Ek, soos ‘n hele klomp mense van my generasie, bevind ons deesdae in ‘n moeilike situasie. Daar waar iemand wat 85 jaar oud is vir jou sê: “Moenie vir my sê tannie nie!” Maar iemand wat vyftig jaar oud is, sê vir jou “oom.” Terwyl ons praat van hierdie generasie, baie van ons is grootgemaak met hierdie ding in jou kop ingeprent: “As iemand tien jaar ouer as jy is, dan sê jy vir hom of haar “oom” of “tannie.” Derhalwe het ek al vir mense met pigmentgestremde hare oom of tannie gesê, net om later uit te vind hulle is jonger as ek.
Maar hierdie generasie waarvan ek ‘n lidmaat geword het, het werklikwaar geleer om aan te pas by veranderinge. Hierdie is ‘n baie spesiale, en unieke generasie! Baie winkels en eetplekke gee op sekere dae spesiale seniorburger-afslag aan mense van hierdie groep. Die oompie en tannie deel hulle senior-afslag spek en eiers en valstande.
Ons is gebore in die 40’s, 50’ en 60’s. Ons het grootgeword in die 50’s, 60’s en 70’s. Ons het studeer in die 60’s, 70’s en 80’s. Ons het begin kys in die 70’s, 80’s en 90’s. Baie van ons moes as kinders in ‘n oorlog gaan veg in die 70’s en 80’s waarvan ons nie veel geweet het nie, baie van ons maats is daar dood in kontakte. Ons is getroud en het die wêreld begin verken in die 70’s, 80’s en 90’s. Ons loopbane het dieselfde tyd afgeskop. Ons het rustiger begin raak in die 2000’s. Ons het wyser geword in die 2010’s. Ons het die milleniumdraai in 2000 beleef en deurgegaan. Ons het dus agt verskillende dekades oorleef, twee verskillende eeue, twee verskillende millenias. Ons het grootgeword met telefone waar jy die slinger moes draai en ‘n sentrale vra om vir jou ‘n sekere buite-nommer te bel, tot die era waarin jy nou onmiddelik ‘n Whatsapp-video-oproep kan maak na enige plek in die wêreld, en die persoon wat jy bel, op ‘n skerm van ‘n slimfoon kan sien.
Ons het gegaan van swart en wit kiekies met driehoekies vasgegom in ons albums, na skyfies en 8-mm huisfilms en DVD’s. Vandag kyk ons na troues en begrafnisse, eredienste, familiefeeste, enige denkbare onderwerp, op YouTube. Ons kan duisende foto’s neem en stoor op ons fone, sonder om die rolletjie film van 24 of 36 skote eers apteek toe te vat om te laat ontwikkel. Ons kan tien foto’s neem van een ding, en die nege slegste foto’s daarvan uitvee.
Ons het 78-glasplate geluister op ‘n opwendraaitafel, later 33 en 45-vinielplate op ‘n draaitafel, kassetopnames van ons gunsteling musiek. Vandag is daar nie eens meer nuwe cd’s beskikbaar nie, alle musiek kan aanlyn gekoop word in MP-3 formaat. Ons het briewe geskryf, dit in koeverte toegeplak en by die poskantoor ‘n seël gekoop om vir iemand te stuur. Vandag doen ons alles per e-pos, en die poskantoor bestaan nie eens meer in baie dorpe nie.
Die waagmoediges onder ons het in die tagtigerjare van die vorige eeu rekenaars gekoop met ‘n dubbel floppie-dryf, en ook ponskaarte begin gebruik waarmee data verwerk is. Vandag het ons megabytes en gigabytes op ons slimfone, waarmee ons kan koop, kan navorsing doen, kan flieks kyk op Netflix, en ook stemboodskappe vir mekaar stuur.
Ons seuns het safaripakke gedra, dogters crimplene rokke met sykouse en bell bottom jeans. Ons het krawatte by die safaripakke aangesit in die somer as ons kerk toe gegaan het, en die vrouens het hoedens gedra. Ons is inge-ent teen polio, meningitis, tuberkulose, griep, maar ons het Covid- 19 oorleef.
Ons het driewiele, Chopper-fietse, 50cc-poer-poers en help-my-traps en motors met vergassers en vonkverdelers gery. Vandag ry ons, selfs in die kleinste motortjies, met turbos en elektroniese ontsteking en brandstofinspuiting. Dis nou as ons nie ‘n hibroiede of elektriese motor kan bekostig nie.
Ja, ons het uitsonderlike lewens gehad. Mense wat deur baie jonges beskou word as ‘n outoppie en ‘n ou antie. Ons het ‘n analoë jeug gehad, en beleef ‘n digitale oudag. Ons is ‘n soort van “Ek-het-alles-gesien”-geslag, wat meer van die lewe en die wêreld beleef het as enige jonger persoon, en nog steeds die pas byhou. Ons het letterlik nie net beleef nie, maar ook geleef, en ons leef steeds voluit. Ek wil oudwees saamvat:
As jy jonk is en die lewe soos ‘n snelweg voor jou lê
is jy vlymskerp: niks gaan ongesiens verby:
gesigte, drome, name word in die hardeskyf van jou 16 megagreep-geheue gebêre
jou verbale meedoënloosheid jou borswering
niemand is bestand teen jou verstand en venyn
maar mettertyd raak die denkprosesse anders:
jy transformeer na stadiger
jy onthou eergister, en dertig jaar terug
dinge lankal onder die oppervlak versteek in gewaande vergetelheid
word weer glashelder:
die trane souterig, die vrees palpitaties, die huil snotspore wat terugvloei
jy huil oor jou pa en jou ma
jy raak bang, angstig, onseker
jy veg teen struikel en stotter
jy soek asiel teen elke dag se verniel
terwyl jy vir die soveelste keer vandag soek na jou bril,
wonder oor watter pil het jy vergeet wat jou so laat sweet
en uiteindelik, as jy terugtrek in jou dop is jou enigste wens:
wees net sag met my.
Ek het die lewe geleef, baklei, maar kon nooit seerkry vermy.
Ek is nou broos en breekbaar. Nou is ek handle with care.
Soos antieke porselein in ouma se kas: Net ‘n bietjie liefde, net dit.