Kerkorrel en Gè Korsten, wie se dood derduisende aanhangers geskok en verbysterd gelaat het, en van hulle kultusfigure ná hulle dood gemaak het.

In die Bybel lees ons van Simson, ‘n merkwaardige man met geweldige krag en ‘n nog groter humeur. As hy hom vererg, bars die Filistyne. As hy ‘n weddenskap vir 30 linnehemde en pakke klere verloor, slaan hy 30 Filistyne dood, en gee hulle klere aan die Filistynse wenners van die weddenskap. As hulle kom om hom te vang, slaan hy ‘n 1000 van hulle dood met ‘n eselskakebeen en noem die plek Kakebeenshoogte.

Lees die verkorte Bybel verhaal van Simson HIER

As sy aanstaande skoonpa hom indoen met ‘n ooreenkoms, vang hy 300 jakkalse, bind hulle twee-twee aan mekaar vas, en maak ‘n brandende fakkel in elke paar se stert vas voordat hy hulle die Filistyne se landerye en hooimiedens injaag. Nou, elkeen wat al probeer het om een rooijakkals wat skaaplammers doodbyt, te skiet met ‘n jaggeweer en teleskoop, sal weet watter prestasie dit was om 300 jakkalse te vang met die hand en aan mekaar vas te bind.

Hy verskeur ook ‘n leeu met die kaal hand. Fenomenale man!

so is die lewe
Simson verskeur ook ‘n leeu met die kaal hand

Dan vang die Filistyne hom nadat hy in onnadenkendheid sy kraggeheim aan Delila vertel. Hy verloor sy krag, en sy oë word uitgesteek. Al die Filistyne se leiers vier fees in hulle god Dagon se tempel! Tot op die dak van die tempel is daar 3000 mense wat fuif en dans. Simson bid dan om hom te wreek op die mense wat sy eer gesteel het, en kry vir oulaas sy krag terug. Hy trek die tempel se pilare om, en almal sterf. Soos hyself ook, wat gebid het dat dit moet gebeur. Dan die interessante vers. Ten spyte van sy manjefieke lewe, sê Rigters 16:30: Simson het met sy dood meer mense doodgemaak as in sy lewe.

Dit laat mens wonder: wat sou jy anders doen, as jy soos Simson die keuse gehad het om reg te maak vir die vroeëre verkeerde keuses van jou lewe? Miskien sou jy kon kies om meer lief te hê, om ander mense se seer beter raak te sien. Daarmee saam, om te sê: ek is hier vir jou. Altyd. Miskien sou jy ook kon kies om ‘n dikker vel te hê vir mense se geite.

Lees ook: So is die Lewe: Kies Lewe

Ons homo sapiens is dikwels soos boerbokke: as die voorbok deur die heining spring, spring al die ander agterna. Sonder om te weet waar hulle gaan beland. Maar, mense is ook bietjie anders as bokke, ons kry te skaam om terug te gaan en te sê: dit was ‘n fout, wanneer ons besef dit was onnooslik om sekere dinge te doen. Dalk sou jy veel makliker gesê het: “ek was verkeerd. Vergewe my asseblief.” Dink net hoeveel makliker dit jou lewe sou maak.

Miskien sou jy jou minder aan stories gesteur het. ‘n Leuen wat gefluister word, trek baie vinniger en verder as die waarheid wat kliphard geroep word. So kan baie mense getuig van ‘n gebabbel en gerugte wat hulle diep, diep, seergemaak het. In so mate dat hulle hulself onttrek het van alles en almal, en emosioneel siek geword het. As jy terugkyk, besef hoe lagwekkend dit eintlik was dat jy jou gesteur het aan sekere mense se opinies.

so is die lewe
‘n Leuen wat gefluister word, trek baie vinniger en verder as die waarheid wat kliphard geroep word.

Jy sou dalk met jou oë groter oop deur die lewe gegaan het, en agtergekom het wie werklik jou vriende is, wie jy eerder moet vermy. Ek meen ook mens sou baie harder daarteen gewaak het om jou humeur te verloor. Soms kry jy koue rillings as jy dink aan al die kere toe jy te haastig reageer het, te vinnig ‘n mening uitgespreek het. Of te ongeduldig was, of bevooroordeeld was teenoor mense wat dit glad nie verdien het nie.

Elkeen van ons sou meer kon lag. ‘n Oudkollega van my van Secunda was oral gewild en bekend, nie net oor sy diep menslikheid nie, maar oor die manier waarop hy gelag het. Jy kon hom myle vêr hoor lag, en almal om hom het saamgelag. Hy was ‘n ligstraal in vele mense se lewens met sy aansteeklike lag. Vandag nog bewonder ek mense wat hartlik kan lag, uit hulle maag uit, sonder dat iemand noodwendig ‘n grap vertel het.

Laastens: jy sou dalk beter na jouself gekyk het, meer geoefen het, gesonder geëet het, gewerk het aan jou stresvlakke, meer ontspan het, meer nuwe dinge probeer het, vreemde horisonne ontdek het. Kortom, as jy toè geweet het wat jy noú weet, sou jy dalk anders gelèèf het, in plaas van net bestaan het. Begin vandag nog om die foute wat jy in die verlede gemaak het te vermy!

Dan sal jou dood, soos diè van Simson en al die ander, mense laat huil. Maak dit jou nuwejaarsvoorneme vir 2021. Jy het nie beheer oor virusse en dood nie. Maar jy het beheer oor jou eie benadering teenoor lewe en jou voorsorg teen rampe.

Soos die Jode sê: “La gayyim!”