Tuesday, July 2, 2024

Umuzi Kunstefees

Bookmark
Bookmarked

Hierdie Blog het voorheen verskyn by: https://lakeumuzi.co.za/umuzi-kunstefees-blog

Mpumalanga kry ‘n splinternuwe kunstefees by  – 4-7 Julie – in Secunda.

Hier kan name soos Frank OppermanLizz MeiringMarion HolmNeil SandilandsMelt SieberhagenHerman Lensing en Lochner de Kock gesien word.

Die baie bekende LEFRA produksies bring twee van hul mees gewilde teaterstukke na die Umuzi Kunstefees naamlik; Liewe Heksie en Dinner for One/ Sopper vir Een.

Donderdagprogram:

Donderdag 4 Julie skop die fees af met ‘n Laservertoning deur LaserX wat die dorp gaan verlig op maat van musiek deur blues-rock musikante Hollowbody en Albert Frost, die welbekende kitaarspeler en sanger wat ook ‘n SAMA gewen het vir beste “rock”-album in 2017.

Laser X

Liewe Heksie

Vrydagprogram:

Liewe Heksie maak vroegoggend die fees oop, besem en al. Hierdie kinderteater was die laaste verhoogstuk wat deur Verna Vels geskryf is voor haar dood. Die kleingoed word deel van Heksie se lewe en sal ure se pret en genot beleef..

Marion Holm in haar eenvroustuk Marion Holm, kyk met gans ander oë na die lewe en deur haar lense lyk gewone, alledaagse dinge snaaks… vrek snaaks

By Justino’s restaurant wys die televisie-sjef en Sarie se kosredakteur, Herman Lensing sy slag agter die potte.

Die nimlike Lizz Meiring vermaak ons met twee vertonings waarvan Van die rak af gebasseer is op die Skandinawiese konsep, waar nie ‘n boek uitgeneem word nie, maar ‘n mens. Die persoon, wat deur die gehoor gekies word, vertel sy lewensverhaal, met dikwels ‘n skreeusnaakse nadraai.

LEFRA se produksie Dinner for One, was vir dekades die televisie produksie wat families om middernag voor die televisie sit gemaak het. “Same procedure as last year Miss Sophie?:, is vandag nog ‘n frase wat spottendersgewys gebruik word.

Vrydagaand word afgesluit wanneer Tonya Koenderman vir ‘n kabaretvertoning gaan sorg wat lank die middelpunt van bespreking sal bly. Koenderman word nie verniet as een van die mees dinamiese kabaretkunstenaars beskou nie. Sy is ‘n klein pakkie dinamiet en het 16 maande lank die rol van Liza Minelli in die Sun City-verhoogproduksie Beyond Belief vertolk. Die vertoning met Tonya sluit ‘n 2 gang buffet-ete in waar almal saam kan eet, lag en dans die laataand in.

Dinner for One | Sopper vir Een

Tonya Koenderman

Saterdagprogram:

Saterdagoggend skop af met kosgeure deur die geliefde en welbekende akteur, sanger, en skrywer Lochner de Kock. Hy deel van sy geheime om jou kos lip-aflek-lekker te maak. Lochner vertel ook oor sy boek Liegende in die Living Art Gallery.

Lizz Meiring se tweede vertoning is Kameras, Konserte en Kleedkamerstories.

Die vertonig is ’n klets en skets konsert en Lizz vertel van die woelinge en waansin, die tragedies en triomfe, die chaos en kreatiwiteit, die beroemdes en berugtes, die vreugdes en vertwyfelings van ’n lewe as aktrise.  In hierdie uiters vermaaklike stuk, vol verrassings oor die vermaaklikheidsbedryf, kry die gehoor ’n agter-die-skerms ervaring soos nog nooit vantevore.

Die Emmy-benoemde akteur en Sama-benoemde liedjieskrywer Neil Sandilands bring sy aangrypende Afrikaanse musiek Umuzi Kunstefees toe. Sy optrede saam met die topmusikante Schalk Joubert, Frank Freeman en Ronan Skillen vorm deel van sy Land & Sand – toer.

Frank Opperman hou Reünie by dieselfde skoolsaal, maar 43 jaar later met die matrieks van 1980. Hy is Adam Boshoff die verteller, en deur die loop van die aand kry verskeie klasmaats ’n beurt agter die mikrofoon om hul sê te sê. Lank terug het almal saam ’n tragedie beleef wat hulle nou vir die eerste keer regtig konfronteer.

Op die eish!! verhoog sal die komediant Melt Sieberhagen sorg vir genoeg pret tot die aanloop van die rugby wedstyd, Saterdagmiddag, tussen die Springbokke en Ierland.

Sondag word die fees afgesluit met ‘n Sondagmiddagvertoning en tweegang buffet-ete deur die geliefde operasanger Jannie Moolman.

Die fees is so ontwerp dat dit moontlik is om elke vertoning te kan bywoon. ‘n Kortingspakket word aangebied waar al die vertonings gesien kan word, met of sonder akkommodasie.

‘n Kontantkroeg sal by alle vertonings beskikbaar wees. (Behalwe natuurlik by Liewe Heksie)

Die Living Art Gallery het sy eie program waar uitmuntende kuns gesien kan word. Die tema “Die Blou van Onthou” word deur vier van ons bekende kunstenaar uitgebeeld. Al vier is professionele kunstenaars wat aktief deel is van die Pretoriase visuele kunskringloop: Dylan T. Graham, Danielle Malherbe, Miekie Lourens en Ronel Kellerman. Hul werk verteenwoordig verskillende mediums en verskillende onderwerpe, maar almal het die kleur blou in gemeen en bevat meer as net ‘n tikkie nostalgie.

Twee van Afrikaans se voorste vroulike skrywers van populêre fiksie gaan by Umuzi Kunstefees in Secunda hul skryfprosesse en jongste boeke met feesgangers deel.

Chanette Paul sal onder meer kom praat oor haar 50ste roman, Anoniem. En Dibi Breytenbach sal vertel waarom aktuele gebeure haar so aangryp en hoe dit in haar spanningsromans verweef word. Albei sal deur die boekejoernalis Ilse Salzwedel uitgevra word.

Om die waarheid te sê, die fees gaan sorg vir genoeg om volwassenes en kleingoed besig te hou. Benewens die kunste en verhoogoptredes is daar hope aktiwiteite en veilige speelplekke vir kinders.

Alle inligting en kaartjieverkope is hier verkrygbaar.

Vir meer inligting, kontak

Alma 083 657 5411

KOOP KAARTJIES

MEER OOR UMUZI KUNSTEFEES

Neil Sandiland & Band

Neil Nachtrein

Melt Sieberhagen

Frank Opperman Reünie

Lizz Meiring

Marion Holm

About Alma Swart

Alma Swart is ʼn entoesiastiese aspirantskrywer wat enkele kortverhale gepubliseer het. Haar agtergrond strek van dramaprojekte met tieners vir die gewilde fliek Klein Karoo asook die betrokkenheid by feesbeplanning vir die KKNK en InniBos. Deesdae is sy deel van die Lake Umuzi feesspan waar haar passie vir beplanning en mense uitgeleef kan word.