
Geniet nog ‘n aflewering van “So is die Lewe” uit die pen van Marius Britz.
DIS Mý MENSE, DIè.
Dit is opvallend hoeveel gebeure in die buiteland, veral vanuit Amerika, die afgelope tyd nuwe debatte laat oopbreek het in ons land. Een van die mees bespreekte aspekte op sosiale media gaan juis oor identiteit, en vele daarvan is eerder negatief en afbrekend as wat dit ons lei tot verdere verstaan en helderheid. Die soms oordrewe beginsel van inklusiwiteit het noodwendig daartoe gelei dat baie van die geykte persepsies, soos byvoorbeeld in die radiowese, omroepers en besluitnemers en hulle keuses van temas van programme en onderwerpe van openbare belang ten diepste raak.
Die spesifieke vraagstukke reik veel dieper as wat dit op die oppervlakte lyk. Diè wat pro-immigreer is, teenoor diè wat vasstaan daarby dat hulle vir geslagte reeds hier woon, en Suid Afrika hulle enigste tuiste is. Dan is daar ook by baie ‘n nuwe denkrigting oor hoe jy ‘n groep mense moet identifiseer. Jong mense het nie meer noodwendig dieselfde sentimente oor die geskiedenis, die kerk, kultuur en taal van die groep waaraan hulle behoort, soos wat hulle ouers het nie. Onder alle bevolkingsgroepe is hierdie tendens merkbaar.
Wat jou as plattelander van Namakwaland, hier in die Hardeveld, Boesmanland en Knersvlakte veral tref, is hoe diep die wortels van tradisie en oorgeërfde gebruik steeds rotsvas geplant is. In plekke waar ek gewoon het, soos Trichardt en die Hoëveld, was die kohesie en wisselwerking tussen mense anders. Omdat groot maatskappye meestal hulle eiesoortige kultuur en rangorde het, en mense gedurigdeur kom en gaan, tree daar maklik ‘n ander dinamika in as op die platteland.
Hier is die inwoners baie meer tradisievas, en ten nouste aan mekaar verbind deur die boerdery, familiebande en geslagte se verbintenis aan grond en tradisie. Die gemeenskap is ook veel meer homogeen, en veral die langdurige droogte maak hierdie verbintenis aan mekaar sterker as in groter voorstede en dorpe. Tradisies speel ‘n groot rol. Ek is byvoorbeeld bewus van vier boeremusiek-orkeste wat in die hier gemeente bestaan, en gereeld optree regoor die land. By een basaar het hulle die heel tyd gesit en musiekmaak.
Ek was die afgelope naweek op een van die buitewyke se vrouebasaar. Dis ‘n unieke kenmerk van so uitgestrekte gemeente met ver afstande grondpad; elke wyk funksioneer in ‘n groot mate op hulle eie soos ‘n stadsgemeente, met buitedienste en basaars twee keer per jaar ensomeer. Dis veel meer as ‘n kerklike aktiwiteit, dit is ook ‘n samekoms van mense wat op afgeleë plase woon, ver van mekaar, en dan die geleentheid gebruik om te kuier, te bespiegel oor die reënvalmoontlikhede, om te verneem na mekaar se welstand, en dan die uitruil van stories en onthou-dinge van die verlede.
Opvallend is die byname wat mense het, wat reeds jare aankom. As jy praat van broer Sê-maar-Swanepoel, sal min mense weet van wie jy praat. Maar praat van Piet Koker, en almal weet onmiddelik wie dit is. Die stories is kostelik, en kort-kort bars daar ‘n heerlike gelaggery uit. Tipies Tolla van der Merwe-wêreld en stories, met eiesoortige taalgebruik, aksent en sêgoed. Met ‘n kosbare manier van dinge sê, soos die volksrym “Ou sontjie sak mos weg” wat deur NP van Wyk Louw in die Boesmanland opgeskryf, en deur Randall Wicomb getoonset is.

Jy belèèf die wortels van die Namakwaland by so ‘n basaar. Heerlik, ontspanne, almal groet mekaar met ‘n handdruk of omhelsing, almal ken mekaar, en kindertjies hardloop oral rond en speel. ‘n Jong seun kom gee jou ‘n stewige handdruk, stel jou voor aan sy maatjie, en sê oom, hierdie is Stefan, my agterkleinneef. Jong mense, ou mense en bejaarde mense is deel van een groot familie. Die jongste is ‘n paar maande oud, die oudste een 98 jaar. Daar word nimmereindigende bakke en bakke vleis gebraai vir die ete: saaltjops, boudtjops, plaaswors, skaapribbetjies en blaaie. Dis nou na al die proeëry en poedingetery voor die hoofmaal, met nog bakke poeding wat wag vir ná ete. Braaibroodjies, en meer soorte slaaie as wat een mens op sy bord kan skep as hy van elke soort een lepel vol sou vat. (As nagedagtenis: ek as oud-Transvaler het my stywepap en sous gemis…) Dan word daar gekuier en geëet, sommige skep ‘n tweede rondte, en dan bly daar nog genoeg kos oor vir ‘n peleton infanteriesoldate op die grens.
Dan die hoogtepunt: die veiling. Die ouderling wat optree as afslaer is baie gevat, vinnig met sy humor. Waarmee begin ons? Een piesangbrood! Het ek R500? En dan gaan die bod net op en op. R550-00, R600-00, R650-00… R1000-00 het ek! Oom Gert, hy is joune! Watter bargain! So word die een na die ander item opgeveil teen uitstekende pryse. Almal lag spontaan, hulle bie en koop met oop harte en hande.
Skielik beland daar ‘n item op die tafel: een pakkie sigarette. Die afslaer sê: man, ek kan hierdie aanbeveel. Ek rook dit self! As hy sy sakke klap om die skare te wys, ontdek hy dat iemand stilletjies sy vol pakkie sigarette uit sy sak gesteel het, en vir die veiling geskenk het. Die afslaer koop sy eie pakkie sigarette terug vir R500-00. As hy die pakkie oopmaak, sien hy dat daar net 19 sigarette in is. “En dan het hy wragtig nog een gerook ook!”, merk hy op. Na nog ‘n paar goed opgeveil is, beland daar ‘n verweerde, voosgedrade pet op die tafel. Nadat die bod by R200-00 verby trek, merk die afslaer op dat dit sy eie pet is, ook stilletjies van sy kop afgesteel en op die veiling geplaas. “Man, ek koop hierdie pragtige hoed vir R1000-00!” bie hy dan en slaan die bod op homself toe. Daardie een vrouebasaar van een wyk samel meer geld in as ‘n gemiddelde jaarlikse basaar van ‘n stadsgemeente. Op pad terug na die pastorie toe, deur die dorre Boesmanland se stofpaaie, sê ek vir myself:
“Dis mý mense diè.”