Saturday, January 4, 2025

So is die Lewe: Die Reis na Binne

Bookmark
Bookmarked

Die diepste, verste reis wat enige mens kan onderneem, is die reis na binne. Soms kan jou innerlike reis uiters dualisties wees; verruklik mooi, oorweldigend en aangrypend, maar op onverwagse draaie en wendings eweneens ontstellend en verpletterend. Die dieptepunt is dan juis daardie gevoel dat jy beheer verloor, dat jy nie toegerus is om die lewe te lèèf soos wat jou persepsie van leef altyd was nie.

Jy pak as jongeling die lewe aan met hierdie groot, dog ongedefinieerde persepsies van wat kan wees, dikwels onwetend dat die meeste van jou adollesente verwagtinge van gayyim, of die lewe, naief en onvoltooid is. Dan gebeur die lewe met jou, en gaandeweg begin daar onverrekende invloede inspeel in jou bestaan: jou ervaringe wat bewustelike en onbewustelik jou menswees gevorm het, goed en sleg, sol y sombra.

Die seerkry en mislukkings, die verleenthede en fobies, die onderdrukte en latente onderbewuste van ‘n empiriese bestaan waarlangs jy gevorm is, begin mettertyd na vore kom, soms op die mees ongeleë en blatante maniere.  Dan is dit soos ‘n ballon onder water waarvan net die bekkie bo die oppervlak uitsteek. En eendag, op ‘n gegewe oomblik, is dit een klein prikkie, een klein insident, wat ‘n vulkaan laat oopbars wat jou weerloos en verslae laat oor die intensiteit van jou reaksie daarop.  Dan leef jy nie, want leef kan soms ‘n inperkende term wees.  Dan begin jy eksisteer, in die terminologie van Martin Heidegger.

Uiteindelik, op ‘n dag, begin die sleurgang van die lewe jou oorweldig; word jy ‘n bestaan wat jy nie kon voorsien het nie, word jou lewe een fenomeen wat die eksistensialisme, ten spyte van hulle siniese lewensbeskouing, die beste beskryf:

In die Romantiek, die tydperk van die mens se ietwat oordrewe vertroue op homself en sy prestasies, is grootse kuns, letterkunde, musiek en bouwerk gelewer. Argitektoniese prestasies was bykans oordadig, soos katedrale, kerk- en staatsgeboue, meubels, selfs dinge soos standbeelde, skilderye en straatligte was tekenend van ‘n uitbundige toekomsvisie, en allemintige vertroue van die mensdom in homself en sy eie vermoëns. Barok word die vaandel van die mens se grootse vermoëns.

Van die grootste komponiste van alle tye kom uit hierdie era. Beethoven, Bach, Handel, en die flambojante Verdi.  Daarna het die industriële rewolusie gekom, en treinstelsels, motors en vliegtuie, masjinerie vir massaproduksie, ontwikkeling van mediese prosedures en medikasie, gesofistikeerde wapentuig soos tenks, vegvliegtuie, helikopters en masjiengewere is ontwerp, en voortdurend meer skrikwekkend en verwoestend ontwikkel.

Toe kom die Eerste Wêreldoorlog, en daardie swieige en oordadige skeppings van die mens word eenvoudig platgeskiet, die katedrale en museums met hulle kosbare en onvervangbare bewyse van eeue se beskawing gebombardeer en verwoes, die kunswerke vernietig, trotse en hoogs opgeleide soldate in loopgrawe soos rotte doodgeskiet. In sy grootheidswaan het die mens gemeen dat daardie oorlog alle oorloë sou be-eindig. Miljoene soldate en burgerlikes sterf.

Een en twintig jaar later breek daar weer ‘n Tweede Wêreldoorlog uit, nog meer skrikwekkend, en stootskrapers stoot miljoene lyke in massagrafte in.  Mense word in miljoene in gaskamers gefussileer, ledemate word afgeskiet, miljoene burgerlikes sterf van wonde en ontbering en blootstelling.  Die grootheidswaan van die Romantiek is daarmee heen.

Toe kom daar nuwe denke. Eksistensialiste, soos die grote Martin Heidegger in sy Sein und Zeit, begin met ‘n siniese en dikwels nihilistiese analise van bestaan. Hy gee lewe ‘n ander naam: Dasein. Daarwees, eksisteer. Dis ander as lèèf, sonder noodwendige positiewe kenmerke. En die mens is Dasein, die fisiologiese fenomeen wat asemhaal, beweeg en geluide maak.  Jy word in jou bestaan ingewerp, (Gewurfenheit), soos ‘n klip wat in ‘n dam ingegooi word.

Hier oorleef jy deur voortdurend keuses te maak, elke oomblik, waarin jy poog om so maklik te eksisteer totdat jy weer kan ophou om te bestaan, of opskif uit die lewe, en ophou om Dasein te wees.  Hierdie is jou reis na binne; om te oorleef sodat jy so pynloos en maklik as moontlik weer kan deel word van die heelal, die “syn van die syndes”. 

Die lewe is dus niks anders nie as die oorlewingsproses tussen geboorte en dood, tussen Gewurfenheit en Tod, en dit word Untwerp genoem, jy is die keuses wat jy maak.

Karl Jaspers, ook ‘n Eksistensialis, word egter in hierdie donker fase van denke die “filosoof van hoop” genoem. Hy beskryf lewe as ‘n reis soos ‘n skip wat sorgvuldig sy roete karteer deur stormwaters. Die kanse is baie goed dat daardie skip op die rotse kan loop.  Maar, meen Jaspers, as dit gebeur, kan jy een van drie dinge doen: of lag, of huil, of van vooraf begin karteer.

Oor hierdie aspek stem Jaspers en Heidegger saam. Kartering en Untwerp is ‘n voortgaande proses. Heidegger sien egter die uiteinde as nihilisties, niksseggend, sinloos, die opgaan in ‘n ewige nietigheid, terwyl Jaspers die deur ooplaat vir ‘n beter keuse, wat beter gevolge vir jou as mens kan inhou indien jy die regte keuses maak. 

In die midde van jou Anfechtungen, soos Maarten Luther die stryd om die negatiewe beskryf, kan jy bewus wees van ‘n God wat die Parakleet gestuur het, die een wat langs jou loop (para) en jou heeltyd roep (Grieks kaleo of call soos in Engels) Die Een wat jou help om jou lewe te Unwerp. Te karteer.

Wat sal ons sê van al hierdie dinge, vra Paulus. Die lewe is ‘n toenemend moeisame reis na binne. Die las op jou rug en in jou hart raak swaarder en swaarder. Maar jy kan kies om die lewe te geniet met sy volle geleenthede en positiewe potensiaal. Jy kan kies om te leef tot jy sterf.  Sodat die syn van die syndes vir jou sterwe die Ewigheid behels.

Of jy kan by voorbaat opgee.