Sunday, October 6, 2024

So is die Lewe: Geesteskrag

Bookmark
Bookmarked

Geniet nog ‘n aflewering van “So is die Lewe” uit die pen van Marius Britz.

Lillian Watson vertel in haar boek Light from many lamps die verhaal van Harold Russel, ‘n Amerikaanse soldaat van die tweede wêreldoorlog.  Hy is in ‘n geveg beseer.  Toe hy wakker word na sy noodoperasie, was daar verbande waar sy hande moes wees: albei sy hande is afgesit.  Hy het hulpeloos en nutteloos gevoel.  Wat kan ‘n mens sonder hande doen?  Waarvoor was hy goed?  Hy was ‘n kreupele.  Toe ontvang hy besoek van ‘n veteraan uit die eerste wêreldoorlog wat self sy hande verloor het.  “Die struikelblok wat jy moet oorkom,” het die veteraan gesê, “is nie jou gebrek nie, maar jouself.  Dis nie wat jy verloor het nie, maar wat jy oorhou.  Jy is nie ‘n kreupele (crippled) nie, maar ‘n gestremde (handicapped).”

Harold Russell By Samuel Goldwyn Company – http://www.rottentomatoes.com/celebrity/harold_russell/, Public Domain, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=26421342

Toe die veteraan daar weg is, het Russel ‘n woordeboek gevind en met moeite die twee woorde opgesoek.  Crippled, het hy vasgestel, beteken ongeskik, onbekwaam om korrek te funksioneer.  Onder handicapped het hy die volgende raakgeloop.  Enige nadeel of hindernis wat sukses in ‘n onderneming moeiliker maak.  Dit het hom getref: dis nie wat jy verloor nie, maar wat jy oorhet wat tel.   Russel het ‘n filmster geword en ‘n Akademietoekenning gekry vir sy toneelspel. 

Die ergste pyn van die meeste menslike beproewinge, het ‘n filosoof met die naam Jean Grou gesê, is die weerstand van jou gees teen beproewing.  Om waardig te lewe, vereis dat jy verder moet kyk as die negatiewe in jou lewe, dit wat jy nie het nie, of dit wat jy verloor het,  en dat jy sal voluit gaan met dit wat jy wel het.    Jy moet jouself anders instel, sodat jy innerlik kan groei om te woeker met dit wat jy wel het. 

Kom ons vra so: wat het jy nodig om waardig te lewe?  Baie mense is so.  Hulle het so ‘n teenwoordigheid om hulle.  As hulle in ‘n vertrek instap, is jy dadelik bewus dat hulle daar is.  Dit maak nie saak of hulle arm of ryk, mooi of lelik of wat ook al is nie.  Wat hulle anders maak, is hulle geesteskrag. Dit gee aan hulle ‘n status, ‘n waardigheid.   Maar dit is moeilik om presies te beskryf wat geesteskrag is.  Baie boeke en verhandelinge is al daaroor geskryf, en dikwels is daar uiteenlopende standpunte.   Hoe oefen jy om met geesteskrag te lewe?

Lees ook: So is die Lewe: Hoekom, hoegenaamd is ek hier?

Soos met baie lewensbelangrike sake,  kan jy maar dit heel eenvoudig formuleer.  Robert Fulghum sê alles wat jy nodig het om waardig te leef,  leer jy in die sandbak by die kleuterskool.  Dit gee aan jou gereedskap vir die lewe.  Kyk wat is die basiese lewensreëls wat die kleuters daar leer:

  • Deel alles wat jy het
  • Speel altyd eerlik
  • Moenie aan iemand slaan nie
  • Sit dinge terug waar jy dit gekry het
  • Tel jou eie rommel op
  • Moet niks vat wat nie aan jou behoort nie
  • As jy iemand seergemaak het, sê jy is jammer
  • Was jou hande voor ete
  • Leef ewewigtig;  leer ‘n bietjie, dink ‘n bietjie, teken en skilder en sing en dans en speel ‘n bietjie, werk elke dag soveel as wat jy moet
  • Rus genoeg, en sorg dat jy elke dag genoeg slaap inkry
  • Moet nooit ophou om verwonderd te wees nie.

As mens mooi na sy stellings kyk, dan is dit alles elementêre dinge hierdie, wat tegelykertyd liefde, higiëne, omgee vir ander, verbeelding, eerlikheid, toekomsgerigtheid en verstandigheid insluit.  Dit beteken dat  lewe in sy geheel gebalanseerd moet wees.  Alles is nie altyd net sleg nie.  Alles is nie altyd net goed nie.  Die lewe is problematies leefbaar, want dit is ‘n interverweefde tappiserie van gebeure.

Dit is die geesteskrag wat ons kan uitleef.  Ons moet ‘n dringende smagte na ‘n waardige lewe verkry.  Hoe doen mens dit?

Geesteskrag kry jy eerstens deur sekere waardes te hê wat aan jou lewe rigting en betekenis gee.  Dit beteken nie dat geld en luuksheid vir jou ‘n dryfkrag moet wees nie, maar dit beteken veel meer.  In jou verbondenheid aan God is daar ‘n wêreld van vrede opgesluit.  Dan kan jy die mislukkings op jou pad, die seerkry, die teleurstellings met waardigheid in die oë kyk.  Want in geloofslewe is daar ‘n dieper dimensie in jou lewe, ‘n sfeer wat vêr verby die grense van die mens se verstand gaan. 

