Ek het die voorreg gehad om twee keer oor te slaap op die plaas buite Nieuwoudtville waar beide reekse van Nêrens, Noord Kaap, geskiet is. Hierdie verhaal is tegelykertyd aangrypend mooi, maar ook diep ontstellend.
Dit vertel die verhaal van die patriarg Lourens Adendorf, en sy drie seuns, Frans, Ronnie en Andries. Reeds in die eerste episode word jy ingetrek in die broeiende onderbewussyn van hierdie vier mans. Die seuns se ma is op ‘n jong ouderdom in ‘n ongeluk dood, en die verhaal begin waarin die effek van haar dood op haar seuns en man begin uitrol.
Elke seun het as volwassene hulle eie wroegings. Die oudste, Frans, is broeiend en onvergenoegd, met ‘n onderdrukte woede. Die tweede seun, Ronnie, word ‘n volslae alkoholis, terwyl die jongste, Andries, hierdie rustelose gees is wat van land tot land swerf op soek na iets wat hy self nie weet waarna nie. Die pa, Lourens, wat nooit eintlik enige emosionele verhouding met sy seuns gehad het nie, is steeds teruggetrokke, man van min woorde, maar sy woord is wet, al is sy seuns almal al volwasse mans. Niemand durf hom teëgaan nie.
Dan kom al die wendinge in die verhaal, wat vir baie mense ontstellend kan wees. Die pa, wat sy vinger op elke faset van die boerdery gehad het, kom agter dat hy ‘n probleem het. Hy vergeet al hoe meer. Naderhand dwaal hy in die veld rond, sodat almal hom moet soek. Hy steek sy die aard van sy siekte weg, maar skryf in ‘n klein notaboekie wat hy in sy sak saamdra: My naam is Lourens Adendorf. Ek is ‘n boer. Ek bly op Nêrens, Noord Kaap. Hy is gediagnoseer met Alzheimer-siekte.
Dit raak enige ouer mens diep, en ook elkeen wat dalk ‘n ouer het wat hierdie simptome begin wys. Dit laat mens dink aan die gedig van Elisabeth Eybers in Verlore plek. Hierdie gedig fokus op die tema van vervreemding, en die verlies van ‘n innerlike ruimte van gemak en veiligheid. Hierdie sekerhede word vernietig deur ‘n innerlike soeke na iets wat eens helder was, en ‘n ontsaglike weerloosheid en verganklikheid.
Dit maak mens weerloos en verslae / dat iets so flonkerend soos jou gees / kan ophou om te wees.
Soos wat baie mense ouer word, kom hulle agter dat hulle geheue nie meer so goed is as voorheen nie. Soos Koos du Plessis sing: “gesigte, drome, name, word deur die wind verwaai…” Dit is die gevoel dat jy nie meer beheer het oor jou omstandighede of jou innerlike self nie. Jy word kwesbaar vir verval, broos. Jou vermoë om in beheer en vol rasionele energie te wees, word afgestomp. Jy word ingetrek in ‘n grys wêreld waar jy nie meer kan reken op jou vlymskerp geheue nie.
Dit manifesteer op vele maniere. Jy verlê jou bril of motorsleutels ‘n paar keer per dag. Soms kry jy dit nooit weer nie, en moet dit noodgedwonge vervang. In momente van jou lewe, soos toe jy uit die motor uit geklim en die garagedeur oopgemaak het, het jy die sleutels verloor. Hoe jy ook al dink en soek, jou geheue en gedagtes is net ‘n grys newel oor daardie oomblikke.
Jy ontmoet nuwe mense, maar kan glad nie hulle name onthou nie. Selfs ook nie hulle gesigte nie. Dan gaan dit selfs nog verder. Jy kan in ‘n gesprek nie die naam van ‘n sekere lied, of plek en persoon, of skrywer se naam onthou nie. Jy begin al hoe meer leef na binne, en dit wat jare terug gebeur het, kom weer na vore vanuit jou onderbewussyn. Derhalwe hoor mens dikwels in ‘n tehuis vir afgetredenes dat dieselfde stories oor en oor vertel word. Jy betrap jouself ook dat jy dieselfde staaltjies en grappies herhaaldelik vertel.
Jy onthou die meeste van die kinders wat saam met jou op skool was se name, maar jy kan nie onthou wat jy gister gedoen het nie. Jy vergeet om sekere rekeninge te betaal, en later kan dit selfs gebeur, soos die afgelope tyd met my, dat jy kilometers ver in vierde rat ry, en vergeet om oor te skakel na vyfde rat toe. Veral in sekere beroepe kan dit jou in ‘n groot verleentheid laat beland. Beroepe waarin jy met mense en woorde en oorwoë argumente werk, soos in die onderwys, of die bediening. Of as advokaat in die hof, of selfs in enige vergadering.
Dit is hartseer om met iemand te praat wat jare se opleiding en ervaring het, en uiters briljant was in hulle loopbaan, en dan te ervaar dat daardie persoon maar net flouerig glimlag as jy met hulle praat, en met oë vol onbegrip na jou staar, sonder dat hulle jou hoegenaamd herken.
As jy ooit met so persoon te doen gehad het, is jou oorweldigende indruk een van agteruitgang. Nie noodwendig fisies nie, maar die verval van ‘n gees. Dit maak mens weerloos en verslae, soos Eybers tereg skryf. Want jy word gekonfronteer met jou eie verganklikheid, met die moontlikheid dat jy self naderhand versorg sal moet word. Dit is die realiteit van ouer word, maar ook van siektes soos demensia of Alzheimers. As jy ook nog tydens doktersbesoeke en skanderings gehoor het dat jou are verstop raak, onder andere ook jou nek-are, word die realiteit hiervan net meer skrikwekkend.
Cas Vos vertel iets van die aanvaarding van die realiteit van oudword, en ‘n krimpende wêreld as hy vir sy vrou wat aan Alzheimers ly, hierdie roerende gedig Reis skryf:
Wanneer die daeraad se rooshande wink, moet jy begin inpak vir die lang reis / dan moet jy die gode aanroep, roep en vra, dat hulle jou onder hulle vlerke sal dra / moenie bang wees nie, Skone / vra dat jou reis lank mag duur / dat ‘n sluier sterre die nag sal bedek / lenteparfume jou neus sal bereik / en amandelbome in volle drag / soos verlangende bruide sal wag / ………….. / want jy sal weet / hier digby / is die ver, ver land. / Mag die reis na die nog onbekende jou alreeds die reuk van nonnetjiesvye laat smaak / jou hart soos ‘n bruid s’n laat swel / om jou fleurig, Skone, aan daardie aarde te bemaak. / Ek weet nie hoe om vir jou te sê / elke dag se gestadigde dood / verstomping van die sinne / trae sloping, gruwelike misverstand / die wind kniel in die stof en snik ontroosbaar / omdat jy ‘n wil-niks-weet geword het / uit jou mond het water gemurmel / nou kou jy net droë korsies / jou hande was porseleinkelke / waarin ek my liefde kon skink / en nou verstrooide skerwe / ek wat so behendig saam met jou die liefde gemaak het / ek is nou vir jou ‘n wildvreemde / in ‘n spieel gewaar jy vaag, en weg / die buitelyne van ‘n opgedoemde / ek weet nie hoe om vir jou te sê nie / ek sal jou altyd liefhê / totdat die dood jou, liefste / van my afsny.