Die meeste van ons het nou baie tyd om dinge te doen waarvoor daar nooit tyd was nie. Minder lekker dinge, soos instandhoudingswerk, daardie krake in die muur opvul en verf, die bossies uittrek, die kaste en studeerkamer regpak, ou liefdesbriewe verbrand, stukkende ketels en broodroosters regmaak, en ‘n lastige sinkplaat wat jare al los is, vasmaak.
Maar dan is daar ander, veel beter dinge ook wat nou moontlik geword het, soos om stapels boeke wat gekoop is teen spotgoedkoop pryse by byvoorbeeld kattebakverkope, en wat steeds ongelees lê, nou te lees. Ook al daardie reekse DVD’s wat jare lank al lê en wag om gekyk te word.
So kon ek myself verkneuter aan die hele reeks van Rich man, Poor man, en van voor af weer my inleef in die ironiese verhaal van Rudi en Tom Jordache, en die skurk Falconetti. Maar deurentyd het mens geweet dis net ‘n storie. ‘n Briljante storie met baie hartseer, soos baie mense al self beleef het in hulle lewens. Maar steeds net ‘n storie.
Die een wat my egter hard tot die werklikheid terug geruk het, is die epiese reeks World at War. Die ontstellende filmmateriaal wat in die Tweede Wêreldoorlog afgeneem is, vertel die aanloop van die oorlog, die verloop daarvan en die verskriklike gevolge op weermagte en gewone mense.
Benewens die massiewe aanslae met vliegtuie en swaargeskutwapens, ook die vernietiging van stede en historiese katedrale en geboue, is die oorheersende minagting van menselewens die oorheersende indrukke. Hoe die soldate in een veldslag in hulle honderdduisende gesneuwel het, en by sekere gevegte soos op die inval op D-dag op 3 Junie 1944 in Normandië, agt uit tien soldate van die Geallieerdes dood is nog voordat hulle die strand kon bereik van die skepe af.
Die swart en wit-tonele van soldate wat in hulle spore gestuit word deur masjiengewere, is nie akteurs wat ‘n rol speel in ‘n oorlogfliek nie. Dit is die werklikheid. ‘n Grynsende, makabere wolk wat hang oor die geskiedenis van die mensdom. Miljoene mense het gesterf. Kinders, bejaardes, en gewone mense wat vergeefs probeer wegkom het.
Die verskriklikheid van die konsentrasiekampe ruk mens ook aan die hart. Meer as ses miljoen mense is daar koelbloedig vermoor. Die aangrypendste woorde van die verteller, Sir Laurence Olivier, is telkens herhaal. “No one ever thought that it could happen.”
Diè woorde steek in my kop vas as ek kyk na die tyd waarin ons onsself nou bevind. As jy aan die begin van 2020 hierdie scenario sou voorspel het, sou almal in die geselskap agter jou rug rolbewegings met hulle vingers teen hulle koppe gemaak het, en grootoog jou beloer het. Sterftes reg oor planeet aarde. Baie lande wat ingeperk is, en ekonomieë wat baie swaar kry en jare gaan vat om te herstel.
Die aandklokreël wat van Vrydag af geld in Suid Afrika. Ons het almal gedink dit is iets wat nooit weer sal gebeur nie. Getalle van geinfekteerdes en sterfgevalle wat daagliks styg. Skole wat onbepaald gesluit is. Winkelssentrums wat leeggeloop het met baie rakke wat leeg is, of waarvan items beperk word.
Mense wat voor koswinkels in toue staan en wag om ingelaat te word, hulle hande uitgehou om ontsmet te word. Kliënte wat nie in banke toegelaat word as hulle nie maskers ophet nie. Die ergste is die honger, weerlose mense wat werklik geen kos het nie, waar oud en jonk honger gaan slaap, en juis diè honger ‘n kruitvat word wat deur veiligheidsmagte beheer moet word. Surrealisties.
Wie sou ‘n profeet kon wees onder hierdie omstandighede? Watter mens het die wysheid en insig om op huidige patrone te voorspel waar ons oor ses maande gaan wees? Daar is wel baie pogings. Doemprofete en siniese waarnemers wat net slegte scenarios voorspel. Dan is daar weer ander voorspellings wat grens aan die naiewe. “Ons moet net glo, dan sal alles regkom.”
Op hierdie stadium lyk dit asof daar verskeie uitkomstes moontlik is, positief en minder positief. Natuurlik speel die fopnuus ‘n reuse rol in die toekomsvoorspellings. So erg word dit, dat daar nou daadwerklik strafregtelik opgetree word teen mense wat vals nuus versprei op sosiale media. Soos sir Laurence Olivier tereg opgemerk het: “No one ever thought that it could happen.” Watter kant toe ookal. Die veiligste voorspelling om te maak, is dat baie mense se gemoedstoestand hulle belewenisse in hierdie tye bepaal.
Oor dertig jaar, as ons so voorbarig sou kon wees om jouself te vertel dat daar so geleentheid gaan wees, kan ‘n kleinkind vra: “Oupa, vertel my van daardie tyd van die Coronavirus. Wat het gebeur?” Oupa sou kon sê: “Die was slegte tye. Ons was ingeperk en verwilderd en onseker,” en dan breedvoerig uitbrei en aandik oor alles wat hierbo genoem word.
Of, Oupa sou kon sê: “Dit was moeilik, ja! Maar ons het wonderlike dinge beleef, al moes ons in ons huise bly. Ons kon weer kuier met mekaar en gesels. Ons kon alleenmense bel, hulle bemoedig en boodskappe stuur. Ons kon saam take verrig as gesin, of as vriende. Ons kon leer om ons tegnologiese vaardighede te verbeter, en so kon ons eredienste luister, skool laat aangaan op die internet, en ons kon weer stiltetyd hou, en ongejaagd bid. Ons kon ons Bybels deeglik lees, en God weer ontdek, asof vir die eerste keer.”
Ons is almal op die dieselfde boot in dieselfde storm. Dit kan die kans wees om jou gedagtes en menswees te herset. Jy kan vrede kry in die ordening van jou eie denke, emosies, en veral jou geloof. Of jy kan dit as ‘n orkaan beleef, ‘n bombardement wat jou hele bestaan verwoes, soos die Geallieerde bomwerpers wat Berlyn platgeskiet het.
Moenie die verskil tussen die twee reaksies ontken nie. Gebruik die kans om jou gesinsbande te versterk, maar sien ook die effek van alles op ander raak. Veral op honger, desperate mense. Sien die storm raak, maar doen dit op jou knieë, met ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan. Wees die stilte in iemand anders se storm.