Daarom gee geloof aan jou die vermoë om te berus as daar dinge gebeur wat jy nie kan verander nie.  Hierdie waardes weerhou jou daarvan om andere seer te maak; dit keer jou om jou eie belang te soek en in die proses jou te verneder, dit weerhou jou daarvan om ‘n gek van jouself te maak deur die uitsprake wat jy maak.  Dit laat jou uitstaan tussen ander mense.  Dit maak van jou ‘n toevlugplek, ‘n bastion van troos en veiligheid vir jou familie en vriende.

Hierdie verbondenheid aan geestelike waardes is egter geen waarborg vir ‘n konflikvrye bestaan, of ‘n lewe sonder angs of seerkry nie.  Juis die teendeel is moontlik- dat jy moet aanhou waarsku en vermaan, selfs al word jy daaroor gespot en geminag, dit beteken dat jy moet bly pleit vir egtheid terwyl andere meer gewildheid of aansien het met hulle valsheid.  Om waardig te lewe beteken dat jy die waarheid altyd moet verdedig.  Al sou jy daardeur angs ervaar terwyl andere gemaklike sekerheid ervaar.    

Geesteskrag behels tweedens dat jy verantwoordelikheid sal neem vir die verloop van jou lewe, en nie die skuld vir jou ellendes en negatiwiteit verplaas na ander mense en omstandighede nie.  Baie mense is geneig om die hele wêreld te blameer vir die misterie van hulle lewens.  Om altyd te loop en foutsoek, om negatief en afbrekend te wees teenoor almal en alles is om jou waardigheid te verloor. 

Daar is niks wat jou so vinnig ‘n reputasie besorg as juis die feit dat jy nooit iets goeds van enige iemand te sê het nie.  As jy verantwoordelikheid aanvaar vir jou eie optrede en foute, dan help dit jou om dinge realisties waar te neem, om selfkrities te wees, en om gedurigdeur geestelik te groei.

Geesteskrag behels derdens ook dat jy waardig sal optree in konfliksituasies in jou lewe, omdat jy dit op ‘n konstruktiewe manier sal hanteer.  ‘n Wyse professor in die wysbegeerte honneursklas het aan ons gesê: moet nooit jou lewenswaardigheid verloor deur te reageer op onwaarhede en venyn nie.  Want as jy impulsief sou reageer as iemand onwaarhede of verdraaiings oor jou verkondig, dan loop jy die gevaar om jou waardigheid te verloor.  ‘n Mens kan konflik op verskeie maniere hanteer:

Soos ‘n haai kan jy verskeur en wond om elke geveg te wen, en in die proses alle waardigheid verloor.

Soos ‘n groot ou teddiebeer kan jy maar altyd stilbly ter wille van die vrede, en so jou selfrespek en lewenssin verloor.

Soos ‘n skilpad kan jy jou kop intrek en wegvlug van alle konflik af.

Soos ‘n kat kan jy aanhou kerm totdat jy jou sin kry.

Of, soos ‘n waardige uil, kan jy luister en verstaan, en deurdag reageer of nie reageer nie, en kan jy ook respek afdwing met jou eie wysheid.   Geesteskrag gee aan jou kalmte en bedaardheid, en weerhou jou daarvan om ingetrek te word in smerigheid van andere se ligsinnige en roekelose lewens.

Geesteskrag kom vierdens na jou toe deur ‘n opgeruimde lewensbenadering en humorsin.  ‘n Mens sien dikwels mense wie se onvergenoegde en suur houding dit duidelik uitspel: hulle het nooit geleer om te geniet nie.  Nooit geleer om te sê: “ek is jammer” nie.   Hulle is wantrouig teenoor andere, en bloot daarop ingestel om hulleself en hulle eie idees te bevorder.  Hulle is ook die grootpraters, die allesweters.  Hulle kan ook nooit sê: “ek was verkeerd” nie.  Om jou foute te erken, is om waardig te wees. 

‘n Opgeruimde lewensbenadering kom in al jou interpersoonlike verhoudings na vore.  Dit breek die grense tussen mense af.  Die Bybel sê: ‘n sagte woord keer die grimmigheid af.  Beswaardheid, kommer, negatiwiteit en ‘n allesoorheersende erns veroorsaak dat mens se gees smoor.  ‘n Vrolike hart bring geesteskrag wat genees en herskep.  Luister dikwels na goeie musiek. 

Geesteskrag behels laastens dat mens die uitdagings van verandering aanvaar.  As jy ouer word, of die kinders gaan uit die huis uit, of ‘n geliefde van jou sterf, kan dit maklik veroorsaak dat jou eie lewe dan daarmee heen is.  Daar is soveel mense wat leef vir gister, vir dit wat verby is.  Hulle sien eenvoudig nie meer die mooi van die lewe raak nie, hulle ervaar nie meer vreugde nie. Baie mense sê: die dag toe ons pa dood is, het ons ons ma ook verloor. 

‘n Mens wat geesteskrag het, fokus op wat hy nog oorhet, en nie op dit wat hy verloor het nie.  Want as jy slegs fokus op die verlore geleenthede in jou lewe, op diegene vir wie jy lief was wat jou vooruitgegaan het, op die slegte van jou bestaan, dan verloor jy ook alles wat jy nog steeds het, jou huweliksmaat, jou kinders, kleinkinders, familie en vriende.

Dit is die sin van jou lewe, om voluit te lewe. Ongeag.