Daar word baie stories vertel oor kersdae in die wêreldoorloë. Soos byvoorbeeld dat die Engelse en Duitsers op 25 Desember 1914 nie net op kersdag die oorlog gestaak het nie, maar dat hulle uit hulle loopgrawe gekom het en mekaar gegroet en gesels het en selfs persentjies soos sigarette en sjokolade vir mekaar gegee het. Dat hulle selfs sokker teen mekaar gespeel het. Hulle het kans gehad om hulle dooies te begrawe, en het mekaar gehelp om gewondes te verpleeg.
En hulle het saam gesing: die Engelse Silent Night, Holy Night, en die Duitsers Stille Nacht, Heilige Nacht.
Mens dink dan: Wonderlik! Darem fantasties dat Kersfees vrede bring vir vyande op die dag. Vir ‘n oomblik kan mens dink aan hoe ontspanne en vredevol dit moes wees vir die mense wie se lewens elke dag aan ‘n draadjie gehang het. Maar as jy net ‘n bietjie langer dink, dan tref die verskriklike gedagte jou: Môre, ‘n dag na kersfees, skiet die Duitsers en Engelse weer op mekaar, is “Merry Christmas” op die tenk vol modder en ploeg kanonkoëls deur mense. Net die volgende dag is sangboekies weggepak en is dit ‘n geveg om jou lewe. Ja, dan skiet die man wat gister nog sy vyand se hand geskud het en ‘n sigaret vir hom gegee het, hom dood. Mense wat die sokkerbal geskop het, gooi handgranate na mekaar. Hulle skiet mekaar om dood te skiet. Op 26 Desember 1914 was dit een van die bloedigste veldslae van die Eerste Wêreldoorlog, die oorlog wat veronderstel was om alle ander oorloë te beeindig.
Miskien dink jy: “Sjoe, gelukkig is dit darem nie meer vandag so nie!” …. Ja, ons is nie in ‘n oorlog nie, maar is dinge soveel anders? Al is dit kerstyd? Die mooi versierings en liggies waarmee winkels en malls opgetooi is, die kore en die solosangers op die radio en in winkels… sommer alles. Oukersaand gaan baie van ons weer saam as gesinne en families kuier, dalk om ‘n boom met persente onder. Die volgende oggend pak ons die kerke vol omdat daar ‘n wonderlike gesindheid van vrede en sagtheid en liefde is.
Maar die pyn wag weer om die draai. Kersfees maak nie oornag stukkende huwelike reg nie. Mense wat nie werk het nie, het nie skielik weer werk na kersfees nie. Mense wat eensaam is, moet weer terug na hulle alleenheid, verlangens kom weer terug. Mense wat in sinkkayas woon, word nie die volgende oggend in ‘n paleis wakker nie. In die sakewêreld is almal na kersfees nie skielik weer ordentlik met mekaar nie.
Ek staan nou die dag in ‘n ysterwarewinkel. Tussen al die mense antwoord ‘n man sy selfoon en ek kan hoor hy praat met ‘n man van die versekering of ‘n assesor oor ‘n eis. Maar mens hoor vier rakke ver hoe hy die man vloek en dreig en uiteindelik as’t ware die foon in sy oor neergooi. En net agter hom hang kersversierings van vrede op aarde en ek wonder: Hoe is dit moontlik? Ek en jy het al soveel kersfeeste agter die rug so oud as wat ons is en steeds bly die wêreld vol haat en nyd en bitterheid en loop mense mekaar in. Die ouderdom sak ongenadiglik op jou toe. Mense word steeds vermoor en matrieks en klein kindertjies sterf in ongelukke. Weer en weer hoor ons van mense vir wie die lewe te donker geword het en hulle eie lewe neem. Dit kan maklik voel of die droom van kersfees elke keer weer in ‘n nagmerrie ontaard.
Somtyds gryp ‘n mens naarstiglik na strooihalms wanneer jy nie meer uitkoms sien nie. Wanneer daar situasies in jou lewe ontstaan wat vir jou swaar is, dan projekteer jy jou gedagtes op iets anders wat daardie omstandighede dan beter maak. Jy stel vir jou ‘n denkbeeld op van iets vêr in die toekoms, iets wat jou hele lewe sal verander te goede. Jy vlug as’t ware uit jou swaar uit na ‘n utopiese oplossing. Dit is een van die wyses waarop jou gees homself beskerm.
Wanneer ‘n mens byvoorbeeld Jesaja 9 lees, dan sien jy ook iets hiervan. Israel was in ‘n groot politieke krisis. Hulle was omring deur vyandige lande. In die noorde was daar die Siriërs, in die ooste was die Moabiete, in die suide was die Edomiete wat soos ‘n hiena op die spoor van ‘n leeu die Siriërs gevolg het om te aas wat oorbly nadat die verwoestingswerk plaasgevind het. In die weste het die Filistyne die Israeliete afgesonder van die see. Hulle het m.a.w. hulle hawestede verloor, en die handel is daardeur geknel. Binnelands het dit nie veel beter gelyk nie. Die volk was verdeel. Hulle het mekaar oor en weer beskuldig vir die toestand. Daar het grootskaalse afvalligheid plaasgevind, en hulle het gehoop om die guns van die vyandige nasies om hulle te wen deur hulle gode te aanvaar.
Onder hierdie omstandighede profeteer Jesaja. Hy praat met die volk wat in duisternis wandel, die volk wat aan alle kante omring is deur vyandige nasies. En in vers 23 van hoofstuk 8 sê hy dan ook dat die pad na die see van Galilea toe, die Jordaanstreek en die streke rondom weer herstel sal word. Die volk wat in duisternis wandel, sal weer ‘n groot lig sien.
