Geniet nog ‘n aflewering van “So is die Lewe” uit die pen van Marius Britz.
Uitgestrekte wit strande is lekker, ja. Die hemelsblou see is ‘n belewenis, ja. Die seiljagte wat lui verbyvaar is mooi om te sien, ja. Die gekrys van seemeeue en die gedruis van die malgaskolonies op Dasseneiland is lekker om te hoor, ja. Nou, wat op aarde kan dan onaangenaam wees op ‘n plekkie soos Langebaan, behalwe die Swart Suidoos wat so kan waai?
Kom ek vertel jou: die buitelandse toeriste, soms. Hulle loop die sypaadjies en winkelgange vol, hulle eet die duurste geregte in die restourante vir spotgoedkoop as gevolg van die wisselkoers, hulle stamp jou uit die pad om eerste by die rakke uit te kom, hulle kwetter en kweel luidrugtig in onverstaanbare tale, en hulle kyk van die hoogte af neer op ons Suid Afrikaners. Hulle koop sakke en sakke vol houtolifante en draadboompies en skulphartjies, wat hulle dan onverstoord in die middel van die straat vir mekaar staan en wys, terwyl die karre maar moet maar wag.
Sou jy die vrymoedigheid neem om flussies op jou toeter te druk, kry jy so vuilerige, afwesige kyk. Daai kyk wat jy in die wildtuin vir die bobbejane gee as hulle jou piekniekkos wil steel. Regdeur die jaar is die strate vol toerbusse en word ons weskusdorpie ingeval deur die kamerabrigades. Word ons oorgelewer aan onverstaanbare tale en gewoontes.
Lees ook: So is die Lewe: Als loop reg, altyd reg.
Een manier om daarvan te ontsnap is om, sê maar, jou pille by die staatskliniek te gaan haal. Of om die daaglikse winskopies by Shoprite te gaan koop. Of eenvoudig te gaan brandstof ingooi by Mouton Motors. Want daar word jy werklik deel van jóu mense, mense wat die dorp en die land met jou deel, wat dieselfde erfenis as jy het, mense wat jy kan verstaan.
“More more!” sê die man wat met sy fiets en ‘n sleepwaentjie deur die dorp ry. “Hie is lekke samoesas vemore? Spesiaal met die kerrie net soes menee daavan hou…” By die vulstasie vra die pompjoggie: “Nou wane gaan menee daai poer-poer (motorfiets) aan my vekoep? Ek vyl al lankal my tanne vi hom!” Hy lag en vertel my oor ‘n buurman se kaskenades die naweek. “Daai klas wyn is nie vir ‘n man met ‘n dun kopvel nie. Hy wou toe baklei soes iemand wat op medical aid is! Is true my broe!”
In die tou by die kliniek sit ek en my huishulp skouer aan skouer. Om ons is mense wat praat oor hulle lewens. Covid en die dra van maskers. Inentings. Kos wat so duur geword het. Die moordsyfer in Kaapstad. Die munisipaliteit wat so onverbiddelik is oor onbetaalde rekeninge. Hoe mooi dit is as die Silwer Valke oor die dorp vlieg, en hoe trots ons almal opkyk na die lug as hulle so dreun en draai oor die Baai. Hoe bekommerd ons oor ons kinders is wat nie werk kry nie. Hulle vertel my hoe mooi Pastoor gepraat het by die kerk Sondag oor liefde en die naaste.
Ons is almal Suid Afrikaners. Ons voel dieselfde pyn oor misdaad, korrupsie, nepotisme, staatskaping en opruiende uitsprake. Maar ons kry almal trane in ons oë as die volkslied gesing word, en ons almal is oorstelp as iemand op die dorpsgroepie op facebook benoud vra dat almal moet help soek na hulle lieflinghondjie wat uitgekom het, en dan laat weet die hondjie is ongedeerd gekry.
Ons luister lekker saam hoe iemand vertel hoe hulle gelag het vir ‘n soveelste heruitsending van ‘n Leon Schuster-fliek, en ons lag hartlik as een vrou vertel hoe haar ma haar tande in die branders verloor het, en toe sy gaan vra by die lewensredders se kantore of iemand nie dalk haar tande daar ingegee het nie, toe trek hulle ‘n groot laai vol tande oop, en sy moet maar soek. Ons lag, ons huil, ons filosofeer, ons terg, ons betoon meegevoel, ons verstaan. Want ons deel een erfenis, een land. Ons het ‘n groot gemeenskaplike snypunt.
Ek loop daarna deur my huis, peinsend oor hierdie erfenis-ding. Ek sien soveel dinge wat wys wie ek is, waar ek vandaan kom. My erfenis. Ons erfenis. Myne en almal daar by die kliniek en by Shoprite. Ouma se gehekelde doilies (in my man-cave weggesteek.) Die ballerinapop met haar uitstaanrok wat bo-oor die ekstra toiletrol op die toiletbak gesit word. (In die garage in ‘n houer.) Die tapeserie van die Voortrekkermonument wat ouma gemaak het (in die karoohuis opgehang.)
Die Charles Jacobie en Min Shaw-plate in my rak. Johannes Kerkorrel en Piet Botha. Anton Goosen en Laurika Rauch. Bacchus Nel en Gian Groen. Gè Korsten en Gert Potgieter. Koos du Plessis. Margaret Singana en Taliep Petersen, Johnny Clegg en Sipho Hotstix Mabuza. (Gwendolene by die kliniek het gesê Kurt Darren kan enige tyd sy skoene onder haar bed kom insteek.)
Die Supersonic-radio langs my bed wat Saterdagaande U eie Keuse op RSG speel. Buurman wat malvas uithaal, en op die heining neersit as ek dit dalk wil plant. Breyten Breytenbach en Andrè P Brink. Ingrid Jonker en Herman Charles Bosman. Dana Snyman en Deon Meyer. Van Wyk Louw, Nadine Gordimer en JM Coetzee.
Eensklaps besef ek hoe ryk ek geërf het. Nie aan geld nie, maar aan hartsdinge, omring deur hartsmense wat dieselfde as ek dink, oor dieselfde dinge as ek lag. Mense wat soms, op die mees onverwagte oomblik, met ‘n skreeusnaakse opmerking kan kom. Wat vir die lastige buitelandse toeriste agterna skreeu: “Moenie soe wiesie man…!”