Die eerste vraag wat die Israeliete hom gevra het, is hoe? En in Jes. 9 vanaf vers 5 gee Jesaja die antwoord: Iemand sal gebore word, ‘n Seun van Dawid, wat julle sal bevry van julle las. Hy sal ‘n koning wees, sê Jesaja. Dan gebruik hy ‘n bekende Midde-Oosterse manier om die koning wat gebore gaan word, te beskryf. Die lande rondom Israel het sterre vernoem na hulle konings, en elke punt van ‘n vyfpuntige ster het ‘n eienskap van die koning verkondig. Jesaja sluit aanby hierdie gebruik, en sê dat hierdie Messias van die Jode ook soos ‘n ster sal skyn: kyk na sy vyf eienskappe: Wonderbaar, Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. En Jesaja gaan verder: Vers 6: Sy heerskappy sal uitbrei, en hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Toe Jesus gebore is, het die sterrekykers Sy ster gesien, en vanuit die Ooste gekom om vir Hom koningsgeskenke te bring: Goud, wierook en mirre.
Vir die geknelde land Israel was dit musiek in hulle ore. Hulle het onmiddelik visioene gehad van triomfanklike veldslae en reuse oorwinnings oor die vyande rondom hulle. Hulle het gedroom oor ‘n briljante veggeneraal en meesterstrateeg wat Israelse grondgebied sou uitbrei en ‘n koninkryk van welvaart sou oprig. Vooraan sou die banier van die koning wapper: Wonderbaar, Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Die sien van die vaandel sou die vyand laat week word, het hulle in hulle gedagtes gedroom. Hulle sou nie meer in duisternis wees nie, ‘n land omring deur vyande, ‘n volk verskeur deur swaarkry nie.
Wanneer mens die evangelies lees, dan besef jy twee dinge. God se beloftes deur Jesaja het waar geword. Die Messias is gebore. Hy het al die eienskappe gehad wat Jesaja voorspel het. Hy is die Wonderbare Raadsman, die Magtige God, die Ewige Vader, die Vredevors. Maar baie mense het dit nie besef nie. Hulle het nie besef wie die lig is waarvan Jesaja praat nie. Hulle wag nog steeds op die veggeneraal. Hulle het nog steeds gedroom oor die politieke uitkoms wat sou kom. In die Nuwe Testament was die omstandighede nog presies dieselfde. Dit was net die vyand wat verander het. ‘n Groot deel van die Joodse volk het nog gewag vir die Messias om te kom, terwyl dit alreeds gebeur het. Die Seun van God is veel groter en veel heerliker en magtiger as wat die Jode selfs in hulle wildste drome kon voorstel.
Ook van ons is dit waar. In ons land en in baie mense se lewens is daar nog steeds ‘n gewag vir uitkoms. Dit maak nie saak wat die probleme is nie. Ons projekteer nog altyd vorentoe, ons dink nog steeds dikwels aan die utopie wat sal kom. As ons politiek net wil verbeter, as ons Rand net versterk, as rentekoerse net verder sal daal, as ek net ‘n werk kry, as my huwelik net sal herstel, as my kind net sy lewenswyse sal verander, Daar is duidende sulke utopieë waarop ons wag.
Terwyl die Messias gebore is. Terwyl God in elke daad uitroep: Ek het julle lief, soek ons dikwels vervaard na asiel teen die lewe se verniel. Terwyl God se belofte: Ek sal vir jou ‘n God wees oor en oor bevestig is, is ons bekommerd oor die toekoms en ons eie omstandighede en ons eie onvermoë om selfstandig die lewe in die oë te kan kyk. Want ons het dieselfde probleem as baie van die Israeliete van die Ou Testament en baie van die Jode van die Nuwe Testament en baie mense oor alle eeue: Ons het ‘n onvermoë om God raak te sien. Ons werk maar nog steeds ons eie plannetjies uit om seerkry te ontwyk. Ons bly maar steeds op soek na ons eie redding in moeilike omstandighede, terwyl die Wonderbare Raadsman, die Seun van God, alreeds meer as 2000 jaar terug gebore is.
Dit is die ironiese: In hierdie Kersgety waarin ons nou ingaan, gaan daar derduisende mense wees, ook gelowiges, wat kersbome in hulle huise het, wat Kersgeskenke vir mekaar gaan gee, wat ‘n Kersvakansie saam met familie en vriende gaan deurbring. Maar die Christus van Kersfees gaan nie in hulle harte en lewens wees nie. Luister maar na die swartgalligheid en mismoedigheid onder mense, oral in die wêreld. Mense wat sê: Ek weet nie, ek wonder, ek is bang, ek hoop. Terwyl nie net die kerke nie, maar ongelukkig ook die media en advertensiewêreld ons elke oomblik daaraan herinner: Dit is Kersfees. Vir gelowiges behoort dit te beteken: Ek lewe nie meer in duisternis nie. God se Seun is veel groter as enige oplossing of raad wat ek vir myself kon probeer. Hy gee vir my vrede in die wete dat God sorg. Daarom sal geen haar van my hoof val nie. Daarom sal ek nie naarstiglik projekte probeer en planne loods en ontsnaproetes soek waardeur ek myself uiteindelik kan vernietig nie.
Jy wat dalk in duisternis wandel voor kersfees. Laat die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, in hierdie feesgety deel wees van jou denke. Laat jouself oor aan die liefdevolle sorg van God. En, al sou jou fisiese en materiële behoeftes nie verander nie, jou gesindheid sal verander. Dan kan jy voluit leef, ‘n kwaliteitlewe, omdat die Seun van God ook in jou lewe ‘n verskil kom maak het. Vir jou is ‘n seun gegee. Sy ryk kan ook in jou lewe ‘n verskil maak. Die Kind van Betlehem is die uitroepteken op jou vraagteken.